Deel dertien Nonanda se paradys

Standard

Gys maak sy oë stadig oop. Hy kyk om hom rond en sien Bonita in die stoel langs sy bed sit en slaap.
Dan onthou hy! Sy been …
Hy lig die komberse van sy bene af op. Sy been is in ‘n gipsverband gehul en vaagweg onthou hy van die dokter wat hier was. ‘n Magtelose kreun ontsnap sy lippe. Dit laat Bonita vinnig regop sit. Sy kyk na hom en kom dan op die kant van die bed by hom sit.
“Uiteindelik is jy wakker, Gysie-skat. Ekskuus, ek bedoel Gys,” korrigeer sy haarself dadelik. “Wat het dan gisteraand gebeur? Jy was so pyndeurdrenk gisteraand dat ons nie veel uit jou kon kry nie, en die dokter het dit goed gedink om jou maar goed te verdoof.”
“Een van daardie vervlakste planke van die bruggie het onder my en Vlek se gewig gebreek . Gelukkig was dit een van die heel laastes, en toe ons val, het ons momentum ons op die grond laat beland en nie in die rivier nie. Ongelukkig het Vlek met sy hele gewig op my linkerbeen te lande gekom. Ek kan nie meer alles onthou wat die dokter gisteraand gesê het nie, seker as gevolg van die inspuiting. Wat het alles gebeur?” vra hy fronsend.
“Ek kon jou nie alleen beweeg nie en het toe maar vir Hendrik en Flip daar oorkant by hul huis gaan roep om jou in die huis in te dra. Daarna het ek dokter Stegman gebel en verduidelik wat aan die gang is. Soos jy kan sien, het hy jou been in gips gesit. Die been is glo baie lelik gebreek, Gys. Hy sê dat jy jou gedurende die eerste rukkie baie stil sal moet gedra om die been honderd persent herstelkans te gee. Ek het aangebied dat jy hier kan bly totdat die dokter meen dis veilig vir jou om terug Voëlparadys toe te gaan,” verduidelik Bonita, en sy moet keer dat die opgewondenheid nie in haar stem deurslaan nie. Gys mag nie onraad merk nie.
Gys frons. “Dis darem seker nie werklik nodig dat ek hier moet bly nie, Witkop. Ek kan mos maar die ou entjie vervoer word,” protesteer hy ontevrede.
“Wel, ek is jammer, maar dis doktersbevele,” sê sy skouerophalend, maar lyk allesbehalwe jammer oor sy situasie.
“Wat het dan toe van jou inbreker geword, want as ek reg onthou, het jy reeds oop en bloot op die stoep gestaan toe ek hier aangekom het?” vra hy toe die rede vir sy haastige koms hierheen hom skielik weer byval.
Bonita lag. “Dit was toe al die tyd ou Herman wat te diep in die bottel gekyk en gedink het hy is by sy eie huis, en dat sy vrou nie die deur vir hom wil oopmaak nie. Kort nadat ek jou gebel het, het sy vrou, Hermien, hier aangekom op soek na hom en die twee is stry-stry hier weg na hul huis toe.”
“Waarom het jy nie jou bestuurder gebel nie? Hy kon mos binne enkele sekondes hier gewees het.”
“Ek het. Hy is egter gisteraand hier weg Lydenburg toe vir ‘n afspraak met ‘n meisie en toe daar nie antwoord by sy huis is nie, het ek aangeneem hy is nog nie terugnie.”
“Het jy al vir Ma-hulle laat weet wat gebeur het? Hulle sal nie weet wat van my geword het nie, want ek het niks gesê voordat ek daar weg is nie,” sê hy besorg.
Bonita plaas haar hand vertrooostend op sy bors. “Toe maar, ou grote, ek het hulle reeds gebel. Jy het niks om oor bekommerd te wees nie, jy moet nou net rustig wees en gesond word. Jou nuwe hulp in Nonanda se plek kom mos ook darem môre, so jy kan gerus wees dat die werk by die voëls gedoen sal word. Hier is die pille wat die dokter vir jou hier gelos het. Ek het sommer jou handtekening op jou voorskrif nageboots sodat hy dit vandag nog by die apteek kan ingee.”
“Ek skryf so lelik, ek kan amper nie glo daar is iemand wat my handskrif kan naboots nie,” antwoord hy verbaas.
Sy glimlag geheimsinnig en staan van die bed af op, vroetel in die laaikassie voor die bed en bring ‘n vel papier en ‘n pen te voorskyn. Sy krabbel daarop en hou dit dan triomfantelik na hom toe uit.
Gys moet erken dis goed gedoen. As hy nie met sy eie oë aanskou het dis ‘n skoon vel papier wat sy uit daardie laai gehaal het nie, sou hy kon sweer dat hy self sy handtekening daarop gemaak het.

Nadat almal op Voëlparadys die nuus van Gys se ongeluk verwerk het, verloop die dag se werksaamhede soos enige ander dag op die plaas.
Die enigste verskil is dat Nonanda vandag ‘n bietjie vroeër met haar dagtake klaar is, maar dis omdat sy nie vir een minuut gaan stilsit het nie. Sy is bang om te dink, te wonder, te tob … En die beste manier om dit te vermy, was om haar heel dag lank met hart en siel in haar werk te werp.
Maar nou is sy met alles klaar en sy het die goedjies op die lessenaar netjies reggeskuif sodat die volgende persoon nie hoef te soek na iets nie.Met gemengde gevoelens sit en staar sy nou voor haar uit.
Aan die eenkant wil sy so bitter graag darem net vir Gys vir oulaas gaan groet en beterskap toewens voordat sy môre vertrek, maar aan die ander kant … miskien liewer nie.
Dalk was Gys se ongeluk vir haar ‘n rigtingwyser. Sy moes opnuut besef hy hoort by Bonita, en dis vir haar beter as sy van hom vergeet. Sy moet Voëlparadys se stof van haar voete afskud en teruggaan na waar sy vandaan gekom het.
Martin het haar netnou gebel met die nuus dat hy op ‘n kursus moet vertrek, dus sal hy nie daar wees wanneer sy aankom nie. Op hierdie oomblik weet sy nie of sy spyt of dankbaar oor die onverwagse nuus moet wees nie.
Hoe lank sy so gesit en mymer het, weet sy nie. Sy keer tot die werklikheid terug toe Willem hier langs haar praat.
“Sjoe! Ek glo nie ek het genoeg geld om te betaal vir al daardie gedagtes van jou nie, want jy hoor my nie eens toe ek jou roep nie, meisiekind.”
“Jy kan gerus jou geld op ‘n beter manier bestee, my vriend, want glo my, jy wil nie regtig weet waaraan ek gedink het nie,” sê sy en haar glimlaggie is maar power.
Willem trek geamuseerd sy een wenkbrou op. “So? En wat laat jou nogal dink dat ek nie in so ‘n mooi meisie se gedagtes sal belangstel nie, h’m?
“Ou verspo,” lag sy. “Kom stap saam met my na die rooiwangmuisvoël se hok toe. Ek wil vir jou iets gaan wys.” sê sy nou lighartig en stap in die hok se rigting voor hom uit.
Hy val langs haar in en vra nuuskierig: “Wat wil jy vir my wys?”
Sy glimlag geheimsinnig en ‘n sagte lig skyn in haar oë.”
“Jy weet mos die ou rooiwangetjie is sonder ‘n maatjie, né? Nou ja, ek het vir hom ‘n gevlekte muisvoëlwyfie gegee, en raai wat? Hulle het gepaar en daar sit drie pragtige kuikentjies in hul hok. Hulle het almal die rooi wangetjies van die rooiwangmannetjie, maar in die plek van die rooiwang se grys lyfie, het hulle almal die bruin lyfie van die gevlekte muisvoël. Hulle is tog te pragtig. Ek wou niks sê voordat hulle nie eers klaar verveer het sodat ek kon sien hoe hulle lyk nie,” vertel sy opgewonde toe hulle by die hok tot stilstand kom.
Willem kyk na die gesonde, jong muisvoëltjies en ‘n skewe glimlaggie kruip om sy een mondhoek.
“Ja, hulle is pragtig. Maar wil jy vir my sê Gys het hulle nog nie raakgesien nie?”
“Nonanda trek haar skouers liggies op. As hy het, het hy niks daarvan gesê nie. Ek weet hy hou nie daarvan om die verskillende spesies te kruis nie. In elk geval, jy kan maar vir hom vertel wat ek gedoen het wanneer ek eers weg is en as hy dan die ou wyfietjie uit die hok wil haal, is ek nie hier om dit te sien nie.”
Willem plaas sy hand liggies op haar skouer. “Nonnie, waarom het jy dit nou eintlik regtig gedoen?”
“Wel, die ou spreekwoord sê dat die mens nie gemaak is om alleen te wees nie. Nou ja, ek glo dieselfde geld vir diere en voëls ook, al is hulle nie van dieselfde spesie nie,” verduidelik sy ernstig, en wonder of hy sal verstaan.
Hulle stap stadig terug huis toe terwyl Willem nadink oor haar woorde. Diep in sy hart stem hy met haar saam.
Toe hulle die huis nader, sien Nonanda vir Bes van die hek se kant af aangestap kom. Sy mik dadelik in haar rigting.
“Willem, veskoon my asseblief, ek wil gou na jou ma toe gaan,” sê sy en stap haar tegemoet.
“Tannie Bes, ek wil iets by Tannie koop as tannie dit nie weer gaan gebruik nie,” val sy somer met die deur in die huis.
Bes kyk verbaas na haar. “En wat kan dit nogal wees wat ek het wat jy so graag wil hê, Nonnie?” lag sy dan.
“Oupa Robbie het gesê tannie Bes het eens op ‘n tyd twee kanaries in ‘n klein hokkie in die kombuis aangehou, maar die voëltjies het gevrek. Nou wil ek weet of ek die hokkie by Tannie kan koop.”
“Ag, jy kan die ou hokkie maar kry, kind, maar wat wil jy dan nou daarmee maak?” vra sy nuuskierig.
Nondanda verduidelik aan Bes die situasie met die muisvoëltjies.
“En nou wil jy die kuikentjies more saam met jou neem?” vra Bes met ‘n ongelowige laggie.
“Ja, Tannie. Ek weet Gys sal hulle nie in sy hok wil hê nie en buitendien , dan het ek darem nog iets behalwe die katjie om my aan die plaas te herinner wanneer ek na julle verlang,” antwoord sy sag en slaan haar ooglede neer.
“Ai, Nonnie, ek raak sommer hartseer wanneer ek dink dat jy nie meer na môre hier gaan wees nie. Ek het nou net daaraan begin gewoond raak dat ek darem nie al hen tussen die hane hier is nie. Vat gerus maar die hokkie, want ek sal hom nie weer gebruik nie.”
“Dankie, tannie Bes. Toe maar, wanneer Gys en Bonita eers getroud is, sal hier mos weer ‘n vrou in die huis kom woon. Ek gaan gou stortbad, Tannie. Baie dankie vi rdie hokkie,” antwoord Nonanda en verdwyn haastig in die stoepkamer terwyl Bes haar oopmond en fronsend agternakyk.
Gys en Bonita gaan trou. Snaaks Gys het dit nog nie teenoor haar, wat darem tog sy ma is, genoem nie, terwyl Nonanda al daarvan weet, dink Bes steeds fronsend en stap na die kombuis toe.

Waar Gys in die gastekamer van Bonita se huis lê, is daar ‘n rusteloosheid wat hom bly krap. Die heel dag lank al spring sy gedagtes van die een ding na die ander, maar telkens is dit maar weer Nonanda se gesig wat voor hom verskyn.
Môre gaan sy terug na Martin toe en sy het tot dusver nie eens moeite gedoen om te kom groet nie. Maar hy wil haar nie groet nie, hy wil nie van haar afskeid neem nie, kom die helder wete swaar in hom anker. Sy moet hier by hom op Voëlparadys bly, want hy het haar lief!
Vervaard sit Gys orent. Hoe kon hy so stiksienig gewees het dat hy dit nie al eerder besef het nie. Hy het haar al lankal liefgekry. Nou is dit te laat om iets daaraan te doen.
Of is dit? Sy is nog nie verloof of getroud nie. Hy moet haar keer. Sy mag nie hier weggaan voordat sy nie weet hoe hy oor haar voel nie, dink hy koorsagtig en lui dringend die klokkie wat Bonita vir hom daar neegesit het.
“Ja, Gysie-sk …, ek bedoel, Gys, wat kan ek vir jou doen?’ vra sy liefies toe sy by die deur inloer.
Gys voel hoe sy hare wil orent staan. Genade, die vroumens hou hardnekkig vol met daardie aanspreekvorm. Al probeer sy deesdae om haar reg uit te druk, klink dit nou vir hom asof dit pure moedswilligheid is dat sy kamma eers verkeerd praat en haarself dan korrigeer.
“Bonita, ek moet dringend met Nonnie praat. Kan ek jou selfoon leen?” vra hy haastig.
Bonita bemeester wonderbaarlik die ontevredenheid wat meteens binne haar woed. Hier versorg sy hom na die beste van haar vermoë, maar nee, hy vra na Nonnie!
“Ek is werklik jammer, Gys, maar my selfoon is stukkend,” antwoord sy en daar is geen berou in haar hart oor die flagrante leuen wat sy vertel nie. “Kan ek nie miskien namens jou aan haar ‘n boodskap gaan oordra nie? Ek sal vroeg môreoggend gaan as dit so dringend is.”
“Nee, dis iets persoonlik en ek moet self met haar daaroor praat,” antwoord hy teleurgesteld, maar dan verhelder sy gesig weer. “As ek aan haar ‘n brief skryf, sal jy dit asseblief nog vanaand vir haar gaan gee? Dis vir my baie belangrik.”
“Dis al amper donker, Gys!
“Goed, ek sal daarmee tevrede wees as jy baie, baie vroeg môreoggend gaan voor sy kan vertrek. Sal jy dan asseblief vir my ‘n skryfblok en ‘n koevert bring? Daarna sal ek jou nie weer pla nie, hoor.” Bonita sien duidelik die teleurstelling op sy gesig.

Nonanda het laasnag min geslaap, en het reeds vanoggend die nuwe man touwys gemaak met die werk.
Die kêrel wat in haar plek werk, is ‘n kort, skraal outjie wat lyk asof hy nog op die skoolbank hoort, en tog is hy al drie en twintig. Nadat sy egter ‘n ruk lank met hom gesels het, het sy spoedig agtergekom hy is ook ‘n voëlkenner. Hy is lief vir die buitelewe en daarom stel hy in die werk belang. Sy dink Gys sal baie tevrede met sy nuwe aanstelling wees. Diep in haar hart broei ‘n onredelike jaloesie omdat sy die werk waarvoor sy so gou lief geword het, aan iemand anders moet afstaan.
Of is dit omdat iemand anders nou vir Gys die werkies gaan doen wat sy so geniet het om self vir hom te doen? wonder sy skuldig.
Perdepote word hoorbaar. Dis Bonita. Sy stap nader na waar Bonita die perd aan ‘n boom vasmaak.
“Môre, Nonnie. Ek is bly Gys het my na jou toe gestuur, want nou kry ek sommer ook die geleentheid om jou te groet voor jy vertrek. Hier is ‘n brief wat Gys vir jou gestuur het, en ek moet glo vir ‘n antwoord daarop wag,” sê Bonita vrolik en oorhandig die koevert aan Nonanda wat dit met ‘n bewende hand neem. Hoekom sou Gys vir haar skryf? Om te groet?
“Dankie, Bonita. Miskien kan jy by tannie Bes in die kombuis gaan koffie drink solank ek die brief lees en sy antwoord aan hom skryf, of hoe?” vra sy hoopvol omdat sy nie die brief graag in Bonita se teenwoordigheid wil lees nie.
“Sekerlik, Nonnie. Roep my maar sodra jy daarmee klaar het, hoor, want ek wil nie graag my dierbare aanstaande so lank alleen los nie,” antwoord sy betekenisvol en stap dan met swaaiende heupe om die hoek van die huis.
Haar dierbare aanstaande. Ruk die woorde deur Nonanda se brein terwyl sy buitekamer toe stap om te lees.
Nonnie, ek wil jou graag vir die kort tydjie wat jy op Voëlparadys behulpsaam was, bedank. Ek wens jou en Martin alles van die beste toe vir die toekoms. Ek hoop julle sal so gelukkig saam wees soos wat ek en my witkop is. Jammer dat ek jou nou nie self kan kom groet nie, maar ek weet jy sal verstaan aangesien ek in die bed moet bly, ek eerder hier by Bonita wil lê as om daar te kom lê. Tot siens, en ry versigtig. Gys.
Verslae gaan Nonanda op die bed se rand sit. Sy het net haarself te blameer vir hierdie pyn wat soos ‘n brandende maagseer in haar binneste kom lê, want sy het tog geweet Gys se liefde behoort aan Bonita. Sy moet nou erken die wilde begeerte dat hy haar, Nonanda, liefhet, het maar nog altyd in haar gesluimer.
Sy skrik toe Bonita liggies teen die kamerdeur klop en ingestap kom.
“Ek het klaar koffie gedrink, Nonnie. Ek hoop jy het genoeg tyd gehad om aan Gys ‘n antwoord te skryf?” vra sy en kyk na die oopgevoede velletjie papier in Nonanda se hande.
Nonanda vou haastig die briefie toe en sit dit in haar handsak.
“Dankie, Bonita, maar eintlik is daar niks wat ek aan hom wil terugskryf nie. Sê maar net vir hom dankie vir die goeie wense en ek wens julle dieselfde toe,” antwoord Nonanda. Haar stem klink vreemd in haar eie ore, en sy ignoreer die witkop se oë. Sy weet by voorbaat dat sy niks anders as spot en leedvermaak daarin sal sien nie en sy het nie nou die krag om dit te hanteer nie.
“Dankie. Nou ja, dan groet ek maar eers. Gaan jy nou vertrek?” vra Bonita
“Ja, ek gaan net gou vir oupa Robbie-hulle almal groet.”
‘n Paar oomblikke lank staan Nonanda na Bonita se verdwynende figuur en kyk terwyl sy die volle gevoel ervaar van ‘n droom wat aan skerwe lê. Sy draai stadig om om haar reistasse een vir een na haar motor te dra. Sy tel die hokkie met die muisvoëltjies op en neem dit ook na die motor toe. Hulle sit heel gelukkig in die hokkie en is nie eens verskrik toe sy hulle op die agterste sitplek neersit en toegooi nie. Sy gaan vir Snuffie haal en sit die mandjie op die voorste passasiersitplek neer voor sy terugstap om te gaan groet.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s