Heksie in feetjieland

Standard

Heksie in feetjieland se eerste hoofstuk wat in die Slingervel van Maart 2014 verskyn.

Slingervel (2)

HEKSIE IN FEETJIE LAND

 

EEN.

Katryntjie was altyd ‘n vrolike heksie, maar sy is ook ‘n baie nuuskierige heksie. Liewe Katryntjie sal egter nooit iemand seer maak nie. Sy vlieg bedags oral rond op haar besem en kyk waar iemand haar dalk nodig het. Sy wil  graag mense en diere help wat met iets sukkel.

Ongelukkig is die mense in die dorp bang vir Katryntjie, en hulle jaag haar weg as sy in die dorp kom. Daaroor is Katrynjie nogal baie hartseer, want sy wil tog so graag maats maak. Nou is Katryntjie nie meer so vrolik nie. Die mense is bang vir haar omdat sy kan toor. En sy trek altyd ‘n lang swart rok aan met ‘n langpunt swart hoedjie op die kop. Boonop is Katryntjie glad nie mooi nie. Haar neus is effens lank en dun, en haar oë is klein, amper swart en kyk altyd stip na mense. Haar lippe is ook twee dun strepies, en lyk altyd onvriendelik al is sy nie so nie. Eintlik is haar gesiggie, armpies, beentjies en hande vol klein plooitjies wat haar nog leliker laat lyk.

Die grootste probleem van Katryntjie, is egter omdat sy nooit groot geword het nie. Sy het ophou groei toe sy omtrent so groot soos ‘n feetjie is – net ‘n klein bietjie groter. Gewone mense is baie, baie groter as sy, en juis daarom glo hulle sy is ‘n groot bose heks wat haar self so klein gemaak het om maklik te kan wegkruip wanneer sy iewers bose toorwerk gedoen het.

Katryntjie het al gedink en gedink hoe kan sy tog vir die mense bewys sy is ‘n goeie heksie en sal niemand kwaad aandoen nie. Maar niemand wil haar eers toelaat om hulle met iets te help nie, want hulle is bang sy verander hulle in iets anders met haar towerkragte. As hulle maar weet hoe baie beseerde diere sy al in die veld gehelp het, sal hulle seker anders voel, maar hulle weet nie. Sy kan ook nie naby genoeg aan hulle kom om vir hulle te vertel nie, en boonop wonder sy in elk geval of hulle haar sal glo.

Katryntjie woon in ‘n groot ou posbus wat iemand op die ashoop weggegooi het. Dit lyk soos ‘n groot bruin skoen met ‘n groen dakkie op. Natuurlik was dit hopeloos te swaar vir Katryntjie om dit te dra na die krans toe waar sy daarin wou woon. Gelukkig vir haar, ken sy ‘n groot koei wat haar goedgesind is. Ou Bella. Sy het eendag vir Bella gehelp om haar poot uit ‘n stuk doringdraad los te maak, en Bella het gretig die ou skoenposbus met haar bek vas gebyt en vir Katryntjie na haar krans net onder die berg toe gedra.

Net onder die krans het Katryntjie vir haar ‘n groentetuintjie gemaak waar sy die lekkerste ryp rooi tamaties, sagte groenboontjies, wortels, aartappels en uie gekweek het. Party van die plante is groter as sy self. Om nie eens te praat van die heerlike soet aarbeie wat sy laas week gepluk het nie. Ja, sy woon lekker hier, want die boer en sy mense kom nooit hiernatoe nie. As sy tog net nie so eensaam was nie. Dis net ou Bella wat so nou en dan hierheen wegloop en vir haar kom hallo sê en van die groente vreet wat te groot vir haar self is om op te gebruik.

Baie dae sit Katryntjie voor die huisie op die krans en krap sommer net met ‘n stokkie in die gaatjies van die rots rond wanneer sy so baie alleen voel. Dan rol daar groot trane oor haar rimpelwangetjies, want dis seer in haar hart.

 Vandag is weer so ‘n dag. Alles word dof voor haar oë toe sy die trane van hartseer en eensaamheid nie kan keer nie. Die krapstokkie val sommer uit haar hand uit en haar dun lyfie ruk van die snikke.

“Moooo… moooo, ai, liewe Katryntjie, hoekom is jy dan vandag so hartseer?” vra ‘n diep stem meteens hier bo haar en sy sit verskrik regop.

“O, dis jy, Bella. Jy het my groot laat skrik. Ek is sommer net baie, baie alleen, so eensaam  en dis nie lekker nie.”

“Ekskuus, Katryntjie, maar ek kom vra jou raad,” antwoord Bella en kom nader. Nou sit Katryntjie penregop. Niemand vra ooit haar raad nie. Dan vernou haar klein ogies en sy kyk stip na Bella se kop.

“Bella, wat sit daar tussen jou ore op jou kop?” vra sy en staan nou regop op die rots.

“Katryntjie, dit is nou Tinkels, die ma-feetjie van Feetjie land.”

“Sjoe, maar sy is darem baie mooi. Kyk net die blink, swart krulhaartjies, die mooi blou ogies, en sagte pienk lippies. En die dun vlerkies waarmee sy vlieg lyk so sag. Ooo, en sy het ‘n baie, baie mooi geel rokkie aan. Kyk net hoe blink haar towerstaffie! Waar kom sy vandaan? Waar is Feetjie land?” vra Katryntjie nou nuuskierig. Sy het nou skoon van haar hartseer vergeet!

“Jy kan maar met my praat, Katryntjie. Ek verstaan alles wat jy sê,” praat Tinkels daar van Bella se kop af en lag mooi sag met Katryntjie.

“Feetjie land is net aan die agterkant van hierdie berg waar jy woon, Katryntjie. Dis ‘n baie groot stuk grond vol geplant met allerhande kleure blomme. Dit behoort aan ou tante Ragel. Mense betaal haar om na haar mooi tuin  te kom kyk. Die geld wat sy daarvoor kry, gebruik sy net ‘n klein bietjie vir haar self om van te lewe. Die res gebruik sy om elke keer weer nuwe blomplantjies te koop en te plant wanneer van die ouer plante dood gaan. Ook betaal sy vir Pietman, ‘n jong seun wat die tuin vir haar mooi skoon hou.

“Tinkels en nog baie ander feetjies woon in die groot tuin. Hulle vlieg van blom na blom sodat die een se stuifmeel aan die ander s’n moet raak, anders gee die blomme nie nuwe saadjies vir die ou tante om weer te plant nie. Tant Ragel weet van die feetjies, en sy hou baie van hulle, want hulle doen die werkie vir haar verniet,” vertel Bella.

“Haai, Tinkels, dan is julle mos baie gelukkig. Julle is ‘n klomp maatjies bymekaar en julle woonplek is veilig daar by ou tante Ragel,” sê Katryntjie verwonderd.

“Ons het altyd lekker daar gewoon. Vir baie jare, maar ons is nou baie bang. Ons woon nie meer so lekker veilig daar nie. Daar het verlede maand ‘n klomp groot paddas in Feetjie land ingetrek. Sulke lelike vet groen paddas met groot bekke en uitpeul oë. Hulle het al drie van my feetjie kinders opgevreet. Solank ons bo in die blomme en plante sit, kan hulle ons nie bykom nie, maar sodra een van ons dit waag om grond toe te gaan, bespring hulle ons en wil ons vang en opvreet. Hulle is baie skelm en kruip in die digte plante weg sodat ons hulle nie altyd sien nie,” vertel Tinkels.

“Sjoe, Tinkels, dis darem baie naar van die ou paddas. Weet tant Ragel van die klomp paddas?” vra Katryntjie nou bekommerd oor die mooi feetjie en haar maatjies.

“Ja, sy weet, want ons het haar gaan vertel. Sy het nie raad nie, want sy wil hulle nie doodmaak nie. Tant Ragel kan niks wat lewe doodmaak nie, sy is ‘n baie goeie mens.”

“Maar julle het tog almal towerstaffies. Kan julle hulle nie daarmee toor dat hulle sommer ou klein-klein paddatjies word wat nie vir julle kan vang en opvreet nie?” vra Katryntjie verbaas.

“Hulle is nooit almal bymekaar nie. Elkeen kruip op sy eie plek weg. Die paar feetjies wat opgevreet is, het juis té naby aan hulle gegaan om hulle met die staffies te toor, en dis juis toe wat hulle gevang is. Een feetjie het dit reggekry om een padda in ‘n paddavissie te verander. Hy swem nou in die tuin se groot spuitfontein rond en kan ons nie kwaad aandoen nie. Maar daar is nog sommer baie van hulle, en ons staffies werk nie van ver af nie. Ons moet daarmee aan die ding raak wat ons wil verander, en dis met die paddas baie gevaarlik.” Tinkels klink nou sommer baie hartseer.

“Tinkels het oor die berg gevlieg en vir my kom raad vra, want ons ken mekaar. Ek kan hulle nie gaan help nie, want hoe moet ek oor die berg kom? Ek het toe gewonder of jy hulle nie dalk kan gaan help nie, Katryntjie,” sê Bella.

En nou moet ons wag om  te sien of Katryntjie die feetjies sal gaan help.

2 responses »

Leave a comment