Feetjie van Kammaland

Standard

001FEETJIE VAN KAMMALAND          Tannie Rika du Plessis

Tillie is ‘n baie vrolike feetjie wat in Kammaland saam met ander feetjies en kabouters tussen die mooi blomme, plante en paddastoele woon. Tillie is altyd vrolik en almal hou van haar. Sy het die mooiste goue haartjies en haar vlerkies blink net so mooi soos haar hare.

            Elke dag vlieg Tillie van blom tot blom, plant tot plant en paddastoel tot paddastoel. Vir almal vra sy hoe dit gaan en of daar iets is wat sy vir hulle kan doen. Almal gesels ‘n rukkie met haar. Waar sy met iets kan help, doen sy dit al singende, want niks is vir haar te moeilik nie, en sy is ook glad nie lui nie.

            Eendag nadat Tillie weer by almal gaan kuier het, stop sy heel laaste by die grootste paddastoel in die tuin. Sy kuier altyd die langste daar, want onder die ou groot paddastoel woon ‘n ou feetjie wat nie meer kan vlieg nie. Tillie moet dan eers vir haar alles vertel van die dag se besoeke aan die ander plekke. Sy doen dit graag, want sy kan sien hoe blink ouma Lalie se ogies van belangstelling soos sy vertel. Gewoonlik vertel ouma Lalie dan vir haar van dingetjies wat haar oorgekom het toe sy nog so jonk soos Tillie was.

            Vandag is dit egter anders, want Tillie kry nie vir ouma Lalie by haar paddastoelhuisie nie. Sy loop en soek oral rond en roep na ouma Lalie, maar die ouma antwoord nie en Tillie kan haar glad nie kry nie. Toe praat ‘n ou dik stem skielik met haar vanagter die paddastoel se dik stam:

            “Ek het ou Lalie hier weggejaag. Sy is tog nie meer nuttig vir ons hier rond nie, so waarom moet sy die mooiste en beste paddastoelhuis in Kammaland kry? Van nou af is ek die baas hier, en julle sal almal maak soos ek sê.”

            Tillie loer om die paddastoel se stam, en voor haar staan ‘n yslike ou brulpadda. Tillie staan effens terug. Sy weet daai ou padda kan haar met een hap insluk. Tog is sy dadelik vies.

            “Ons ken jou nie eens nie. Ek het jou nog nooit gesien nie. Hoe kan jy onse arme ouma Lalie sommer uit haar huisie skop? Ouma Lalie kan skaars meer vir haarself sorg. Ek bring vir haar kossies en help haar met alles elke dag. Jy is sommer ‘n wrede ou padda en ons sal nie vir jou luister nie. Waarheen is ouma Lalie?” vra Tillie dapper.

            “Ha-ha-ha,” lag die ou padda brullend. Die oumens het daar na die digte varings toe geloop. Ek weet jy ken almal hier, en ek sê nou vir jou ek wil met julle almal môreoggend hier praat, so gaan vertel vir hulle om hier te wees. Kammaland is nou myne, en julle sal leef soos ek dit wil hê. Nie een van julle ou pieperige goedjies is sterker as ek nie. Die wat nie wil luister nie, vreet ek sommer op. As ou Lalie nie so oud en verplooid was nie, het ek haar sommer dadelik opgevreet, want die huis is nou myne.”

            “Jy is lelik en wreed, en niemand sal vir jou luister nie,” roep Tillie hard en vlieg vinnig weg na die varings toe. Sy tref ouma Lalie daar aan, bewend van die koue en haar ogies dik gehuil.

            “Kom, ouma Lalie, jy kan by my kom woon. My huisie is nie so groot nie, maar daar is ‘n plekkie vir Ouma. Ouma is so klein, kom hou aan my vas en vlieg saam met my, dan hoef Ouma nie te loop nie.”

            “Ag, dankie tog Tillie, kindjie. Wat sou ek tog sonder jou gemaak het?” snik ouma Lalie en klou aan Tillie vas toe sy begin wegvlieg. Terwyl hulle vlieg vertel Tillie vir haar wat die ou brulpadda haar beveel het om te doen.

            “Wat gaan ons doen, ouma Lalie? Hy is groter en sterker as ons almal wat hier rond in Kammaland woon,” vra sy toe sy vir ouma Lalie saggies neersit voor haar huisie en haar na binne toe help.

            “Ek is nou so moeg, Tillie-kindjie, laat ek net so ‘n bietjie rus en dink, en dan sal ek vir jou kan sê wat om te doen,” sê ouma Lalie uitasem Sy het nou wel nie self die vliegwerk gedoen nie, maar sy het met al haar krag aan Tillie vasgeklou en dit het haar moeg gemaak.

            “Dis reg so, Ouma, ek sal solank vir ons kos maak,” antwoord Tillie en kyk hoe ouma Lalie haar op die sagte blarebed gaan opkrul om te rus.

            Later het hulle pas klaar geëet, toe vryf ouma Lalie oor haar magie. “So ja, nou voel ek sommer al klaar beter. En ek het ‘n plan met daai ou padda. Jy sal my moet help, want jy weet ek kan nie meer vlieg nie. As jy by Kammaland se hek uitvlieg na die boer se huis toe, sal jy ‘n houthok voor die kombuisdeur sien staan. My ou vriend, Boel, die hond, woon daar. Gaan vra hom om na my toe te kom, want ek het hom nodig.”

            “Haai, Ouma, die hond sal my opvreet. Honde hou nie van ons nie,” antwoord Tillie nou bang.

            “Sê net vir hom jou ouma Lalie het hom nodig, en hy sal vir jou niks maak nie. As dit nie vir my was nie, was ou Boel lankal dood, want toe hy siek hier iewers onder ‘n bos gelê het, was dit ek wat destyds vir hom medisynetjies aangemaak het om te drink, en dit het hom gesond gemaak. Toe, vlieg nou,” sê ouma Lalie.

            Nog maar bangerig vlieg Tillie, en toe sy naby die houthok kom, loer die grootste hondekop by die hok uit wat sy nog gesien het. Sy gaan sit op ‘n takkie van die boom net bokant die hok.

            “Is jou naam Boel?” vra Tillie met ‘n fyn stemmetjie.

            “Ja, dis ek. Wat wil jy hê? Weet jy nie hoe gevaarlik dit vir jou is om hier rond te vlieg nie. Kyk daai groot kat wat daar lê, en kyk na daai ander hond teen die boomstam.”

            “O, toggie, dan moet jy gou luister, want ek is nou baie bang. Ouma Lalie het my gestuur, sy het jou nodig en vra jy moet daar na ons toe kom.”

            “Ouma Lalie? Mou oumatjie Lalie?” vra Boel nou opgewonde.

            “Ja, sy het mos jou lewe gered.”

            “Kom wys my dadelik waar sy is,” antwoord Boel en kruip by die hok uit. Nou sien Tillie eers hoe groot hy regtig is.

            Sy vlieg voor hom uit en hy drafstap saam tot by haar huisie waar hy saggies aan ouma Lalie snuif wat lê en slaap.

            “Haai, ou Boel, dis lekker om jou weer te sien,” sê ouma Lalie nog half deur die slaap.

            “Dis net so lekker om Ouma weer te sien. Wat kan ek vir Ouma doen?”

            Ouma Lalie vertel hom van hulle probleem met die brulpadda.

            “So ‘n liederlike ou padda. Hoe kan hy sommer Ouma se huisie vat en dan nog die ander inwonertjies van Kammaland wil staan en rondjaag. Moenie bekommerd wees nie, Ouma, ek gaan hom nou sommer dadelik wys hy is nie hier baas nie,” antwoord ou Boel vies.

            “Jy moet hom darem nie doodmaak nie, Boel. Jaag hom net terug na sy waterpoel toe en sê hom jy is hier baas en hy moet ons ander uitlos,” sê ouma Lalie.

            “Nou maar goed. Ek sou hom graag ‘n hap wou gee, want ek is kwaad vir hom, maar omdat Ouma sê hy moenie seerkry nie, sal ek dit nie doen nie. Ek kom Ouma sommer nou-nou haal terug na Ouma se huisie. Wag net hier,” sê ou Boel en draf daar weg.

            Hy bly nie baie lank weg nie, toe is hy terug, en sy rooi tong hang laggend by sy bek uit toe hy na Tillie en Lalie kyk.

            “Ou brulpadda het so groot geskrik, hy het dadelik weggehop na sy waterpoel toe en geskreeu hy sal nie met julle lol nie, en Ouma kan jou huisie weer terug kry,” vertel hy.

            “Ag dankie tog, ou Boel. Dis lekker om so ‘n groot, sterk maatjie te hê,” sê ouma Lalie.

            “Dankie, Boel, ons sal jou altyd dankbaar bly,” sê Tillie toe Boel vir ouma optel en terugdra na haar huisie toe.

            So het dit gekom dat Tillie weer elke dag gelukkig en tevrede haar rondtes in Kammaland gedoen het, en niemand het hulle ooit weer gepla nie.

           

Advertisements

2 responses »

  1. Ag dit was so lekker om die storie te lees en ‘n waardevolle les by ouma Lalie te leer. Moenie kwaad met kwaad vergelyk nie. Dankie Rika.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s