Deel twaalf van Nonanda se paradys

Standard

‘n Dag na Martin se vertrek hervat Nonanda haar pligte op Voëlparadys. Gys het gevra sy moet asseblief net aanbly totdat hy iemand in haar plek aangestel het. Instussen moes Martin weer na sy werk toe teruggaan.
Nonanda het pas die kantoordeur oopgesluit, toe stap Gys ook by die deur in. Hy het ‘n mandjie in sy hand en daar is ‘n soort verleë trek op sy gesig.
“Wat het jy daar? Of gaan jy en Bonita piekniek hou?” vra Nonanda, net om iets te sê omdat sy teenwoordigheid haar, soos altyd in die laaste tyd, ongemaklik laat voel.
“Nee, niks van die aard nie. Dis iets vir jou,” probeer hy ongeërg sê, maar lyk steeds nie op sy gemak nie.
“Vir my?” vra sy en stap tog nuuskierig nader.
Gys lig die doek wat bo-oor die mandjie gegooi is, op en op ‘n sagte kombersie lê die allerfraaiste klein gemmer katjie. Nonanda se liefde vir diere laat haar dadelik nog nader stap. Teer lig sy die katjie op en troetel hom teen haar bors terwyl sy allerhande sagte woordjies aan hom fluister.
Gys trek onwillekeurig sy asem in toe hy na die teerheid op haar gesig kyk. ‘n Teerheid wat haar hele gesig laat straal van liefde wat sy op ‘n klein katjie uitstort. Hy kan maar net wonder hoe dit sal wees om deur soveel liefde gekoester te word.
Sy kyk op na hom en haar oë blink. “Is dit regtig myne? Is dit ‘n hy of ‘n sy? Waar het jy dit gekry?” borrel die vrae opgewonde by haar mond uit terwyl sy aanhoudend oor die donsige katjie se ruggie streel, en hy wonder of sy besef hoe mooi sy op hierdie oomblik lyk.
Gys lag saggies, nou meer ontspanne. “Ja, hy is joune. En jy kan maar ophou om van ‘n “dit” te praat, want dis ‘n hy. En ek het hom by ‘n werker op Bonita se plaas gekoop.”
Met die ergste opgewondenheid aan die taan, verstil haar gesig merkbaar toe haar volgende vraag kom.
“Waarom, Gys?” Haar blik is stip op hom gerig.
Daar is ‘n onpeilbare uitdrukking in sy donker oë toe hy haar met ‘n effense skor klankie in sy stem antwoord.
“Sommer ‘n ietsie om jou aan Voëlparadys en sy mense te herinner wanneer jy en Martin getroud is.” Hy draai haastig om en stap weg voor sy iets verder kan vra.
Die katjie kriewel hier teen haar bors en ruk haar uit haar peinsende houding uit.
“Snuffie,” sê sy hard. “Jy sal my nuwe Snuffie wees.” En asof die katjie wil wys hy is met haar besluit tevrede, knie hy met sy pootjies teen haar lyf en spin rustig.

Nonanda kyk op toe sy die namiddag iemand by die kantoor se deur gewaar. Dis oom Robbie.
“Nonnie, kan jou oom maar binnekom?’
Sy glimlag verwelkomend toe sy opstaan. “Natuurlik, my oupatjie. Kom sit ‘n bietje, toe.”
“Dankie, ou doggie,” sug hy en gaan dankbaar sit.
“Wat pla, oupa Robbie?” vra Nonanda toe sy sien hoe hy ingedagte aan die kromsteelpyp suig. Die pyp maak sulke diep gorrelgeluide en Nonanda weet dat hy hom nou enige oomblik sal begin skoonmaak. Sy het dan ook reg en glimlag fyntjies omdat sy die dierbare ou man al so goed leer ken het.
“Ai, kindjie, my ou hart voel nie baie lekker omdat jy binnekort hier moet weggaan nie. Is jy séker jy doen die regte ding? Het jy toe tog tot die besef gekom dat jy Martin wel lief genoeg het om met hom te trou?”
Nonanda se hart klop moeisaam in haar borskas. Sy hoor die opregte besorgdheid in die ou man se stem en ervaar ‘n dringende begeerte om haar hartsgeheim met hom te deel. Die gedagte kom egter net ‘n oomblik lank na vore, want diep in haar hart weet sy dis onmoontlik. Die ou man sal nie verstaan nie, veral nie as hy boonop moet hoor daar was dinge tussen haar en Gys aan die broei nie. Soos sy hom leer ken het, sal hy sommer vir Gys stormloop, en dit mag nie gebeur nie, want sy sal in die grond wegsak van vernedering as Gys en Bonita moet weet hoe sy oor Gys voel.
“Oupa Robbie, Martin sal vir my baie goed wees, want hy het my baie lief. Glo my, ek is net so hartseer omdat ek hier moet wegggaan, maar onthou, ek sou in elk geval nie vir altyd hier kon bly nie. Ek moet darem mos weer na my losieshuis toe teruggaan,” antwoord sy en vermy dit opsetlik om hom te vertel hoe sy regtig oor Martin voel.
“Doggie, sal jy asselbief aan my skryf?” vra hy hees.
“Natuurlik, Oupatjie! Oom Robbie het vir my die oupa geword wat ek nooit gehad het nie. En ek wil elke keer ‘n lang brief van Oupa af terughê, hoor. Ek wil van alles weet wat hier gebeur,” antwoord sy innig en druk sy skouer saggies.
Aangedaan omdat Nonnie hom so spontaan “oupa” noem, vee die man ‘n nattigheid uit sy ooghoeke weg en dan stap hulle saam by die deur uit, terug huis toe. By die stoep draai sy weg na haar kamer om eers te gaan stortbad voordat sy Gys se verslag gaan wegbring.
“En nou, die lang gesig?” vra Willem toe sy halfpad teen die trap op is.
Nonanda glimlag bewerig. “Ag, sommer ek en jou oupa wat al by voorbaat afskeid van mekaar geneem het,” antwoord sy verleë en vermy sy ondersoekende oë.
“Jy het vir hom lief geword, né?” sêvra Willem en daar skyn ‘n sagte lig in sy oë toe hy na haar kyk.
“Ja, oom Robbie is iemand wat sommer baie maklik in enigeen se hart kruip. Ek gaan baie na hom verlang.”
Willem hoor die verlange in haar sagte stem, sien hoe haar oë blink van ongestorte trane, en sy hart gaan na haar uit. Versigtig trek hy haar teen sy bors vas sodat sy met haar kop onder sy ken kan lê en sy kom gewillig.
“Wat ons almal hier nie verstaan nie, is waarom jy nou eintlik hierdie werk aanvaar het. Ek bedoel, dis so van Martin af en julle het tog seker voor jou koms hierheen al geweet julle gaan binnekort trou, of hoe?” vra hy sag, fronsend.
“Nee … nee, Willem ons het nie toe al geweet nie. Ek bedoel, die sprake was daar, maar niks was nog seker nie. Ag, alles is eintlik ‘n lang storie. Wanneer ek eers weg is, kan oupa Robbie maar alles aan julle vertel, want net hy weet wat regtig aanleiding tot my werkery hier gegee het,” antwoord Nonanda en tree traag uit die vertroostende kring van sy arms uit.
Willem kyk deurvorsend na haar en wonder wat nou eintlik alles agter daardie woorde van haar verberg lê, maar vra nie verder uit nie. Dis vir hom duidelik dat sy nie nou daaroor wil praat nie en hy respekteer haar gevoelens.
“Wel, solank julle twee net vir mekaar lief is, is die hele wêreld mos reg. Ek wil net hê dat jy moet weet dat ons altyd in die toekoms vir jou hier sal wees indien jy ons ooit sal nodig kry,” sê hy, en tik speels met sy vinger teen haar wang.
“Baie dankie, Willem. Jy maak my mos nou sommer van voor af hartseer, man,” fluister sy, maar ‘n power glimlaggie kom saam met die trane te voorskyn. “Wag, ek was op pad om die dag se sweet van my liggaam te gaan afspoel,” voeg sy haastig by en stap weg voordat hy nog ‘n woord kan inkry.

Nonanda is dankbaar toe sy heelwat later by Gys se studeerkamer aankom en die vertrek is in donker skemerte gehul, want dit beteken dat hy nie daar is nie. Sy plaas die verslag op sy lessenaar, en draai om om te loop.
“Jy kan maar die lig aanskakel …”
Sy skrik so groot dat sy met ‘n verblindende slag in die deur vasloop terwyl sy omkyk. Sy gryp na haar kop en beland steierend teen die lessenaar.
“Nonnie! Ekskuus as ek jou laat skrik het, jong!” kom dit apologeties van Gys en hy kom vinnig orent. Hy skakel die lig aan en kom haastig na haar toe. “Het jy seergekry?” vra hy, neem haar aan die arm en druk haar in ‘n gemakstoel neer.
“Toe maar, ek makeer niks nie,” protester sy en wil opstaan. Sy kan dit nie verduur dat hy so naby aan haar staan en aan haar arm raak nie. Dis of daar ‘n baksteen op haar bors rus wat veroorsaak dat haar asemhaling vlak en onreëlmatig is.
“Sit, Nonnie,” sê hy egter sag en druk haar ferm in die stoel terug. “Ek wil met jou praat.”
Nondanda druk steeds met haar hand teen haar kop waar sy die hou gekry het. Die hoofpyn wat nou agter haar oë pols tesame met die onvoldoende suurstof wat haar longe deur die vlak asemhaling bereik, dreig om die wêreld voor haar in ‘n swartgrys te kleur. Haar wimpers fladder en haar liggaam kantel.
“Nonnie! Ag, nee. As jy dan nie seergekry het nie, waarom wil jy dan nou staan en flou word?” vra Gys en herken nouliks sy eie stem wat so skor in sy ore klink. Hy tel haar in sy arms op en gaan haar op die bank daarnaas neerlê,
Eers dan sien hy die dun straaltjie bloed wat uit die ou wond wat deur die tentpen veroorsaak was, vloei. Hy vat die waterkraffie wat op sy lessenaar staan, gooi ‘n bietjie water sommer op sy hand uit en vee daarmee oor Nonanda se gesig.
‘n Sagte sug ontsnap haar lippe en dan vlieg haar oë oop.
“Hoe voel jy nou?” vra hy bekommerd
“My kop is seer. Ek … ek dink ek sal maar ‘n bietjie gaan lê totdat ek beter voel.” Sy beur regop. Halfpad orent, druk hy haar weer eens sag neer.
“Nee, wag eers, Nonnie. Jy het weer jou ou wond gaan staan en stukkend stamp. Lê net so, sodat ek dit eers gou vir jou versorg,” keer hy vinnig en in ‘n ommesientjie het hy die takie voltooi. Skielik buk hy en tel haar op asof sy ‘n veertjie is en begin met haar na haar kamer toe stap.
“Wat … wat doen jy nou, Gys? Sit … sit my neer, man. Ek kan mos self loop, prostesteer sy en spartel woes.
Hy druk haar net stywer teen hom vas en stap onverstoord aan asof hy haar nie eens gehoor het nie. Nonanda se kop klop nou so geweldig dat sy maar willoos toelaat dat sy sterk arms ‘n gevoel van kortstondige saligheid deur haar hele wese laat vloei.
Hy maak haar onder ‘n kombers op die bed toe, en sy oë soek in haar kamer rond toe hy vra: “Het jy hoofpynpille?”
“Ja, daar in die spieëlkas se boonste laai,” antwoord sy sag, bang hy hoor die klein krakie in haar stem.
Hy neem die glas op haar bedkassie, gaan tap dit vol water en bring dit saam met twee pille na haar toe. Hy gaan sit op die bed by haar, sit die glas en pille op die bedkassie neer en druk sy een arm ondersteunend agter haar rug in soos wat ‘n mens met iemand sal doen wat amper hulpeloos in die bed lê.
“Wag, Gys, ek is mos heeltemal in staat om self orent te kom om die pille te drink.” Keer sy haastig en wil uit sy arm se kring uitwriemel, maar hy hou haar ferm vas.
Gys plaas die glas weer op die bedkassie, maar laat nie onmiddellik weer haar liggaam teen die kussings terugsak nie. Hy kyk ernstig en diep in haar oë en verbouereerd wonder sy of hy dan nooit weer gaan wegkyk nie. Sy aanraking wek ‘n onmiskenbare verwagting in haar liggaam op wat haar hoofpyn eensklaps minderwaardig laat voorkom. Sy staar hom versteen aan en is onbewus daarvan dat vrees en smagting na hom mekaar in haar mooi oë verdring.
“Nonnie?” fluister hy verwonderd. “Is jy vir my bang?” Sy ander hand kom sag op haar skouer lê.
“Nee! Waarom s … sal ek nou bang wees?” vra sy dapper, maar haar stem is dun en dreig om haar in die steek te laat.
“Jy jok mos nou vir my.” Sy donker oë boor in hare en sy vingerpunte is strelend op haar rug sodat alle ander dinge rondom hulle meteens vir Nonanda vervaag. Al waaraan sy kan dink, is Gys se nabyheid en aanraking waarna sy met haar hele wese hunker.
“Jy is so pragtig,” mymer hy terwyl hy haar kop effens agteroor druk, sy kop afbuig en sy lippe in die kuiltjie van haar nek druk, sy mond soekend, bewend daar laat huiwer. Sy warm asemhaling hier teen haar nek laat haar bloed oorverdowend in haar ore suis en met ‘n snak gooi sy haar arms om sy nek.
“O, Gys …” kreet sy saggies, en wil met oorgawe haar liggaam teen syne aandruk, maar die volgende oomblik laat hy haar los, stoot haar haastig van hom af weg asof die aanhoor van haar stem ‘n slang is wat hom gepik het. Sy val soos ‘n lappop teen die kussings terug.
“Ek is jammer, Nonnie. Vergewe my, asseblief. Ek weet nie wat my makeer nie. Jy is ‘n meisie wat binnekort gaan trou . In elk geval, wat ek netnou vir jou wou gesê het: ek het iemand gekry om jou werk by jou te kom oorneem. Die persoon sal oormôre reeds hier wees, dus kan jy maar gereed maak om na Martin toe terug te gaan,” rammel hy dit af, sy stem skor terwyl hy opstaan en deur se kant toe staan asof hy ineens haastig is om van haar af weg te kom.
Teleurstelling sypel deur haar. Weer eens het sy haar soos ‘n oorryp appel in sy skoot gegooi en dit terwyl hy haar maar net as ‘n mooi speelding beskou om hom mee te vermaak solank as wat sy hier is. Sy weet dis die beste dat sy so gou moontlik hier wegkom, en tog is sy nie gereed om smmer so nou al afskeid te neem nie. Haar hoofpyn is in sy volle sterkte terug.
Nonanda sluit haar oë en fluister: “Dankie, Gys …”
“Jy hoef nie in die kombuis te kom eet nie. Ek sal vir Ma sê om vir jou kos te bring.”
“Dit … dis regtig nie nodig nie. Ek … ek is nie honger nie,” antwoord sy en wens hy wil loop, want sy kan nie langer die snikke keer wat haar keel wil toedruk nie.
“Ja, maar jy kan dalk later gedurende die nag honger word en dan het jy iets om tee eet.”
Hy draai skielik om, buk by die katjie wat in sy mandjie lê en slaap, en tel hom op. Stadig stap hy terug na haar bed en lê die katjie langs haar op die bed neer.
“Hier, laat hy vannag by jou slaap. Hy verlang ook na jou nabyheid. Nag, Nonnie, lekker slaap.”
Ook? Dink sy verwonderd. Waarvan praat hy tog, warrel dit deur haar onstemde gemoed.
“Nag, Gys …” Die deur is skaars agter hom toe, toe laat sy die rou snikke vry en huil totdat haar kussing sopnat onder haar wang is. Die katjie nestel styf teen haar aan asof hy kan voel sy het vertroosting nou baie nodig. Sy draai die kussing om en toe sy hoor dat Bes met haar kos by die deur inkom, maak sy asof sy slaap.
Bes kyk met ‘n teer blik na die duidelike traanspore op Nonanda se wange, en sy streel liggies oor haar wang voordat sy omdraai en die stoepkamer se deur agter haar sluit. Bes weet Nonanda het nog ‘n sleutel van die deur.

Twaalfuur die nag word Gys deur die lui van die telefoon voor sy bed gewek. Hy raap haastig die handstuk op voordat die geraas die ander huismense wek.
“Voëlparadys …” antwoord hy nog half deur die slaap.
“Gys, hier is iemand wat by my deure en vensters probeer inkom,” hoor hy Bonita se benoude stem in sy oor weerklink en dadelik is hy wawyd wakker. “Kan jy asseblief dadelik hierheen kom? Die persoon wil nie antwoord wanneer ek vra wie dit is nie, en die polisie sal te lank neem om van Lydenburg af hier te kom as ek hulle nou eerste moet bel. As jy te perd die kortpad oor die bruggie neem, kan jy binne enkele minute hier wees, asseblief, Gys,” soebat sy dringend.
“Goed, ek is nou-nou daar. Jy het mos ‘n vuurwapen, hou dit gereed vir ingeval die inbreker dit regkry om in te kom. Moenie weer met hom praat nie, want dan weet hy gedurig waar jy is,” antwoord Gys en sit die foon neer om haastig te verklee, terwyl hy so terloops wonder waar Bonita se plaasbestuurder dan is.
Toe Gys by die Voëlhokke verby na die perdestal hardloop, hoor hy ‘n bennettse speg se hoë, ketterende roep en in die whirr-trr-itt is daar duidelik ‘n benoude klank asof die voël ook weet dat hier iets ongewoon die tyd van die nag aan die gang is.
Gys se oë raak gou aan die donker gewoond en hy laat sy perd oor die veld ooplê. By die smal houtbruggie hou hy hom so effens in, maar gee dan skiet en die perdepote op die planke klap donderend in die nagstilte.
Meteens runnik Gys se perd verbouereerd, steier, en dan voel Gys hoe hy met sy perd en al die aarde tref. ‘n Verblindende pyn skiet in sy linkerbeen op toe die perd se gewig daarop te lande kom. Sy perd beur op en Gys rol haastig van hom af weg.
Gys wil orent kom, maar kreun van die pyn in sy been en sak weer op die grond neer. Hy betas sy been en aan die eienaardige knop wat teen sy kuit uitstaan, weet hy sommer die been is gebreek.
“Kom, oubaas se perd, kom nader,” roep hy sag na die perd wat onrustig ‘n paar tree van hom af staan en rondtrippel. “Kom, Vlek, kom na oubaas toe.” Die perd kom gehoorsaam nader toe hy sy baas se bekende stem hoor.
Gys gryp die teuels raak en met amper bomenslike inspanning hys hy hom teen die perd regop totdat hy op sy regterbeen staan.
“Sak, Vlek, sak,” beveel hy weer sag en Vlek sak met sy voorbene op sy knieë op die grond neer. Met ‘n rolbeweging beland Gys weer in die saal terwyl dit vir hom voel asof hy elke oomblik sy bewussyn gaan verloor so fel is die pyn in sy been. Toe Vlek weer in beweging kom, moet hy op sy tande kners om nie nie met elke tree vorentoe van die pyn uit te gil nie.
Hy spoor die perd verbete aan in die rigting van Bonita se huis en dink geen oomblik daaraan dat hy tog eintlik in sy toestand nie veel sal kan doen om haar te help nie.
Teen die tyd dat hy Bonita se huis in sig kry, is hy sopnat gesweet soos hy teen die pyn veg. Hy sien haar in die helder lig van die stoep staan en dofweg wonder hy waarom sy dan nie in die huis skuil nie – waar is die inbreker dan? Die volgende oomblik voel hy hoedat hy uit sy saal uitgly en daarna weet hy niks meer nie.
Waar Bonita eers baie in haar skik op die stoep gestaan en glimlag het, verstar haar gesig en sy storm op Gys af waar hy stil op die grond lê.
“Gys! Gys wat gaan aan?” roep sy skril uit en rol hom om op sy rug. “Genade, jy is dan bewusteloos en sopnat gesweet in hierdie koue nag,” hyg sy verskrik.
Sy probeer hom in die rigting van die huis sleep, maar besef gou dis ‘n onbegonne taak. Hy is hopeloos te swaar. Sy spring op en hardloop in die rigting van die plaaswerkers se huise. Sy sal moet hulp kry.
En so in haar hardloop, broei die een plan na die ander al weer in haar kop. Miskien is dit haar kans dié, die kans waarop sy so lank al gewag het .Opgewondenheid oor die gedagte skuif op hierdie oomblik die gedagte dat Gys erg beseer kan wees, op die agtergrond. Nou tel net die dinge wat vir haar tot voordeel kan strek, en sy is van plan om dit ten volle te benut.
Toe die dokter haar veel later meedeel Gys se been is gebreek, glimlag sy innerlik omdat alles vir haar so mooi aan die uitwerk is.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s