Deel veertien van Nonanda se paradys

Standard

Daar heers ‘n senutergende stilte in die kamer waar Gys lê. Hy wonder waarom bly Bonita so lank weg, of is dit maar net omdat hy gretig is om Nonanda se antwoord te kry dat dit vir hom so oneindig lank voel?
Hy verbeel hom hy hoor iets en spits sy ore. Dis die gedreun van ‘n aankomende voertuig. Hy weet dis nie Bonita nie, want sy is te perd hier weg. ‘n Motordeur klap en kort daarna lui die deurklokkie. Hy hoor die deur oopgaan en neem aan dat Henna, die huishulp, die deur gaan oopmaak het.
Gys is dus nie verbaas toe daar ‘n man in sy kamerdeur verskyn nie. Hy is lank en skraal en agter sy goueraambril flits twee wakker blou oë toe hy by Gys se bed tot stilstand kom. Gys herken hom as dokter Stegman wat die vorige aand daar by hom was.
“Môre, meneer Burger. Ek is bly om te sien jy lyk soveel beter as wat jy verlede nag gelyk het. Kan ek asseblief na die been kyk?” vra hy vriendelik.
“Môre, Dokter. Ek voel beter, dankie, en kyk gerus maar na die been.”
Na ‘n kort oomblik maak hy die been weer toe en knik goedkeurend vir Gys.
“Alles lyk goed, meneer Burger. Jou been toon geen tekens dat hy geswel is nie. Dit beteken die gipsverband pas nie te styf nie en dus nie jou bloedsomloop belemmer nie. Verduur jy baie pyn?”
“Dis nie te erg nie, Dokter. Daar is net een probleem, ek sal baie graag wil huis toe gaan om daar te gaan aansterk.”
Dokter Stegman frons verward. “Dit kan gereël word, maar juffrou Olivier het my laat verstaan jy sou nie omgee om hier te bly nie.”
“Wel, miskien moes sy my eers in daardie verband geraadpleeg het,Ddokter, want indien dit so gereël kan word, sal ek dit baie waardeer as ek liewer kan huis toe gaan,” kom Gys se besliste antwoord.
“Goed. Laat weet jou mense hulle kan by my spreekkamer vir jou ‘n paar krukke kom haal, want jy moet die been absoluut laat rus. Aangesien jy nog perdgery het nadat die been reeds gebreek was en hulle jou daarna nog ingedra het huis toe ook, is die weefsel rondom die breuk baie week en moet die been dus so onbeweeglik moontlik gehou word. Afgesien daarvan, is dit ‘n redelik oningewikkelde breuk en behoort dit nie te lank te neem om te genees nie. Wanneer hulle die krukke het, kan hulle jou maar kom haal.”
“Ek sien,” antwoord Gys en sy oë skreef toe hy daaraan dink dat Bonita dan gesê het dat sy been so lelik gebreek is. “Ek sal bly wees as Dokter sommer self gou bel.”
“Natuurlik, gee my die nommer. Ek bel net buite, ek sien die ontvangs hierbinne is nie baie goed nie,” antwoord die dokter na hy sy foonklappie oopgemaak het. Gys gee die nommer.
Na ‘n rukkie kom hy weer die kamer binne.
“Alles is gereël, hoor. Jou broer sê hy gaan sommer nou dadelik ry. Terwyl ek daar binne was, het hierdie selfoon gelui, en ek het dit sommer vir jou saamgebring, want ek wou dit nie antwoord nie. Dan groet ek eers, maar ek sien jou mos weer wanneer ons die gips moet verwyder, né?”
“Ja, Dokter. Nogmaals baie dankie vir alles,” groet Gys dankbaar, maar die frons op sy voorkop spreek van verwarring. Dis Bonita se foon. Sy het gesê dis stukkend!
Dokter Stegman se motor se dreuning was nog aan die vervaag, toe hoor Gys Bonita is in aantog, maar hy skakel nogtans Voëlparadys se nommer vanaf haar selfoon.
Sy kom stil in sy kamerdeur staan en kyk na hom, haar oë wydgerek toe sy die telefoon gewaar. Daar is geen antwoord nie en Gys maak die foonklappie stadig toe en kyk nors na haar.
“En? Het jy vir my ‘n brief van Nonnie af saamgebring?” vra Gys en beur teen die kussing orent in afwagting op haar antwoord.
“Wel, Gys, sy het jou brief gelees, maar sy sê dat dit glo nie vir haar nodig is om aan jou terug te skryf nie. Sy sê sy en Martin gaan onmiddellik trou wanneer sy nou teruggaan. Sy besef nou eers hoe lief sy hom regtig het en wil nie langer sonder hom wees nie.”
“O, en waarom het jy gelieg oor die telefoon?” vra Gys en sak verslae teen die kussings terug. Wel, wat het hy dan ook nou eintlik verwag? Dat Nonnie in sy arms sal inhardloop en haar troubelofte aan Martin sommer net so in die wind strooi?
“Ek gaan vir ons tee haal,” sê Bonita asof sy nie sy vraag gehoor het nie en draai haastig om voordat Gys die beangsde blik in haar oë kan gewaar.
Gys hoor haar nie eens nie. Hy sug diep. Hy wil nie hier met ‘n gebreekte been lê nie. Dit het veroorsaak dat hy nie self met Nonnie kon gaan praat het nie. Nog ‘n sug ontsnap sy lippe by die besef al sou hy met Nonnie kon gaan praat het, dit nie iets aan die situasie sou verander het nie. Nonnie het hom nie lief nie; sy het vir Martin lief en hulle gaan binnekort trou.
Bonita kom die kamer binne met hul tee en terwyl sy die tee skink, loer sy onderlangs na die stroewe uitdrukking op Gys se gesig. Sy plaas sy tee op die bedkassie naby aan hom en gaan dan langs hom op die bed se rand sit.
“Haai, ou grote, ‘n gebreekte been is nie die einde van die wêreld nie. Onthou ek is darem nog hier en ek sal mooi na jou kyk,” sê sy asof sy geen benul het waarom hy nou eintlik so swaarmoedig is nie.
Gys kyk na Bonita en frons ernstig. “Dokter Stegman was hier terwyl jy weg was. Hy sê ek kan maar huis toe gaan sodra Willem vir my ‘n paar krukke daar by hom kom haal het,” sê hy en hou haar stip dop. Sy verstyf.
“Ek sien … “ is al kommentaar wat sy lewer.
“Waarom het jy vir my gelieg, Bonita? Jy het gesê dat die been lelik gebreek is en dat ek verkieslik nie nou al vervoer mag word nie. Dokter Stegman sê dis ‘n eenvoudige breuk en ek mag vervoer word. Jy het ook oor die telefoon gelieg. Hy het jou foon hoor lui in die huis, en dit vir my gebring.”
Bonita dink vinnig. Sy het nie daaraan gedink dat die dokter so vroeg vandag weer sou kom nie. So, dan is dit hoe die telefoon by Gys gekom het. Gelukkig het hy blykbaar gaan antwoord gekry nie. Sy wou hier wees wanneer die dokter weer kom sodat sy kon keer indien die gesprek in die verkeerde rigting dwaal, maar nou is dit gedane sake. Nou sal sy maar ‘n ander taktiek moet probeer sodat Gys darem nie vir haar kwaad is nie, besluit sy en glimlag skalks na hom toe.
“Wel, jy kan ‘n meisie darem seker nie blameer as sy ten minste probeer om die man van haar hart langer naby aan haar te hou nie, of hoe?”
Gys is egter geensins beïndruk nie. Hy skud sy kop en lig sy wenkbroue vermanend.
“Maar nie met sulke flagrante leuens nie, Bonita. Die gevolge van sulke tipe leuens keer gewoonlik soos ‘n boomerang na jou toe terug. Onthou dit.”
Dit stoom in Bonita se binneste, maar sy weet dit sal haar nou niks in die sak bring indien sy haar vererg nie. Nou sal dit die heel beste wees om maar saam te stem en soedoende die hele episode op die agtergrond te skuif. Gelukkig is Nonnie al teen dié tyd weg.
Sy slaan haar oë kamma verleë neer. “Ja, Gys, eintlik weet ek jy het reg. Vergewe my, asselbief, maar ek het niks kwaad bedoel nie, hoor.”
“H’m,” mompel hy net. Hy is nie nou in die luim om verder met haar te praat nie. Hy wens Willem wil gou maak sodat hy hier kan wegkom.

Dis al baie laat toe Nonanda voor die losieshuis stilhou en uit haar motor klim. Sy leun teen die motor en laat haar oë oor die gebou dwaal asof sy jare lank weg was. Alles lyk nog dieselfde, maar wat het sy dan ook nou verwag, sy was nie eens twee volle maande weg nie.
Tog sien sy iets wat nie voorheen daar was nie. Sy glimlag. Dierbare oom Doons. Sy het al dikwels in die verlede gesê dis die een ding wat sy nog wil laat doen . Die tuinpaadjie tot by die voordeur was nog altyd in die aand te donker na haar sin. Nou is daar spreiligte wat die paadjie so helder verlig dat Nonanda die veelkleurige stene waarmee die paadjie uitgelê is, duidelik kan sien.
Dis asof die ligte verwelkomend en vriendelik net vir haar skyn en meteens kry haar verstokte ledemate lewe.
Sy glimglag toe sy oom Doons se ylbehaarde kop bokant die ontvangstoonbank sien uitsteek.
“Naand, oom Doons,” groet sy sag.
Die oubaas se kop ruk op van die boek af waarin hy sit en lees. Dan glimlg hy breed, sy fletsblou oë vonkelend.
“Tag, Nandatjie, ek dog ek hoor verkeerd, maar dis sowaar jy wat in lewende lywe hier voor my staan. Naand, kind,” rasper sy ou stem aangedaan en hy stap om die toonbank om haar ‘n klapoen op die mond te gee. Dan hou hy haar ’n armlengte van hom af weg en kyk bespiedend in haar gesig op.
“Sou jy dan nie twee maande weggebly het nie, Nandatjie?”
“Wel, ja, oom Doons, maar dis nie meer nodig nie …”
“Jy bedoel, jy het jou antwoord?”
“Ja, Oom. Ek en Martin gaan trou,” antwoord sy sag, maar skielik vind sy dit moeilik om in die vaderlike ou man se oë te kyk en blydskap oor die feit te veins.
“Is jy doodseker dis wat jy wil doen, Nonandatjie?” vra hy en nou het ‘n waaksaamheid in die ou man se oë gesluip.
“Ek kan seker slegter doen as om met Martin te trou, Oom.”
Oom Doons los haar en draai om. “Wat van ‘n bietjie tee, kind?” vra hy en beduie vir haar om saam met hom agter die toonbank in te kom.
Sy gaan sit op die stoel wat hy vir haar regskuif en wag totdat hy ook sit. Sy weet hy is nog nie klaar met haar nie. Daarvoor ken sy hom te goed.
“Dankie, Oom. Tee sal nou lekker smaak.”
“Nandatjie, die punt is net: het jy Martin lief? En ek bedoel nou nie die broer-en-suster soort liefde nie, ek bedoel lief soos wat ‘n vrou haar man moet hê?”
Die heerlike, soet geur van die rooibostee styg in haar neusgate op en sy proe-proe eers liggies aan die warm vog terwyl sy haar antwoord versigtig oorweeg.
“Ek weet net dat ek vir hom lief is, Oom, maar hy het my ook lief en hy sal ‘n goeie man vir my wees.”
Oom Doons betrag haar stilte, die uitdrukking op sy gelaat vol kommer. Nou weet hy iets het met sy Nandatjie tydens hierdie afgelope twee maande gebeur. Sy klink so gelate, nie soos hy haar ken nie. En waar is die opgewonderheid van ‘n jong, voornemende bruid dan?
“Wanneer wil julle trou?”
“Ons het nog nie op ‘n datum besluit nie, Oom. Ek … ek dink egter nie Martin wil te lank meer wag nie.”
Daar is dit weer, dink hy en sy kommer groei. Sy sê Martin wil nie te lank wag nie … Wat van haar? Hoe voel sy regtig?
“Vertel ‘n bietjie vir my wat het jy die afgelope tyd nadat jy hier weg is met jouself aangevang,” verander hy die rigting van hul gesprek.
Kortliks vertel sy hom wat alles met haar gebeur het sedert sy by die losies huis weg is. Net oor haar liefde vir Gys swyg sy suinig.
“En nou is ek terug, Oom. Maar waarom vra oom Doons so baie vrae? Is Oom dalk van plan om my in die steek te laat? Moenie so sê nie, asseblief? Oom sal darem seker nog hier bly en vir my help, of hoe?”
“Natuurlik, kind. Ek sien net nie kans om die besigheid permenant so alleen te behartig nie, want ek raak mos darem nou te oud vir die klas dinge,” lag hy.
Nonanda tuit haar lippe en draai haar kop skeef toe sy tergend antwoord: “Oom Doons sal nooit regtig oud word nie, en as ek nou nie op trou gestaan het nie en so ‘n bietjie nader aan Oom se ouderdom was, dan het ek nou kliphard probeer om Oom kansel toe te sleep.”
Die ou man stryk verleë sy yl haartjies glad en staan op.
Ag, kind! Kom laat ons jou bagasie by jou motor gaan haal. Hier is jou motorhuis se sleutel.”
Met haar hand vertroulik in oom Doons s’n, stap hulle saam na buite.
Nonanda steek vas. “O, ek wou nog sê, die spreiligte lyk te pragtig, Oom. Baie dankie dat Oom dit laat aanbring het,” sê sy waarderend.
‘n Paar oomblikke later toe Nonanda haar ou bekende kamer binnestap, laat sy haar oë met deernis oor die meubelstukke gly. Jare lank was dit haar klein heiligdom hierdie en was sy nêrens anders so tuis as juis hier nie. Waarom voel dit vanaand vir haar asof daar iets ontbreek?
“Hoe voel dit om terug te wees, Nandatjie?” vra oom Doons sag agter haar en toe sy omdraai, sien sy hom met haar twee tasse in die deur staan. Hy kom nader en plaas die tasse op die bed.
Nonanda aarsel, sluk onwillekeuring die trane weg, haar oë onbewustelik pleitend in dié van Oom Doons toe sy antwoord.
“Dis mos maar my ou wêreldjie hierdie, Oom, dan nie? Op Voëlparadys het ek ‘n ander wêreld leer ken, een wat ek iets gevind het wat vir my baie kosbaar is, maar wat nie vir my beskore is nie. Ek hoort maar hier …”
Oom Doons se oumensoë word troebel toe hy hoor hoe haar laaste woorde in ‘n wanhoopsnik eindig.
“Nandatjie?” vra hy, steek sy arms uit en trek die snikkende meisie teen sy ou bors vas. Hy het geweet dat daar iewers iets met haar verkeerd is. “Waarvan praat jy, kindjie? Kom vertel vir my … Jy weet tog jy kan jou ou oom alles vertel,” sê hy skor.
“Ek … ek het so … so lief vir hom geword, oom Doons …” praat Nonanda gesmoord hier onder sy ken.
Hy streel haar hare en frons onbegrypend. “Maar waarom huil jy dan daaroor, kindjie? Jy moet mos bly wees as jy weet dat jy die man liefhet met wie jy gaan trou, of hoe het ek dit nou?”
“Ek praat nie … nie van Martin nie, Oom. Dis Gys …”
Oom Doons se frons verdiep. Gys Burger, die eienaar van Voëlparadys van wie sy hom vertel het, mymer hy. Sowaar, sou die mannetjie iets aan sy Nandatjie gedoen het, sal hy hom met sy kaal hande gaan verwurg!
“Nee, nou verstaan ek nie so lekker nie, kind. Jy het dan teruggekom om met Martin te trou en nou kom vertel jy vir my dat jy die ander man liefgekry het? Ek dink jy moet liewer vir my alles vertel sodat ek beter kan verstaan.”
Nonanda skuif weg van hom en terwyl sy stelselmagtig haar klere begin uitpak, vertel sy hom haar diepste hartsgeheim en alles wat daarmee gepaard gaan.
Nou kug oom Doons effens ongemaklik. “Ai, kind, jy moes maar liewer hier gebly het. Nou loop jy met ‘n seer hart oor ‘n ander man en jy wil met Martin gaan staan en trou. Dink jy nie dis ‘n bietjie onregverdig teenoor Martin nie?”
“Ja, Oom. En ek het vir Martin gesê ek gun aan hom ‘n beter vrou wat vir hom al die liefde in die wêreld kan gee, maar hy wil nou juis net met my trou, want hy het my lief, verseker hy my. Hy … hy weet dat ek hom nie dieselfde liefde kan gee as wat hy vir my het nie, maar … maar hy weet nie ek het vir Gys lief nie.”
Hy maak heftig keelskoon. Hy weet nie wat om hierop te antwoord nie, want die soort redenasie verstaan hy nou glad nie. “Jy lyk vir my taamlik uitgeput, kind. Ek dink ‘n goeie nagrus is die eerste ding wat jy nou kortkom. Is jy nie honger nie?”
“Nee, dankie, Oom. Oom het reg, ek is nogal moeg.”
“Lekker slaap dan, kind,” sê hy sag en hy hou sy wang vir ‘n nagsoen.
“Nag, oom Doons …”

Advertisements

2 responses »

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s