Verniet vir die ou kleintjies

Standard

Vir die mammas wat nog nie een van my kleuter e-boekies het nie, hier is ‘n gratis verhaaltjie uit een van die boekies vir die ou kleintjies.

imagesCA2CADB3BLOMKIND EN BRULPADDA   images 

 Blomkind is ‘n vrolike dwergvroutjie wat elke oggend dans en sing. Om en om die paddastoele se stamme dans en sing sy. Sy raak nie sommer moeg nie en kan lank so aanhou soos sy vanoggend ook weer doen.

            “Sal jy nou ophou met jou geraas! My kop is seer en jou lawaai maak dit net nog seerder,” raas iemand met ‘n ou dik stem met haar en sy hou op sing. Sy kyk rond en dan sien sy die ou brulpadda op ‘n plat klip onder ‘n groot varingblaar sit.

            “Ag, ou Brulpadda, dit is omdat jy so nors en onvriendelik is dat jou kop ook sommer seer is. Jy is ook sommer lelik omdat jy so nors en onvriendelik is. Wees liewer saam met my vrolik,” sê Blomkind en draai om om weer te dans en sing.

            Om en om die paddastoele se stamme dans sy weer en sing van die blommetjies wat vrolik heen en weer wieg in die windjie en met hulle gesiggies laggend na die opkomende sonnetjie kyk. Sy sing van die bytjies wat van blommetjie na blommetjie vlieg om soet sappies vir heuning bymekaar te maak. Sy sing van die doudruppeltjies wat soggens op die blare en blomme skitter wanneer die sonnetjie sy kop uitsteek. Sy sing van die lewe wat mooi is en die diertjies wat om elke hoek en draai in die veld rondbeweeg.

            “Blomkind… as jy nie nou stilbly nie, gooi ek jou met ‘n klip,” dreig Brulpadda hard en Blomkind hou op sing en stap nader na Brulpadda.

            “Sies, jy is sommer naar met my, en ek is dan so vrolik,” sê Blomkind beskuldigend.

            “Jy wil nie verstaan dat my kop seer is nie, en as my kop seer is, kan ek nie na sulke geluide luister nie al klink dit ook hoe mooi,” raas Brulpadda.

            “Ek sal die ou kopseer vir jou wegneem. Draai om met jou kop se agerkant na my toe,” beveel Blomkind.

            “Ag, wat kan jy tog doen,” mompel Brulpadda, maar draai tog maar om.

            Blomkind stap nader en begin saggies met haar vingertjies oor Brulpadda se kop te streel. Tussen sy oë en oor sy kop na agter toe by die nek. Heen en weer en heen en weer streel sy totdat sy sien hoe Brulpadda ontspan, sy oë toegaan en sy kop tot op die klip sak. Sy streel nog ‘n rukkie en hou toe op.

            “Hoe voel jou kop, Brulpadda?” vra sy en sien hoe ou Brulpadda omdraai en verbaas na haar kyk.

            “Haai, dis weg… jy het sowaar my kopseer weggevat. Dankie, Blomkind. Sê maar as daar eendag iets is wat ek vir jou ook kan doen.”

            “Jy kan soggens saam met my kom sing. Kom sommer nou dan leer ek jou my liedjie.”

            Brulpadda spring nader en hy luister na Blomkind se singwoorde en so nou en dan begin hy in sy diep stem saam sing. Blomkind lag en beduie vir hom dat dit mooi klink en Brulpadda begin al harder saam sing. Toe hulle weer sien, sit die takke bo hulle vol voëls na hulle en kyk en oral tussen die plante peul ander diertjies uit wat ook na hulle kom kyk.

            Van toe af was dit ‘n gereelde ding dat almal soggens daar byeen kom om na Blomkind en Brulpadda te luister voordat hulle weer weggaan en hulle daaglikse dingetjies gaan doen.

            Brulpadda het nooit weer oor kopseer gekla nie en hy het ook nooit weer met Blomkind geraas nie. Ook teenoor die ander diere het Brulpadda meteens vriendeliker geword en Blomkind het vir hom gesê dat hy nou sommer vir haar mooier lyk omdat hy nie meer so nors en lelik met die ander diere is nie.

            Baie later het Blomkind se kinders en Brulpadda se kinders ook met hulle kom saamsing sodat dit soos ‘n hele koor geklink het en al die diere hulle vrolik aangemoedig het omdat dit die begin van elke dag vir hulle die moeite werd gemaak het.

Advertisements

One response »

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s