Ses teen een

Standard

SES  TEEN  EEN

 

Ek lyk goed, reken jy, en alles hier lyk ôk goed, né? Beter as wat enigiemand dit nog ooit gesien het. ‘n Nuwe heining, die hortjies geverf, ‘n tuin wat van blom sing. Die mense reken glo g’n seisoen of ander boer kon my groente nog ooit oortref nie. Tot die koeie gee meer – en seker beter! – melk. En ek het nog mooi maer geword ook. Hoekom lyk ek dan tog só bekaf?

Maar dan ken jy nie my storie nie. Niemand ken dit nie. En wie sal my ooit glo?

Die ganse gedoente loop ‘n ver pad terug. Ek kan nie eens dink waar dit begin het nie. Seker by die rivier – die Dorpsrivier. Om watter duistere rede hy só heet, sal niemand wis nie, want met ‘n dorp het hy niks in gemeen nie. Hy is wild en ongetem, en soms sommer plat ongeskik. Soos wanneer hy in vloed is. Dan kom hy soos wilde perde af.

            Dis juis oor een só ‘n vloed wat ek tot rugbrekens gedryf raak: “Só kan dit nie aangaan nie,” seg ek vir Vrou. Vrou is die perd waarop meeste dinge afgesaal word, want dis mos eintlik háár familieplaas dié. “Moet ek nog eenkeer met ‘n melkkan deurswem, kry ek ‘n toeval en bly sommer in die toeval lê ôk. (Dis natuurlik nie heeltemal waar van die deurswem nie – die water was net tot by my armholtes) – maar nou-ja.

            Met die brug is ek nou al lankal aan die planne maak. Die ganse kontrei help. Maar dit bly net by bek. Nee, dít sal nie werk nie, jy moet só maak … En, ek sal vir jou pyp by tee-pee-aaa kry, man … En, ek sal vir jou … Ek sal vir jou …

            Toe snork Jou maar self op en bou die brug soos ek van die begin af geweet het hy sal werk. En hy is besig om te werk.

Maar: dié storie gaan eintlik oor vóór die brug nog. Terwyl ek met hom aan sukkel is. Toe skiet my gemoed mos so vol. Daar is nie hulp nie en die hulp wat daar is, is g’n hulp se naam werd nie, en daar is nie tyd nie, en dit het boontoe op al só gereent die rivier is besig om te styg, en ek wens liewer ek was ‘n drieling of ‘n vyfling – dán sou jy darem ‘n ding sien!

“Een van jou is vir my genoeg, dankie,” gooi Vrou koue water op my gebede. “Dink net, dan gaan jy buitendien met vyf keer soveel probleme ook sit!” Ek kyk haar net – is die ellendige rivier dan nie op háár plaas nie!

Maar die ding van die vyf van die een soort bly by my. Om net te dink, ek kan dan vyfkeer  soveel uitrig en dan weet ek die goed is rég gedoen boonop!

Dis juis toe wat ou Blom een aand hier bo-op die rant so beginne bulk asof sy my norig het. Ek is hier uit met die skietlamp en die honde wat agterna tou. Maar halfpad begin die tewe snaaks optree. Vol fyn tjankies, wil hulle om die dood net nie verder nie. Toe is hulle skielik tjou-tjou die bult af terug huis toe. Ek skree agter hulle aan – maar verniet. Dis met die terugdraaislag dat ek die groenerige skynsel bo-op die bult gewaar – nog nooit het ek die dorpsligte sulke vreemde weerkaatsings sien maak nie. Maar voordat ek nog daaroor kan wonder, hoor ek Blom weer – nou op haar benoudste.

Toe ek so oor die laaste maanhaartjie kom, sien ek die affêre. Baie mense beweer hulle het so-iets al gesien en hulle skryf oor sigaarvormige goed en rondes – maar meesal is dit pierings. Maar as dié ding wat voor my tussen die doringbome sit, ‘n piering is, wil ek darem nie ‘n koppie sien nie, hoor.

Eintlik troon hy bo die bome uit en dit lyk of die ganse gedoente in ‘n hittegolf beland het – dit bewe en dans vir ‘n naarheid. Elke keer as ek dink ek sien die ding nou soos hy is, dans hy weer effens na links óf regs toe. Jy kan hom net nie met die oog vasgevat kry nie. En hy sit daar en brom. Tussen-in maak hy nog soos ‘n swerm kraanvoëls wat daar bo in die lug aanhou pierr-pierr en wat-nog.

Omdat dit ons grond is, beskou ek die gedoente as indringer, en ek is g’n stuk bang nie. Meer die foeter in, ek.

Maar toe sien ek Blommetjie. Of liewer wat Blommetjie was. En Blom is my makulu koei. Die koei der koeie – die heilige van die heiliges op Rooidraai. Sy is besig om stukkie vir stukkie by ‘n vibrerende vensteragtige opening van die gevaarte uit te val terug Rooidraai toe. Maar Blom is nie meer in die stukke nie – dis net velletjies wat leeg en deeltjie vir deeltjie na benede daal.

Eers sit daar ‘n seer knop in my keel, en toe is ek liederlik boos. ‘n Mens moet huis en haard en bees beskerm teen die gevaarte waarvandaan hy ookal kom tussen die blink sterre. En ek raak sommer blind en soek net klippe – sulke grotes. En ek hol nader en ek begin daai ding van ‘n kant af peper om al sy vensters luggate te maak.

Die eerste klip tref sy teiken – ek kon dit duidelik hoor. Maar toe val my klippe soos teen ‘n onsigbare muur terug. Boos, loop ek die ding storm en my trompop ook daarteen vas.

Dis toe laat ek die wese sien. Die ouma van al my nagmerries! Daai stories van die mooi, vreedsame en slim-ontwikkelde ruimtemanne biedêm. Dis g’n wonder my ou Blommetjie het so ‘n keel opgesit nie! Hierdie ding wat tot die hondetewe laat tjou-tjou huis toe voordat hulle hom nog gesien het!

“Hiert, jou vieslike nagmerrie,” skree ek vir hom en ek tel Blom se stert op. “Wat dink jy maak jy!” en ek piets daai onsigbare muur laat hy na horing ruik.

Die ding bly soos Lot se vrou daar staan – net ‘n baie leliker soutpilaar. Toe my arm moeg raak, soek ek weer klippe: MOENIE BANG WEES NIE …

“Ek is g’n stuk bang nie, Vieslik!” antwoord ek hom.

ONS KOM IN VREDE.

“En wat de herrie van my Blommetjie, hé?”

ONS SAL KOMPENSEER. Sê NET WAT JY WIL Hê.

“Blommetjie is onvervangbaar – g’n geld kan haar koop nie!” Ek smyt Blom se stert agter my woorde aan. Hulle moes seker die vrede met hierdie woeste barbaar begin vertrou het, want die stert trek deur hulle onsigbare muur en tref die javel deur sy smoel. Ek dínk dit moet sy smoel wees daai – so ‘n … Maar toemaar, hy is lelik genoeg.

VERSTAAN? JY KAN SELF JOU KOMPENSASIE KIES.

Nou kyk, wat my juis tóé laat dink het aan my woorde vroeër teenoor Vrou, sal g’n niemand wis nie, want my bek sê ewe glad: “Hoe lyk dit met vyf van myself, hé?”

            Daar is stilte. Nog koppe verskyn in die kykgat en die pieringgedaante hou skielik op met ronddans soos ‘n jagspinnekop op ‘n rooiwarm stoofplaat. “Maar as hulle soos julle gaat lyk, los dit maar!”

            Nóg stilte. Die gesigte verdwyn. Ek oorweeg dit om weer klippe bymekaar te soek – kyk net hoe lê ou Blompie hier net stukke vel rond!

            Nog so, klip in die hand aan die wik en weeg, vang ‘n groen ligstraal my skielik vas net daar waar ek poseer – soos ‘n wafferse model vir leerlingbeelhouers. Die onsigbare muur is ook skielik óm my – in my, want die straal hou my – ‘n versteende stomp. So in my gedwonge staan, moet ek wonder wat hulle hierdie studie gaan noem – primitiewe klipgooier? Jammer ek het die haelpomp by die huis gelos!

            Snaaks, my gedagtes – altyd so op hulle plek – begin streke uithaal. Dis asof hulle soos winterlammetjies bontspring en ek kan hulle nie vang nie. Ek sweet. Ek swets – al kan my lippe nie roer nie. Toe los die straal my en ek val vooroor op my gesig.

            Nou swets ek kliphard en soek op die grond voor my vir my klip wat met die val uit my hand geruk het. Daarmee gewapen, beur ek orent. Maar versteen weer. Nie van ‘n ligstraal dié keer nie. ‘n Man kom zzzoem uit die pieringtuig grond toe. En reguit na my toe. En die ergste: dis ek wat so na my toe aangezzzoem kom. Maar poedelkaal. Ek het nie geweet die ou lyf is al so afgetakel nie! Kon hulle nie eers iets vir my aangetrek het nie? Toe gaan sit ek plat op my blaker van skok. My bene is lam – heeltemal lam.

Agter daai kaal ek, kom nóg een en nóg een en nóg een en nóg een aangezzzoem. Almal kaal en almal ekkes. Hulle staan so om my – vyf van hulle. En ssswiep, weg is daai onaardse ryding. En dit sonder enige aandrywing. Ek swaai vir hom vuis. Gooi my klip agter hom aan. “Kom terug, julle vieslike goed! Wat moet ek met vyf kaal ekkes maak?” Maar die tuig is klaar net ‘n onwerklike nagmerrie.

            Ek draai my onmagtige woede op die vyf: “Skaam julle julle … ek bedoel: skaam ekke ekke nie? Om so kaalgat hier op Rooidraai rond te staan?”

            Hulle kyk my onbegrypend aan. Toe buk hulle soos een man en tel my op – waar ek steeds plat met my knieë lam sit – en plak my op my voete neer: “Los my! Ek kan self!” Nie een praat ‘n woord terug nie. “Skoert! Kiep! Voertsek!” probeer ek hulle verjaag. Hulle glimlag net – glimlag ek dan ook so sieklik liefies? “Hoe kan ek met julle spul by die huis aankom? Vrou sal …” Hulle bly net staan.

            “Wat is julle name” Hulle kyk my onnosel aan. Dan waag die een:

            “Louis …?” En die ander knik – in hulle skik: Ja, Louis. Louis. Louis. En Louis.

            “Nee! Louis is my naam! Nie julle s’n nie.”

            Nou is hul glimlagte weg. Die voorste lyk boos, hy frons. Al vyf frons.

            Ek retireer. Hulle tree nader. Toe, soos die teefhonde vroeër, hol ek bult af. Agter my volg hulle met vyf keer die lawaai. Toe ek uitasem moet gaan staan, is die vyf ekkes dadelik weer óm my – almal net so uitasem: “Verstaan tog! Ek wil julle nie hê nie. Toe ek gesê het … dit was sommer ‘n grap gewees …

“Sê iets!” skree ek, skielik magteloos boos.

            “Skoert!” sê nommer een uitdrukkingloos. En “Kiep!” “Voertsek!” “Skaam jou!” “Ek bedoel …” koor die ander agterna. Toe weet ek met ‘n naarheid op my maag: Ekkes mag hulle wees, maar blênk soos pasgeborenes. Wat doen ek? Hier in die veld kan ek hulle tog nie los nie – dis darem nie kristelik nie … En by die huis … Vrou …

            Ek begin weer rant af hol. Agter my breek hulle takke en klippe rol onder hul haastige pote. Ek dink aan hul kaalte wat dril en … Ek rem teen die afdraand: “Maak toe!” sê ek hulle, maar hulle steek net onnosel vas. Ek pluk ‘n tak af. Beduie. Hulle pluk ook takke. Hulle swaai dit stuitig bo hul koppe. “Só,” wys ek hulle, “so vat julle die ketôter van ‘n tak en maak mooi toe.”

            “Ketôter?” giggel een.

            “Ja, die tak!” Maar al vyf wys na hulselwes. En, Ketôter! Ketôter! kekkel hulle.

            “Nou ja, toe,” gee ek op. En met hul takke netjies op hul plekke loop ons nou in gelid die afdraand af. Toe ons die huis se ligte begin gewaar, maak hulle opgewonde geluide. “Dis die huis daai,” lig ek hulle in. Hulle knik asof hulle verstaan.

 

            Hoe nader ons kom, hoe nouer trek my keelgat. Vrou wag seker al met teewater net onder kookpunt. Sy gaan ‘n hartaanval kry! Wat sê ek? Of het sekere, voldonge feite g’n verduideliking nodig nie? Naby die agterdeur beduie ek hulle om terug te staan.

            “Louis?” sê-vra Vrou toe ek versigtig om die kombuiskosyn loer. Sy maak altyd so – ek wens ek kon vanaand sê ek is liewer Koos.

            Vrou skree skielik laat ek spring. Natuurlik het die agies ook om die kosyn kom loer! Hulle staan met groot grynslagte, terwyl Vrou ‘n tweede asem sluk vir die vervolg op die eerste skree. Ek sê vinnig, “Vrou!” tussenin.

            En, “Vrou!” aap al die ander agterna. Vrou gebruik daai tweede geslukte asem met mening. Die vyf kom nader en begin arms swaai. Vrou hou op skree en bring die lamp nader. Toe moet ek die lamp gryp want die Aladdin se glas kos vyftig rand. Baie ander gewillige hande gryp Vrou voordat sy grond raak en kyk my beskuldigend aan na waar ek nog met die geredde lamp staan.

            “Sit haar neer,” beveel ek.

            “Vrou …” sê hulle weer gelyk en iets in hul gesigte laat my die lamp neersit.

            “Gee haar hier!” Twee van hulle hou Vrou nog vas in haar beswyming, die ander drie neem dreigende houdings in. Wat nou?

            “Ketôter! Ketôter!” skree ek. En dié keer skrik hulle so groot hulle spring by die agterdeur uit vir die takke. Ek moet vinnig gryp na Vrou. Ha! Dink ek. Gelukkig het hulle met die takke nie genoeg hande oor om nog met Vrou te bodder nie. Maar misgis misgis ek my, want Vrou het bygekom:

            “Ses van julle,” fluister sy flou in my arms, “en net een met klere aan …”

            By dié angswekkende gedagte, raak sy weer pap in my arms. Tien hande los weer takke en help gryp en ek klap links en regs net hande weg en skree: “Ketôter!” maar hulle wil nie meer Ketôter  nie.

            Ek staan op Vrou, steeds op die koue sementvloer en afkyk. Toe ek hande onder haar skouers insteek, is daar natuurlik dadelik weer baie ander by om te help dra. Ons gaan sit haar versigtig op haar bed neer. Ek baai polse en nek. “Vrou?” praat ek met haar.

            “Vrou?” koggel hulle in dieselfde stemtoon en met irriterende deernis. Wat ‘n harem! Een vrou en ses van ons.

            Vrou kom uiteindelik by en vra: “Louis?”

            “Ek is hier, Vrou,” en ek vat haar hand. Haar oë gly van my weg en dwaal oor húlle rond wat al weer oor my skouer probeer loer en in mekaar se pad staan. Vrou se oë neem genoeg tyd om elke gesig te bestudeer. Sy moet op daai bakkiese presies kan sien wat op myne wys ook – daardie óú liefde wat jare se sout uit dieselfde sakkies bring en die verstaan daarmee saam. Ek voel iets in my draai en tot stilstand kom, want skielik is die Paradys in Vrou se oë.

            Dan kyk sy na my toe terug, en lees my gesig nét so korrek. Haar glimlag begin by haar mondhoeke en sprei tot dit amper haar ore insluk. Vol nuwe lewe, spring sy op: “Louis, gaan haal vir elkeen ‘n onderbroek, en ‘n kakiebroek en hemp. Die gestrykte wasgoed lê in die spens.”

            “Maar Vrou as hulle nog my klere moet aantrek ook, sal niemand meer weet wie is ek nie!”

            “Louis!” sê Vrou net en ek skarrel.

            Terwyl hulle aantrek, beskou ek hulle lywe – my lyf: middeljarig, met merkies oral aan my van die jare se gebruik. En ek sê saggies en meer onderdanig as in baie jare: “Vrou, is daar nog iets wat ek vir jou kan doen?” Vrou glimlag net.

 

Dít is my ellende se begin. Jy reken ek is bevoorreg. Vyf gewillige helpers met my arms en kop om goed na my sin gedoen te kry. Want die hortjies, die verf, die tuine ís hulle werk. En dan is daar daai ewige oorlog tussen die Adams en die Evas. Ons, ses sterk teen die arme een van Vrou?

Maar dan ken jy nie vir Vrou nie. Sien, sy word die vrou der vroue wat die man in haar lewe – ongevormd – skielik na haar hand kan begin snipper. Vyf keer óór boonop. En die arme goed, hoe sal hulle nou van beter weet? Middeljarig gebore, met die kruis van my liefde vir Vrou as enigste maatstaf …

Sy knie hulle soos deeg, glo my. Hulle doen veel meer as vyf keer my vermoë. Sy ken hulle tot uitmekaar. Hoe, weet net sy. Toe ek haar sê, maar onthou bietjie Vrou, ek is darem die mooie, lag sy nie eens nie. Sy noem hulle Duimpie, Duimpie-se-Maat, Langeraad, Filafooi en … Liefste-Pinkie.

Die ergste is sy dink vir hulle. Vertel hulle tot waarvoor hulle moet lag. Hou hulle – dank die hemel vir klein genadetjies – selebaat –  en laat hulle daaroor edel voel. Sy het hulle op ‘n dieet gesit – kyk hoe lyk ek!

            En ek? Nee, ek moet hier op die stoep sit – is dit dan nie tradisioneel die baas van die plaas se reg nie? terg vrou. En kywie hou vir as iemand hier sou aankom, dan gil Vrou en haar getreinde ekkes verdwyn in hul gate – soos vingers in ‘n handskoen – sodat hulle nooit gesien word nie. En niemand my sal glo as ek wil kla oor my lot van arme ek teen ses nie.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s