Deel vyftien van Nonanda se paradys

Standard

In die dae wat volg, werp Nonanda haar hart en siel in haar werk. Die losieshuis se boekhouding is agterstallig en omdat sy gedurende die dag te besig met ander take is, sit sy snags tot wie weet hoe laat met die boeke om hulle op datum te bring.
Dis nog vroeg een aand toe sy eindelik met die boeke klaar is. Sy gaan klim in die bed, maar ontdek dat sy nie meer so vroeg kan gaan slaap nie. Noudat sy nie meer iets het om haar in die aande mee besig te hou nie, tree al haar hartseer weer na vore en sy besef sy sal so gou moontlik iets anders moet vind om haar mee besig te hou. Werk en nogmaals werk, dis wat sy nodig het om haar gedagtes besig te hou, besluit sy.
Martin het toe kort voor haar aankoms hier vertek om ‘n maand lange kursus te gaan volg en wanneer hy terugkom, gaan hy bevordering kry. Hulle het besluit om verloof te raak wanneer hy terugkom en na nog ‘n maand in die huwelik te tree. Hy sê dit sal haar genoeg tyd gee om al haar dingetjies hier in orde te kry. Dus is hy ook nie nou hier om haar aandag in beslag te neem nie. Dit word nou vinnig winter, besef sy toe sy opstaan om die venster toe te maak omdat die koue wind die dun gordyntjie te veel rondruk. ‘n Opgewonde idee skiet haar te binne toe sy die gordynmateriaal deur haar vingers laat gly. Ja, hulle is al oud en redelik verbleik. Sy sal net môre al die vensters van die losieshuis se mate neem. Sy sal saans gordyne maak. Dit behoort haar goed besig te hou.

Op Voëlparadys sleur die dae vir Gys aanvanklik stadig verby en hy wag die herstel van sy been met ongeduld af.
Die dag toe die dokter die gipsverband verwyder, raai hy hom egter aan om maar nog ‘n rukkie lank met ‘n kierie te loop sodat sy been geleidelik weer kan gewoond raak aan die gewig wat hy moet dra.
Intussen het die winterweer die wêreld grys gekleur. Oupa Robbie het reeds ‘n geruime tyd gelede Nonnie se briefie ontvang waarin sy hom vertel het hoe koud dit daar by hulle is. Hy het ook dadelik teruggeskryf. Hy wag ook nie totdat hy weer ‘n briefie van haar kry nie, en terwyl hy by die hek by die olieverwarmer sit en wag vir sy besoekers, skryf hy maar weer en weer aan Nonnie. Hy verlang so na die kind en toe haar tweede brief eindelik opdaag, kan hy dit nie gou genoeg oopskeur nie.
Tot dusver het hy die familie nog nie vertel hoekom Nonnie nou eintlik hier kom werk het nie. Ook nie dat die losieshuis waar sy werk eintlik aan haar behoort nie. Dis net asof iets hom daarvan weerhou om dit te doen, asof die regte oomblik daarvoor nog nie aangebreek het nie.
Net van die muisvoëltjies het hy vir Gys vertel, en sy verbasing was gald nie groot nie toe die seun sê hy het maar al die tyd daarvan geweet. Hy weet mos Gys weet altyd wat in al sy hokke aan die gebeur is. Waaroor hy wel verbaas was, is die veraf blik wat Gys in sy oë gekry het. Om sy mond het ‘n sagte glimlag gespeel tydens hul gesprek oor die onderwerp.
Net soos met Nonnie se eerste briefie, vertel oom Robbie ook die meeste nuus aan die familie toe hulle een aand om die etenstafel sit. Hoe besig sy by die losieshuis is en wat sy alles al gedoen het, van oom Doons en van die muisvoëltjies wat heel tevrede in hulle hokkie sit.
Gys sit sy koppie hard op die piering neer en vra: “Is sy en Martin dan nou nog nie getroud nie, Oupa? Ek dog dan hy was so haastig om haar voor die kansel te kry.”
Oupa Robbie skud sy kop. “Nee, Martin is op ‘n maand lange kursus vir sy boogde bevordering. Wanneer hy terugkeer, gaan hulle glo verloof raak en na nog ‘n maand gaan hulle trou.”
“Van trou gepraat … wanneer gaan jy en Bonita trou, seun?” vra Bes toe sy opstaan en die tafel begin afdek.
Gys trek sy wenkbroue vraend omhoog toe hy na sy ma staar.
“Of het ek nou uit my beurt uit gepraat?” vra sy verskonend, bewus daarvan iets is verkeerd toe sy na sy die gesigsuitdrukking kyk.
“Waar kom Ma daaraan dat ek met die witkop gaan trou?” vra hy nou en kyk steeds aandagtig na haar.
Kortlik vertel Bes van haar en Nonanda se gesprek op die vooraand van Nonanda se vertrek. Dan vra sy: “Wel, gaan julle of gaan julle nie trou nie?”
Gys se stoel se pote skraap oor die vloer toe hy opstaan.
“Nee, Ma, ons gaan nie,” is al wat hy grof antwoord.
“O!” sê Bes net en tuur fronsend deur die kombuisvenster na buite. Daar is donderweer in die lug. Sy is gewoond aan dié wêreld se donderweer, dink sy afgetrokke, en tog is sy die heel dag lank al bewus van ‘n dreigende onrus binne haar wanneer sy na die donker wolke kyk.
Voor oom Robbie kom Gys tot stilstand. “Oupa, kan ek asseblief Nonnie se adres kry? Ek sal darem ook graag aan haar ‘n paar woorde wil skryf,” sê hy, en die ou man hoor die ondertoon van ingehoue drif in sy kleinseun se stem deurslaan.
Gys neem die adres wat sy oupa neergeskryf het. “Dankie, Oupa. Nag, almal,” sê hy en stap dan haastig in die gang af na sy kamer.
In sy kamer sak Gys verslae op sy bed neer. Waar sou Nonanda daaraan gekom het dat hy met Bonita gaan trou?
Skielik is dit vir hom dringend belangrik dat Nonnie moet weet hy gaan nie met Bonita trou nie. Waarom weet hy nie, want dit sal tog niks aan die situasie verander nie.
Maar daar verskyn ‘n vasberade trek om sy mondhoeke. Hy skryf haar adres in sy sakboekie neer. Net môre gaan hy vir Bonita konfronteer om te hoor of sy nie dalk vir Nonnie onder so ‘n verkeerde indruk gebring het nie en daarna gaan hy na Nonnie toe. Al is dit nog net hierdie een keer . Hy moet haar eenvoudig weer sien voordat sy met Martin trou.
Hy ril teen die koue en loer deur die venster na die swaar, donker wolke wat so laag hang. Hier is groot reën aan die kom, besef hy voordat hy gereed maak om in die bed te klim.
Heelwat later die nag word Gys weer wakker en besef onmiddellik wat dis wat hom gewek het. ‘n Tierende wind het begin waai en die boomtakke swiep met geweld teen die huis se sinkdak vas. Harde donderslae volg mekaar vinnig op en die reën op die sinkdak klink oorverdowend hard. Die kamer word feitlik aanhoudend deur weerligstrale verlig.
Gys staan op, trek sy kamerjas aan en stap na die kombuis waar hy sy ma, Willem en sy oupa ook aantref.
Op daardie oomblik bars die storm in sy volle geweld los toe vernietigende haelstene die reën vergesel. Bes se oë is wydgerek toe sy na hulle kyk.
“Dit … dis anders as al die vorige kere, né?” vra sy huiwerig.
Willem knik en Gys skakel die spreiligte aan. Hy trek sy asem geskok in toe hy in die lig daarvan na buite kyk. Die wind, wat steeds in sterkte toeneem, het reeds verskeie bome uitmekaar geskeur en sommige struike is geheel ontwortel. Hoe sal dit nie by die voëlhokke lyk nie, dink hy beangs. Hy besef egter dat hy nou niks aan die omstandighede kan doen nie.
“O, genadige Vader, ou seun, maar dit lyk allerverskrikliks buite,” sê oupa hier langs hom en die ou man se stem is hees van skok.
“En nog is dit nie die einde nie,” sê Willem toe ‘n harde slag aan die stoepkant van die huis opklink. Hy hardloop na die sitkamer om deur die venster te kyk, want hy weet dit sal nou fataal wees om die voordeur te probeer oopmaak.
Die volgende oomblik rek sy oë in afgryse. Die groot ou boom voor die stoepkamer het in twee geskeur en ‘n stuk van die een deel lê binne-in die stoepkamer. Die dakplate is losgeruk en n groot deel van die muur lê plat. ‘n Ysige rilling trek deur hom toe hy daaraan dink wat sou gebeur het as Nonnie nou nog in daardie kamer was.
Met die volgende knal van die donderweer is alles skielik in donkerte gehul. Willem stap voel-voel terug na die kombuis waar Bes reeds ‘n lamp aangesteek het. Hy vertel hulle van die stoepkamer se lot en hulle kyk verslae na mekaar.
Daar kom lewe in Bes se geskokte liggaam en sy steek die brander van ‘n gasstofie aan om water te kook sodat sy kan koffie maak. Sy weet dat nie een van hulle nou sal kan slaap nie – almal wag om te kyk wat verder gebeur.
Dis reeds na die hoeveelste koppie koffie en toebroodjies toe die storm se geweld eindelik teen vyfuur begin bedaar. Almal gaan terug kamer toe om te gaan aantrek, aangesien hulle nog die hele nag in hulle nagklere sit en wag het. Teen halfsewe stap hulle na buite om die ramptoneel te besigtig.
Hoe nader Gys aan die Voëlhokke kom, hoe natter word die aarde en sy voete sak enkeldiep in die modder weg. Asof in ‘n nagmerrie stap hy nader om die verwoesting te aanskou. Oral in die hokke lê neste wat vernietig is en sommige dele van die dakke is afgewaai. Hy let op dat daar heelparty van die skaarser voëlsoorte se hokke beskadig is – en die voëls is nie meer in die stukkende hokke nie. Hier en daar sien hy ‘n dooie voël lê en die res sit op verkluimde hopies styf teen mekaar.
By die hok van die muisvoëltjies gaan hy staan. Die hok is ongedeerd en die voëltjies sit ook styf teen mekaar op ‘n tak om mekaar warm te maak. En vir die eerste keer sedert die storm begin het, dink hy weer aan Nonnie.
Met die pandemonium wat hier heers, sal hy mos nie nou na haar toe kan gaan nie. Hy sal heel eerste sy assuransiemaatskapy hiervan moet in kennis stel en daarna lê hier sommer baie werk en wag.
‘Môre, meneer Gys . Meneer moet maar praat as ons iets kan doen,” kom Lange se stem tot hom en hy skrik uit sy mymering wakker.
Lange en Kleintjie staan handewringend ’n klein entjie van hom af en hulle oë is wydgerek oor die verwoesting gerig. Gys weet dat die voëls se wel en wee hulle ook baie na aan die hart lê, want hy het al gesien hoe sagkens hulle werk met die jong voëltjies wat gering moet word.
“Baie dankie, maar vir eers moet julle maar net julle daaglikse werk voortsit in die hokke wat ongedeerd is. Daarna sal ons begin opruim en herstelwerk doen,” antwoord Gys.
Op dieselfde oomblik toe Gys die kantoordeur oopsluit, hoor hy Bonita na hom roep. Sy kom haastig ingestorm en gryp hom om die lyf.
“O, Gys, ek was verlede nag so onsettend bang. Ek het so gewens jy kon daar by my gewees het,” bibber sy hier teen sy bors, maar hy stoot haar van hom af weg.
“Môre, Bonita. Soos jy kan sien, hier lyk dit maar sleg. En daar by jou plek?”
“Ook maar baie skade, maar darem nie soveel soos wat ek hier sien nie,” erken sy na ‘n oomblik se stilte.
“Bonita, het jy vir Nonnie gesê ek en jy gaan trou?” vra hy direk.
“Watse vraag is dit nou dié te midde van al die verwoesting, Gys?” vra sy en wonder beangs waar hy dit gehoor het.
“Ek moet weet, Bonita. Gee my net ‘n eerlike antwoord, asseblief,” sê hy dringend en gryp haar aan die skouers.
“Wel, ek mag miskien eendag vir haar gesê het dat ek graag met jou sal wil trou, maar …ag, jy weet tog hoe is meisies wanneer hulle met mekaar praat oor die mans in hul lewe,” antwoord sy, maar kyk haastig anderpad toe sy sien hoe Gys se oë vernou.
“Jy vertel nie die waarheid nie, Witkop,” beskuldig hy haar en sy greep pynig haar skouers.
Sy sug oordrewe. “Eina, man, jy maak my seer! Goed, goed … ek hét vir haar so gesê, maar moenie vir my daaroor kwaad wees nie, asseblief. Dis omdat ek jou so liefhet en … en ek was bang sy stel dalk haar visier op jou in.”
Gys se donker oë rus vernietigend op haar. “As jy sulke leuens kan verkondig net om te probeer om die skaal in jou guns te laat swaai, dan glo ek jy is tot ander streke ook in staat,” sis hy. “Dit was jy, né? Dit was jyself wat jou tent so omgedolwe en die slaapsak so vernietig het, net sodat jy my so ver kon kry om by jou in jou tent te kom slaap. En moenie eens probeer stry nie, Bonita, ek het die rafels van die slaapsak aan ons skêr gesien en ek glo nie enigevan die ander wat saam met ons was, sou tot sulke gemene dade in staat gewees het nie. Wat het jy nie dalk nog alles gedoen nie?”
Bonita se groen oë blits. “Jy het geen bewyse vir al die beskuldigings wat jy maak nie. Ek het nie nodig om daarna te luister nie.” Sê sy skril en hardloop terug na haar perd toe.

Nonanda is haastig om op die losieshuis se stoep in die winterson by die muisvoëltjies te gaan sit. In haar hand het sy ‘n brief van oupa Robbie en sy kan nie wag om dit te lees nie.
Sy sit skaars, toe skeur sy die koevert oop en laat haar oë oor die woorde gly. Hoe verder sy lees, hoe vinniger lees sy en toe sy klaar gelees het, laat sy die brief verslae en geskok op haar skoot sak.
Arme, arme, Gys. Al daardie skade wat deur die storm aangerig is, is seker vir hom ‘n geweldige terugslag. Sy weet hy kan weer op die been kom en geld is nie ‘n kwessie nie, maar al daardie skaars voëls!
Gys het haar vertel hoe lank hy gesukkel het om sommige van die spesies te bekom, juis omdat hulle so skaars is. Sy kan net dink hoe teleurgesteld hy nou moet wees en haar hart brand om na hom toe te gaan en hom moed in te praat. Maar hy het haar nie daarvoor nodig nie, Bonita is daar.
“Hier is ‘n lekker koppie tee, Nandatjie,” praat oom Doons hier langs haar.
Sy sit die brief op die stoeptafeltjie neer en ontvang die tee met ‘n dankbare glimlag.
“Dankie, Oom. Oom moet my darem nie so bederf nie.”
“Kind, jy werk snags hopeloos te hard en te laat. Jy het sowaar eiehandig die hele losieshuis se nuwe gordyne gemaak en nou moet ek hoor dat jy nog besig is om bypassende dekens vir die beddens ook te maak. Kyk hoe lyk jy! Jy het donker kringe onder jou oë en jy is so skraal soos ‘n riet. Jy moet meer eet en slaap sodat jy kan lyf kry. Ek dink jy moet ‘n rukkie lank gaan vakansie hou, wat sê jy, h’m? vra hy en kyk pleitend na haar.
Nonanda kyk met deernis na hom. “Meteens voel ek oud en afgeleef, oom Doons. Miskien moet ek tog ‘n paar dae lank weggaan voor Martin terugkom, maar ek wil nog eers die laaste twee kamers se dekens klaar maak. Goed so?”
“Ag, Nanadatjie, jy maak my ou hart nou baie bly. En doen my die guns: terwyl jy vakansie hou, dink hard en goed na oor die stap wat jy gaan neem om met Martin te trou terwyl jou hart aan ‘n ander man behoort. Al is hy nie vir jou beskore nie, kan daardie gevoel vir altyd dalk tussen jou en ‘n gelukkige huwelik staan.”
Nonanda laat haar oë sak en fluister: “Ja, Oom.”
“Nou toe, kind, weet jy dalk waarheen jy vir die paar dae wil gaan?” verander oom Doons die gesprek haastig.
Nonanda frons terwyl sy ‘n stonde lank dink en dan verhelder haar gesig.
“Ja, Oom, Ek wil na daardie afgeleê strandjie toe gaan waar ek vir oupa Robbie ontmoet het.”
Oom Doons staan op en tel haar leë koppie op. “Nou toe, kind, sorg net dat jy op en wakker terugkom en soos my ou Nandatjie van weleer lyk. En die keer bly die nuwe klein Snuffie hier by my agter, gehoor!”
Nonanda glimlag sag met hom en hy stap weg. Onmiddellik is haar gedagtes weer op Voëlparadys, maar sy staan haastig op om haar lastige gedagtes onder nog meer werk te gaan begrawe.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s