Deel sestien, en die slot van Nonanda se paradys.

Standard

Gys voel hoe die opgewondenheid deur hom bruis toe hy die deurklokkie van die losieshuis se knoppie druk. Elke oomblik nou gaan hy weer vir Nonnie sien!
Gys laat sy ingehoue asem stadig uit toe hy aankomende voetstappe hoor. Die man met die ylwordende hare wat voor hom verskyn, is omtrent sy ma se ouderdom, skat hy.
“Naand, Meneer. As u op soek is na ‘n kamer om te oornag, dan is u gelukkig, want ek het nog net een beskikbaar,” sê die man vriendelik. “Die van is Swart.”
“Goeienaand, meneer Swart. Ek is Gys Burger. Aangename kennis,” antwoord Gys en steek sy hand uit om die man ‘n stewige handdruk te gee. “Eintlik is ek op soek na ene Nonanda Muller. Ek verneem dat sy hier by die losieshuis in diens is?” vra hy die vraag wat brandend in hom lê.
In diens is? wonder oom Doons fronsend en kyk nou met meer belangstelling na die groot man hier voor hom. So, dit is die man wat sy Nandatjie se hartjie in die holte van sy groot hand vashou. Hy weet dat sy met Gys se oupa korrespondeer en volgens haar weet die oupa tog dis haar losieshuis. En waarom wil die man haar nou skielik weer sien?
“Ek is bevrees sy is nie hier nie, meneer Burger,” antwoord oom Doons.
Die opgewondenheid in Gys maak plek vir ‘n neerdrukkende gevoel. Sy is nie hier nie.
“O!” sê hy en probeer om die teleurstellende nuus te verwerk terwyl hy na woorde soek.
“Kan ek miskien vir haar ‘n boodskap gee wanneer ek weer van haar hoor?” vra oom Doons versigtig.
‘n Tikkie hoop vlam in Gys op. “Meneer Swart, weet u dalk waar sy is?”
Oom Doons se wakker oë het eers die teleurstelling op die groot man hier voor hom se gesig gesien en nou sien hy weer die hoop wat in sy donker oë opvlam. Hy wat Doons is, verstaan dit nou nie so mooi nie. Nonandatjie het gesê Gys gaan met sy witkop trou. Hoe is dit dan nou dat die man vol teleurstelling hier staan en rondtrap omdat hy nie vir Nanandatjie te sien kan kry nie? Iets is darem nie lekker pluis nie en hy wat Doons is, gaan nie die een wees wat die meisiekind se welverdiende kort vakansietjie in die wiele ry ter wille van ander se grille en giere nie.
“Sy is met vakansie, ou seun,” gee hy dus ‘n ontwykende antwoord.
“Vir hoe lank? Ek bedoel, wanneer kom sy weer terug?”
“Eers volgende Donderdag. Het jy al die pad van Lydenburg se wêreld af hierheen gekom net om vir Nandatjie te kom sien?”
“Ja, Meneer,” antwoord Gys bedruk.
“Jy sal maar hier moet oornag, want jy kan tog nie vanaand nog weer die pad terug aanpak nie. En sê tog asseblief vir my oom Doons. Ek hou g’n van die meneer-meneer nie,” opper oom Doons sy gedagtes terwyl hy omdraai en terug na die ontvangstoonbank toe stap.
Gys volg hom met trae voete. “Oom weet nie dalk waar sy gaan vakansie hou het nie?” probeer Gys weer hoopvol.
“As jy haar werklik graag wil sien, seunie, dan sal jy maar volgende week weer moet terugkom, of hier moet bly tot dan toe, want die dogter het iewers na ‘n stil plekkie toe gegaan om te gaan uitrus,” ontwyk oom Doons weer eens ‘n direkte antwoord. “Gaan jy nou ‘n kamer neem, of wil jy liewer na ‘n hotel toe gaan?”
“Ek sal die kamer neem, dankie, oom Doons. Ongelukkig kan ek nie die volgende week vertoef nie, daar is te veel dinge op die plaas wat nou my aandag vereis.”
“Nou gaan haal solank jou bagasie. Ek bestel gou vir ons elkeen ‘n koppie koffie. Dis al laat en die kombuispersoneel is al huis toe, maar hier is darem altyd so een outjie wat deur die nag agterbly. Kan ek vir jou ‘n toebroodjie saam met die koffie aanbied?”
“Dankie, Oom. ‘n Eetdingetjie sal nogal nou lekker smaak,” antwoord hy dankbaar toe hy die eerste keer sedert die oggend van die hongerpyne in sy maag bewus word.
Hy gaan haal sy tas, neem sy kamersleutel by die ou man en gaan sit die tas in die slaapkamer neer. Hy spoel sy gesig met koue water af, kam sy hare en gaan terug na die voorportaal waar oom Doons vir hom wag.
Niks vol aansit en ook niks met sy eetlus verkeerd nie, merk oom Doons op toe hy sien hoe smaaklik Gys aan die eenvoudige toebroodjies weglê en daarna sy koppie weer vol koffie skink.
“Dankie, Oom. Dit was nou heerlik. My ou ingewande kan nou weer tot môre hou,” glimlag Gys. “Dan sê ek maar eers nag, Oom.”
“Nag, ou seun,” sê oom Doons ingedagte en kyk na Gys se fors liggaamsbou voor hy na sy kamer toe wegstap. Die kêrel lyk vir hom na ‘n agtermekaar soort mens en hy wonder of hy nie maar Nandatjie se vakansie-adres aan hom moet gee nie.
Maar dan besluit hy weer daarteen, want hy wil nie die oorsaak daarvan wees dat die ou meisietjie dalk van voor af seergemaak word as jy die seun verkeerd opgesom het nie.
In die vreemde losieshuiskamer is dit vir Gys asof hy glad nie heeltemal so vreemd daar voel nie. Dis amper asof hy Nonnie se teenwoordigheid daar kan aanvoel, asof haar stempel op alles in die kamer afgedruk is. Hy is egter dwalend en stap van die een muur na die ander terwyl hy homself probeer motiveer om in die bed te klim en die lig af te skakel. Dis egter eers baie laat die nag voordat hy van pure moegheid sommer so met klere en al gaan lê en in ‘n rustolose slaap verval.

Terug op Voëlparadys verdiep Gys hom in sy werk agter sy tikmasjien. Die meeste verwoeste voëlhokke is herbou en die stoepkamer is ook herstel. Die verwers is nog net nie klaar met die mure nie.
Aangesien die plaas tydelik vir toeriste gesluit is, dwaal oupa Robbie ook maar so tussen die werkers rond. Hy is bekommerd oor Gys. Waarheen die seun so paar dae gelede was, weet hy nie, maar sedert hy teruggekom het, werk hy soos ‘n besetene. Die afgelope twee nagte toe hy opgestaan het om in die nanag ‘n pypie op die voorstoep te rook, het hy gesien Gys se studeerkamerlig steeds brand.
“Oupa, weet Oupa miskien waarheen Willem is?” vra die onderwerp van sy gedagtes skielik hier agter hom waar hy staan en kyk hoe die werkers werk.
Oupa Robbie kry ‘n geamuseerde trekkie tussen sy oë. “Ja, Gys, hy het glo saam met ene Santa gaan tennis speel en vanaand gaan hy haar ook na ‘n tennisdans vergesel.”
“Santa?” vra Gys fronsend en dan verhelder sy gesig. “O, ja, dis die meisie wat saam met ons op die waarnemingstog was. Sy is ‘n aangename entjie mens, maar ek het nie geweet Willem ken haar so goed nie.”
Oupa Robbie krap die ou as uit sy kromsteelyp en begin dit tydsaam met vars tabak stop. Hy kyk skerp na sy kleinseun.
“Wat hinder jou, Gys, ou seun?”
“Niks nie, Oupa.”
“Nou hoe kan dit niks wees nie as jy soos ‘n besetene tot snags wie weet wanneer agter jou tikmasjien sit en werk en net so nou en dan in die dag soos ‘n gees hier buite ronddwaal? Waarheen het jy nou die dag verdwyn?” vra sy oupa vieserig met opgetrekte wenkbroue.
Gys sug en gaan op die omgevalle boomstomp langs sy oupa sit. Hy neem sy oupa nie kwalik dat hy so reguit met hom praat nie, want so ken hy hom maar sy lewe lank, en hy weet dat dit uit opregte besorgdheid spruit.
“Ek het na Nonnie toe gegaan, Oupa.”
“Nou toe nou. Hoe gaan dit met Nonnietjie?” vra sy oupa nou verras.
“Ek het verniet gery, want sy was nie daar nie. Glo met vakansie en die eienaar van die losieshuis weet blykbaar nie waarheen sy gegaan het nie, anders wil hy my nie sê nie. Hy sê net sy het iewers na ‘n stil plekkie toe gegaan het om te gaan rus .” Hy haal sy skouers ongeduldig op. “Waarheen sou sy tog gegaan het, Oupa?”
Die eienaar van die losieshuis? Wonder oupa Robbie fronsend, maar dan onthou hy dat hy nog nooit vir die ander vertel het van Nonnie se agtergrond nie.
“Gys, ou seun, voordat ons verder hieroor gesels, is daar eers iets anders wat ek jou wil vertel. Die losieshuis is eintlik Nonnie se eiendom en daardie oubaas bestuur maar net die plek in haar afwesigheid.”
Gys se gesig vertrek komies soos hy die inligting probeer verwerk en sy oupa gaan voort om te vertel van sy ontmoeting met Nonnie en hoe dit gekom het dat hy haar gevra het om op Voëlparadys te kom werk vir die twee maande. Toe sy vertelling ten einde loop, heers daar ‘n paar oomblikke stilte voordat Gys eindelik praat.
“Wat Oupa nou vir my wil wysmaak, is dat Nonnie destyds nie seker was of sy met Martin moet trou nie omdat sy blykbaar nie geweet het of sy hom lief genoeg het nie?”
“Dis so, ja, Gys,” antwoord sy oupa met die kromsteel wat nou stil in sy een mondhoek hang.
“En intussen het sy toe tot die besef gekom hy is tog maar dié liefde in haar lewe is en dat sy met hom wil trou?” vra hy weer en sy stem klink beheers, maar sy hart wil by sy keel uitspring van ‘n opgewondenheid wat aan hom ‘n bewerasie wil gee. Sê nou maar net Nonnie is tog nie heeltemal seker nie, dat sy pure jammerte teenoor Martin voel?
Hy moet haar eenvoudig sien voordat sy aan Martin verloof raak en dalk die grootste fout van haar lewe began. Wanneer hy nou aan die kere terugdink toe Nonnie in sy arms was, kan hy hom herinner dat dit by tye vir hom gevoel het asof dit ook presies was wat sy verlang het. Durf hy hoop Nonnie het ook vir hom, Gys, ‘n gevoel ontwikkel, maar dat sy ‘n verpligting teenoor Martin voel en onder die indruk verkeer hy, Gys, met Bonita gaan trou en daarom so haastig was om hier pad te gee?
“Gys?” praat oom Robbie dié keer ‘n bietjie harder, want dit lyk asof die seun in ‘n dwaal is en hom glad nie hoor nie.
Gys skud verdwaas sy kop. “Ekskuus, Oupa, maar ek was maar net baie ingedagte. Wat sê Oupa?”
“So het ek gesien , ja. Ek wil weet waarom dit vir jou so belangrik is om te weet waar Nonnie is?’
“Ek moet met haar praat, Oupa. Hoe gouer, hoe beter,” kom sy antwoord dringend en vir die ou man lyk dit asof daar ‘n amper koorsige lig in sy kleinseun se oë brand. En skielik verstaan oupa Robbie sommer net alles en ‘n warm lekkerte vou om sy hart.
“Jy bedoel, voordat sy en Martin gaan trou?”
“Ek … ek … wel, ja, Oupa.”
Oupa Robbie lag saggies. “Ek weet waar sy is, ou seun.”
Gys spring op. “Nou hoekom sê Oupa dan nie so nie?” vra hy hard.
“Wel, voor nou het ek nie geweet dat jy so intens in Nonnie se doen en late belangstel nie. In elk geval, ek gaan nie nou haar adres vir jou gee nie, want dis al laat en ek gaan nie toelaat dat jy deur die nag ry om daar te kom nie. Kry eers ‘n goeie nagrus agter die blad, en dan sal ek môre die adres gee sodat jy kan ry.”
“Asseblief, Oupa, gee dit nou.”
“Nee,” kom die ou man se antwoord ferm. “Jy het nagte laas geslaap. Jy sal verongeluk.”
“Wat moet ek tog doen as ek in elk geval nie kan slaap nie?” vra Gys ongeduldig.
“Het jy nog nooit van daardie gesegde gehoor dat jy moet lê skape tel om aan die slaap te raak nie?” vra sy oupa tergend.
Gys grinnik. “Dit help nie vir my nie, want hulle geblêr hou my wakker.”
Oupa Robbie staan ook nou op en lag vir die pittige antwoord. Dan lê hy sy ou eelterige hand op Gys se skouer.
“Ek bedoel dit, ou seun. Rus eers vannag goed uit. Gaan vra vir Bes ‘n pilltetjie en kruip dan sommer vroeg in die vere,” sê hy nou weer ernstig en stap dan terug huis toe.
Gys voel magteloos teen die onversetlikheid van sy oupa, maar hy besef ook die logika in die ou man se redenasie. Daarom trek hy sy skouers gelate op en stap met lang hale aan kombuis toe. Hy sal maar sy oupa se raad volg en hoop die ure tot môre toe vlieg verby.

Nonanda word wakker toe die daglig skaam-skaam haar kamer begin binnedring. Dis nou soggens bitter koud en sy trek die komberse nog hoër op sodat net haar neus en oë aan die bokant uitsteek.
Dis haar laaste dag hier voor sy môre na oom Doons en haar losieshuis toe moet teruggaan. Sy hoop die son gaan weer so mildadig soos gister skyn, want dit sal lekker wees om vir oulaas teen die lang, skoon strand te gaan stap.
Sy moet weer ingeslumier het, want toe sy weer wakker skrik, skyn die son heerlik by haar venster in. Haastig staan sy op, trek aan en kyk tevrede na haar beeld in die spiel. Die tydjie hier het haar werklik goed gedoen. Daar is weer ‘n bietjie kleur in haar wange en die donker kringe onder haar oë het die wyk geneem.
En tog het dit alles nie meegebring dat sy die verlange na Gys in haar hart kon doodsmoor nie. Sy vrees die oomblik wanneer sy weer vir Martin in die oë moet kyk en sy verloofring moet aanvaar.
Na afloop van ‘n heerlike ontbyt, stap sy weg in die rigting van die rotse waar sy en oupa Robbie mekaar ontmoet het. Dis ‘n heerlike windstil dag en onder haar arm het sy ‘n groot handdoek om op te sit, en ‘n lekker leesboek. Sy soek haar geliefkooste plekkie tussen die hoë rotse uit en gaan sit met haar rug teen die rotse geleun.
‘n Lang ruk sit sy net na die see en staar. In haar ore klink die geruis van die branders en die gekras van die seemeeue soos rustige musiek. Geleidelik betrek ‘n lomerigheid haar nog voor sy haar leesboek kan oopmaak.
Dis eers toe koue waterdruppels in haar gesig spat dat haar oë verwilderd oopvlieg. Sy kyk vas in Martin se gesig en vlieg verbaas orent.
“Martin! Wat maak jy hier? Hoe het jy geweet waar om my te kry?”
“Ek het ‘n bietjie met oom Doons gaan gesels, Nonanda,” antwoord hy en Nonanda verskerp haar blik toe sy ‘n ondertoon van gelatenehid in sy stemtoon bespeur.
“Natuurlik, hoe dom van my. Maar ek het jou eers oor ‘n week terug verwag,” antwoord sy en elke senuwee in haar liggaam is ineens gespanne Sy loop egter vorentoe en soen hom liggies op sy lippe.
Martin se arms gaan stewig om haar lyf en hy trek haar styf teen hom aan. Sy lippe kom hongerig op hare neer, maar net so skielik laat hy haar weer vry en draai half sy rug op haar asof hy skaam oor sy onbeheerste optrede is.
“Nonanda, ek wil nie meer met jou trou nie …” kraak die woorde onverwags uit sy mond uit.
Nonanda se hart mis ‘n slag. “Ekskuus?”
“Ek … ek weet van Gys. Ek weet jou hart behoort aan hom.”
Oom Doons. Sy neem Martin se hande in hare en kyk hom in sy oë voordat sy praat.
“Ja, Martin, maar hy het my nie lief nie en hy gaan met Bonita trou. En jy hét gesê jy gee nie om dat ek jou nie op dieselfde manier liefhet as wat jy my het nie,” antwoord sy sag en kyk vraend na hom.
“Nie meer nie, Nonanda … nie meer nie. Ek wil óf alles óf niks hê. Ek het besluit dat ek nie meer met so ‘n halfgebakte gevoel van jou sal kan tevrede wees nie,” antwoord hy nou ferm.
“Ek … ek is jammer. En nou, Martin?” vra sy en laat sy hande verslae los.
“Nou gaan ons maar voort asof ek jou nooit gevra het om met my te trou nie. Ek … ek sal jou in elk geval nie baie gou weer sien nie. Die firma het my ‘n pos in die Kaapstadse kantoor aangebied en ek het besluit om dit te aanvaar. Ek wou dit self vir jou kom sê en daarom het ek hierheen gekom, want ek moet môre al vertrek,” kom sy antwoord, en die ferm finaliteit waarmee hy dit sê, laat by haar geen twyfel dat hy elke woord daarvan bedoel nie.
Sy blik hom ontsteld aan. “Jy … ons moenie heeltemal vervreemd raak nie, Martin, asseblief. Ons was in hierdie stuk tussenspel bloot slagoffers van omstandighede, jy net meer as ek, maar ek vra baie mooi: bly asseblief my vriend?” pleit sy innig en stap tot voor hom.
Martin kyk af in haar oë wat nou in trane swem en net hy weet wat dit van hom verg om haar nie in sy arms op te raap en haar nooit weer te laat gaan nie. Hy het haar so lief, maar oom Doons het mooi met hom gepraat en verduidelik dat Nonanda die soort vrou is wat net een maal werklik lief kry – en sy het vir Gys lief. Al is Gys nie haar deel nie, sal hy wat Martin is altyd wanneer hy haar in sy arms neem, wonder of sy nou aan Gys dink, en mettertyd sal dit hul verhouding erg benadeel, selfs vernietig.
“Martin,?” dring haar stem tot sy gedagtes deur.
“Ekskuus, Nonanda, ek was maar net ‘n oomblik lank ingedagte … oor die nuwe werk, jy weet,” verdraai hy die waarheid om haar gevoelens nie seer te maak nie. Hy plaas sy hande sag op haar skouers en trek haar weer teen sy bors aan, dié keer sonder die drif van vroeër. “Natuurlik bly ek jou vriend, meisie, altyd.”
Nonanda kyk na hom, sien sy dierbare, bekende gelaatstrekke en teken met haar vinger paadjies oor sy voorkop en wang. “Dankie, my vriend, baie dankie, en ek is so jammer oor alles,” fluister sy, lig haar lippe vir hom, en dié keer ontvang sy ‘n teer, broederlike soen.

Gys is moeg toe hy weer op Voëlparadys stilhou. Hy het ononderbroke gery sonder om iewers te oornag. Hy strompel sy studeerkamer binne en sak tam op die bank neer.
“Gys? Ek wou mos sê dis jou motor wat ek hoor kom het. Is Nonnie nie daar nie, of hoekom is jy so gou weer terug?” vra oupa Robbie uit die deur sonder om te groet.
“Sy is daar, Oupa, maar Martin is ook daar. Hulle het soos twee verliefde tieners daar op die strand tussen die rotse aan mekaar gehang,” antwoord hy deur stywe lippe.
“O!” kom dit teleurgesteld van sy oupa. “Ek is jammer, ou seun.”
Gys reageer nie en sy oupa kyk nog ‘n oomblik lank stil na hom en stap dan haastig na die telefoon in die sitkamer. As hy reg onthou, vertrek Nonnie eers môre terug na die losieshuis.

Laat namiddag die volgende dag dwaal Gys rusteloos tussen die hokke rond. By die hok met die muisvoëltjies gaan hy staan. Hy glimlag effens toe hy sien hoe naarstig die tweetjies al weer ‘n nuwe nessie bou. Hy sal hulle maar laat begaan, want dis soos Nonnie dit wou gehad het, dink hy.
Nonnie, pyn dit in hom. Sy gedagtes draai al die hele dag lank om haar en hy sien aanhoudend hoe besitlik Martin haar daar op die strand omhels, hoe sy haar lippe vir hom hou. Dit voel of hy gaan gek word. Hy weet hy moet aanvaar sy is nie vir hom bedoel nie, maar hy het nooit geweet dit sal so moeilik wees nie.
“Gys?”
Sy verbeelding speel met hom parte, dink hy en swaai om, maar daar staan sy tog.
“Nonnie! Wat … wat maak jy hier?”
“Ek het net kom hoor of ek nie dalk my ou werk kan terugkry nie,” antwoord sy en kyk stip na hom.
Haar blik onsenu hom. “Ek … verstaan nie. Jy gaan dan met Martin trou,” praat hy met ‘n stem wat onvas is van emosie oor haar onverwagte verskyning.
Sy skud haar kop. “Nee, ek gaan nie meer nie. Dit wat jy gesien het, was maar net die vaarwelgroet,” sê sy sag.
“Hoe weet jy ek was daar?” vra hy nou fornsend terwyl sy hart meteens wild in hom begin tekere gaan.,
“Oupa het my gebel.”
Hy lig sy wenkbroue. “O? En wat het Oupa jou nog alles vertel?” vra hy skor.
“Maar net dat jy nie met Bonita gaan trou nie en … en jy soek dringend na my.”
Hy stap tot voor haar. “Ja, ek het jou gesoek, want ek was bang jy trou met Martin voordat ek die kans gehad het om te sê dat ek jou liefhet …”
Nonanda vroetel in haar langbroek se sak en kom dan met ‘n verfrommelde briefie te voorskyn. “En dié, Gys? Waarom dan die brief wat jy saam met Bonita daardie oggend vir my gestuur het?” vra sy verward.
Gys kyk verstom na die woorde op die stuk papier, maar dan gaan daar vir hom ‘n lig op. Dis Bonita se werk. Hy onthou hoe perfek sy daardie dag sy handtekening nagemaak het … en van al haar ander leuens en bedrog om hom van Nonnie af weg te hou. Dus het Nonnie nooit sy werklike brief gekry nie. Haastig verduidelik hy dit aan haar en vertel woord vir woord wat hy regtig vir haar geskryf het.
Skugter laat sy haar oë sak, maar hy lig haar ken en die brandende liefdesglans in sy donker oë is op hierdie oomblik ‘n egte spieëlbeeld van haar eie.
“Ek het jou lief, Nonnie, baie lief. Sal jy asseblief met my trou?” vra hy skor.
“Ja … ‘n duisend maal ja, want ek het jou ook lief, Gys,” fluister sy teen sy oor toe hy sy arms besitlik om haar vou.
Hy praat nie verder nie. Sy lippe is op hare. Eers sag, versigtig, dan vuriger, hartsogtelik. Sy kragtige liggaam is styf teen hare, sy hande beweeg dringend oor haar liggaam, en sy soen hom terug met ‘n honger wat nie wil stil word nie.
Dis asof Voëlparadys se voëls op die agtergrond op vrolike wyse uiting gee aan dit wat hulle aanskou. So ‘n entjie verder suig oupa Robbie met smaak aan ‘n kromsteelpyp waarvan die tabak al lankal nie meer brand nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s