Tiekie en die houtkappers

Standard

Vir ons kleingoed bedoel.

TIEKIE  EN  DIE  HOUTKAPPERS.

TiekieTiekie is ‘n klein apie wat in ‘n maroelaboom woon. Hy het nie meer familie nie en moet vir

homself sorg. Hy het vir hom ‘n lekker huisie in die mik van die groot boom gebou.

 Dit is nou die tyd dat die ronde, geel maroelas ryp is, en Tiekie eet te lekker. Hy klim net af om na die rivier toe te loop om water te drink en ‘n bietjie rond te speel saam met ‘n paar ander diertjies wat weer daar by die water woon.

Hy is juis vandag weer op pad terug na sy boomhuisie toe nadat hy te lekker met die meerkatjies en eekhorinkies gespeel het. Hy is nog ‘n entjie van sy boom af toe hoor hy al die gekap-kap-kap. Hy gaan staan stil en kyk stip na sy boom. Ja, dit is daar wat die gekappery vandaan kom. Hy kan nou sien daar is iets wat naby sy huisie in die boom beweeg.

Vinnig hardloop Tiekie na die maroelaboom toe. Hy is uitasem toe hy teen die stam opgeklim het en die twee houtkappers by sy huisie sien. Hulle het al sy lekker warm slaapplekkie se goed alles uitgekap en op die grond afgegooi. Sy dakkie wat van digte blare was, het hulle afgebyt en afgegooi. Daar waar sy huisie was, is hulle besig om ‘n gat in die boomstam te kap.

“Haai… ek woon hier. Hoekom het jul my huisie gebreek?” vra Tiekie nou sommer baie kwaad.

Die twee houtkappers kyk na hom toe met hulle ronde kraalogies.

“Hier was niemand nie en toe het ons gedink dat dit nou ‘n lekker plek vir ons is om ons nes te bou en daarin eiers te lê. Ons kan ook baie goed hier ons eiers uitbroei en ons kleintjies grootmaak, want dit is naby die rivier. Ons kan daar water kry en daar is baie goggatjies wat ons kan eet,” antwoord die grootste houtkapper.

“Ek woon al baie lank hier. Julle kon tog gesien het dit is ‘n netjiese huisie waarin iemand nog woon. Waarheen moet ek nou gaan?” raas Tiekie.

“Jy kan ook mos maar nog in die boom woon. Maak net vir jou ‘n huisie in ‘n ander mik van die boom,” sê die ander houtkapper nou.

“Vir wat moet ek dit doen? Julle het my huis gebreek en julle gaan vir my ‘n nuwe een bou – een wat beter is as wat my oue was!” beveel Tiekie.

“En as ons dit nie doen nie? Wat gaan jy maak?” vra die grootste houtkapper nou glad nie baie vriendelik nie.

“Dan gaan vertel ek my vriend die wildekat wat ook daar by die rivier woon waar julle julle nes bou. Sy sal julle altwee kom vang en opvreet, en as sy julle nie in die hande kry nie, sal sy julle eiers kom opvreet,” dreig Tiekie nou.

“Wel, ons het nou al so ver aan ons nes gebou dat ons nie graag hier sal wil padgee en op ‘n ander plek gaan bou nie. Ons sal maar vir jou ‘n nes bou. Wil jy dit weer met jou ou huisgoed wat nou daar op die grond lê gebou hê?” vra die houtkapper nou vriendeliker, want vir enige kat is hy baie bang.

“Nee, ek wil nuwe goed hê. Ek sal alles gaan soek en hier by die stam kom neersit, en dan kan julle dit daarmee bou. Daar is ‘n lekker mik net bokant julle nes se gat. Ek wil dit daar hê.”

Hulle stem in en Tiekie spring grond toe en begin soek vir hom lekker skoon goed waarmee hul sy huisie moet maak. Daardie aand laat toe is sy huisie klaar, maar die houtkappers se nes is nog nie klaar nie.

“Kan ons maar vannag hier by jou slaap?” vra die wyfie houtkapper.

“In my huisie?” vra Tiekie verbaas.

“Nee, sommer net hier onder jou huisie in die ander mik waar ons besig is om ons nes te bou.”

“Ek gee nie om nie, slaap maar,” antwoord Tiekie vriendelik, want hulle het vir hom ‘n mooi huisie gebou waarin hy vannag baie lekker gaan slaap.

“Sal jy ons nie vang en opvreet wanneer ons lekker aan die slaap is nie?” vra sy weer.

“Nee, want ek hou nie van houtkappers se vleis nie. En julle is nogal mooi. Ons kan vriende wees as ons so naby mekaar gaan woon,” antwoord Tiekie nou toe hy daaraan dink dat hy van nou af geselskap in sy boom gaan hê.

“Oe, dit sal baie lekker wees. Dink net, jy woon net bokant ons nes en as jy van daar af gevaar sien aankom of iets hoor, kan jy ons waarsku,” sy sy weer.

“Ek sal. Julle kan weer vir my van daardie soet blou bessies saambring wanneer julle daarvan gaan eet. Dit is baie ver hiervandaan en julle vlieg sommer gou-gou daarnatoe. Ek moet te lank stap om daar te kom, maar ek is baie lief vir daardie lekker bessies.”

“Ons gaan juis môre vir ons van die bessies haal. Sou jy regtig vir die kat gaan vertel het waar ons woon?” vra sy nou sag.

“Nee, ek sou nie. Ek het sommer net so gesê om julle skrik te maak omdat jul my huisie gebreek het,” antwoord Tiekie nou en lag te lekker.

Die houtkappers lag maar saam en van toe af het hulle al drie gelukkig in die maroelaboom gewoon en vir mekaar dingetjies gedoen. Toe die houtkappers se kleintjies grootgeword het, het hulle tog te graag by Tiekie kom sit en gesels solank hulle ouers gaan kos soek het.

Tiekie het hulle eendag beskerm toe ‘n valk hulle wou kom vang om op te vreet. Hy het gesorg dat hy ‘n wapen in sy huisie het, want hy het nogal gedink hy gaan dit eendag nodig kry. Valke vang en eet graag sulke klein voëltjies wat nog nie kan vlieg nie. Hy het ‘n stuk yster in die veld opgetel en die punt daarvan lank teen ‘n klip geskuur totdat dit lekker skerp was.

Die dag toe die valk op hulle afduik, het Tiekie die yster gevat en na die valk toe gesteek. Hy het die valk se been raakgesteek en die valk het hard geskreeu en weggevlieg. Hy het ook nooit weer teruggekom nie.

Die houtkappers was baie dankbaar teenoor Tiekie toe hulle kindertjies later vir hulle vertel wat gebeur het. Hulle het sommer net die volgende dag weer vir Tiekie ‘n klomp van die heerlike bessies loop haal.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s