Heksie in feetjie land hoofstuk twee

Standard

Slingervel (2)HOOFSTUK TWEE VAN HEKSIE IN FEETJIE LAND

“Ek is dan nêrens welkom nie, Bella. Die feetjies sal my ook mos nie by hulle wil hê nie, of hoe, Tinkels?” vra Katryntjie sag.

“Ag, Katryntjie, jy is dan so oulik met jou punthoedjie, en klein lyfie. Ons ken nie sulke klein heksies nie. Bella sê vir my jy is baie eensaam hier, en jy is boonop ‘n goeie heksie. As jy nou saam met my oor die berg na ons Feetjie land toe sal vlieg, sal jy al die feetjies vir maatjies hê. Jy is net ‘n bietjie groter as ons, so jy sal nou nie op die blomme kan sit nie, maar dit maak mos nie saak nie,” sê Tinkels.

Katryntjie raak nou sommer baie opgewonde. Beteken dit nou sy gaan nie meer so eensaam wees nie? Maar wat gebeur wanneer hulle nie meer bang is vir die paddas nie? As sy wat Katryntjie is ‘n plan met al die paddas gemaak het sodat hulle nie meer die feetjies kan vang nie, dan het hulle haar mos nie meer nodig nie!

“En as ek dalk kan help, en die paddas onskadelik maak, moet ek dan weer terugkom hierheen?” vra Katryntjie en kyk vir Tinkels in haar mooi blou ogies.

“Ek sal nie graag wil hê jy moet terugkom hierheen nie, en ek is seker my maatjies ook nie. Dit sal lekker wees as jy by ons sal kom woon. Dink net, dan het ons ons eie klein heksie, iets wat niemand anders tog het nie, want daar is nêrens in die land so ‘n ou klein heksie nie.”

Nou sing dit in Katryntjie se hartjie.

“As dit so is, gaan ek baie graag saam met jou. Bella is reg. Ek is baie eensaam hier waar niemand my naby hulle wil hê nie. Ek weet ek is nie mooi nie, maar ek is tog nie boos soos baie groot hekse nie.”

“Hie-hie-hie, Katryntjie! Jy is nie lelik nie. Ek dink jou klein frommelgesiggie is tog te oulik. Bella het my baie van jou vertel. Ek weet jy is nie boos nie, anders sou jy nie al die diere waarvan Bella praat so mooi gehelp het nie.”

“Ai, Tinkels, jy laat my nou sommer baie lekker voel. Wat sê jy, Bella, moet ek saam gaan?” vra Katryntjie opgewonde.

“Natuurlik moet jy. Ek sal jou mis, maar ek is bly jy gaan nie meer so eensaam wees nie,” antwoord Bella vinnig.

“Wanneer moet ons vlieg, Tinkels?”

“Ek het gedink môreoggend vroeg. Dis nou al ‘n bietjie laat en ek wil nie in die donker daar aankom nie. Miskien kan ek vannag hier by jou in jou huisie slaap as jy nie omgee nie.”

“Dit sal lekker wees om iemand by my in my huisie te hê. Ek het netnou lekker vars aarbeie gepluk, so ons kan lekker eet ook. Bella, wanneer ek weg is, moet jy asseblief die groente in my tuintjie kom opeet, hoor, anders het ek dit verniet geplant.”

“Dankie, Katryntjie, dit sal lekker wees,” antwoord Bella en lek al klaar sy lippe af so lus is hy vir die sappige groentes.

Tinkels sprei haar vlerkies oop en vlieg van Bella se kop af tot by Katryntjie op die rots.

“Bella, dankie dat jy my na Katryntjie toe gebring het. Ons gaan haar baie bederf daar in Feetjie land. En as sy boonop ‘n plan kan maak om Feetjie land weer vir ons veilig te maak, is sy ons heldin,” sê Tinkels en lag met Katryntjie.

“Nou ja, ek moet loop anders kom ek nie terug by die ander koeie voor dit donker is nie. Julle moet veilig na Feetjie land toe vlieg, hoor. Tatta, julle,” sê Bella, draai om en stap haastig terug vanwaar sy gekom het.

“Kan ek sien hoe jou huisie van binne lyk?” vra Tinkels met blink ogies.

“Natuurlik, kom, en kom eet van my lekker aarbeie,” nooi Katryntjie en wys vir Tinkels sy kan eerste instap.

Binne die ou skoenposbus kyk Tinkels verwonderd rond. Sy het gedink alles gaan swart hierbinne wees, net soos Katryntjie se klere en hoed. Maar dit is nie. In die een hoek staan ‘n glaspotjie met mooi geel blommetjies in. Dit lyk soos veldblommetjies. Langs die blomme staan ‘n groen plastiekbakkie vol bloedrooi ryp aarbeie. Op ‘n bedjie van strooi, lê ‘n mooi pienk stuk lap en ‘n bont kussinkie. Teen die dakkie hang goue, silwer, en pers balletjies soos wat sy al gesien het die mense hang aan hulle Kersbome. Die lig van buite af skyn op die balletjies en laat hulle mooi blink.”

“Oe, Katryntjie, maar jou huisie lyk so vrolik en mooi, en so pragtig skoon. Ek wens ons het so ‘n huisie daar in Feetjie land, maar ons sal hom nooit daar kan kry nie. Hy is te swaar,” sê Tinkels.

“Ja, dis jammer ou Bella kan nie oor die berg loop nie, want sy het hom vir my tot hier gedra. Ek is bly jy hou van die huisie. Kry vir jou van die aarbeie,” antwoord Katryntjie nou baie ingenome. Oe, sy dink sy gaan daarvan hou om by sulke vriendelike feetjies te woon. Sy gaan haar bes probeer om ‘n plan met daardie wrede paddas te maak.

Tinkels eet te lekker aan die sappige, soet aarbei. Daar loop eintlik van die soet soppies langs haar ken af, en Katryntjie lag vir haar. Hulle eet genoeg, en Katryntjie wys vir Tinkels waar sy altyd was voor sy gaan slaap. Net agter die huisie loop ‘n dun straal water uit ‘n rots uit wat in ‘n rivier vloei. Sy gee vir Tinkels ook ‘n waslappie en seep en hulle gaan was hulle te lekker by skoon water.

“Jy kan maar op my bedjie slaap, ek sal sommer op die matjie lê,” sê Katryntjie toe sy sien Tinkels is nou lekker vaak.

“Jou bedjie is groot. Kan ons nie sommer al twee op hom slaap nie?” vra Tinkels.

“Ons kan, maar ek het mos nie geweet of jy langs ‘n heks wil slaap nie,” terg Katryntjie.

“Jy is Katryntjie, die mooiste ou heksie vir my, en ek slaap graag langs jou. Toe, kom,” roep sy en gaan lê agter op die bedjie sodat daar oorgenoeg plek vir Katryntjie ook is.

Lank lê die twee nog en gesels oor die tyd wat Katryntjie hier so in eensaamheid gewoon het, en Tinkels vertel van allerhande dinge wat al in Feetjie land gebeur het voor hulle eindelik so vaak is dat hulle aan die slaap raak.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s