Deel elf van Nonanda se paradys

Standard

“Bonita, jy moet asseblief saam met Santa-hulle ry. Ek wil by die naaste dorp eers vir Nonnie na ‘n dokter toe neem sodat daardie wond aan haar kop behoorlik versorg kan word. Julle kan maar verder ry, julle hoef nie vir ons te wag nie,” sê Gys toe alles eindelik opgepak is.
Bonita frons vererg. “Maar ek gee nie om om saam met jou te wag solank sy by die dokter is nie, Gys. En dit het dan vir my net na ‘n ou skrapie gelyk . Is ‘n dokter werklik nodig? Kan sy nie wag totdat ons by die huis is nie?”
“Dis werklik nie nodig nie, Gys. Ek makeer niks en … en ek kan maar self ‘n dokter gaan spreek wanneer ons eers terug by die huis is,” keer Nonanda vinnig, want die gedagte dat sy die lang ent pad alleen saam met Gys moet ry, maak haar benoud.
“Natuurlik is dit nodig, Nonnie,” praat Gys onmiddellik haar beswaar weg en wend hom dan weer tot Bonita. “Ongelukkig het ek reeds my voertuig se agterste sitplek ook vol goed gepak, dus het ek net vir een passasier plek, Witkop. En al is die plek aan haar kop nie so diep nie, verkies ek nogtans dat sy so spoedig moontlik by ‘n dokter uitkom,” verklaar Gys beslis en Bonita kners op haar tande toe sy sonder ‘n woord verder by die ander voertuig gaan inklim.
Die vriendelike dokter op die volgende dorp is heeltemal tevrede met Gys se handewerk en smeer net salf op die wond om infeksie te voorkom voordat hy dit weer netjies verbind.
Spoedig is sy en Gys weer op pad.
“Terwyl jy by die dokter was, het ek gou vir Ma gebel om te sê ons oisp pad en wat gebeur het. Sy vertel toe ene Martin Theron is daar op Voëlparadys. Hy wag glo vir jou. Ek neem aan dis die … e … spesiale iemand in jou lewe van wie jy gepraat het?”
Nonanda trek haar asem geskok in en kyk vinnig na hom. Sy gelaatstrekke lyk stroef en ongenaakbaar, maar sy het nie nou die tyd om daaroor te wonder nie. Martin is op Voëlparadys! Wat kom hy daar maak? Hy het nooit eens van haar briewe beantwoord nie. Buitendien, hulle het tog besluit dat sy na twee maande eers aan hom ‘n antwoord sal gee.Ja, die antwoord …
Moeg sluit sy haar oë en laat haar kop teen die sitplek se rugleuning sak. Sy het van die losieshuis en van Martin af padgegee om elders na ‘n oplossing vir haar situasie met Martin te gaan soek, maar hier het sy nou in nog ‘n groter stryd beland, wat gedoem is om op ‘n totale fiasco uit te loop, mymer sy.
“Wel … is dit hy?” dring Gys se diep stem tot haar deur en sy besef sy het hom nog nie geantwoord nie.
“Ja … ja, dis hy,” antwoord sy sag sonder om om haar kop op te lig of haar oë oop te maak, en sy moet skielik veg teen die trane wat agter haar ooglede begin brand.
Laat Gys gerus maar glo wat hy wil. Miskien is dit die beste ding wat nou in dié stadium kon gebeur. Ja, al het Martin nie by hul besluit gehou nie, het hy net op die regte tyd gekom, dink sy hartseer, maar tog dankbaar. Dierbare ou Martin.
‘n Gevoel van verydeling oormeester Gys skielik sodat hy vir die res van hul reis nie juis veel gesels nie. Nonanda praat ook net die nodige met hom. Haar gedagtes is seker nou by die Martin-kêrel.

Vandag klink die geluid wat sy motor se wiele op die teer maak, vir Martin soos polsslae in sy ore. En elke polsslag kreet dit uit: Nonandatjie … Nonandatjie!
Hy is reeds halfpad op pad na Voëlparadys. Nonanda gaan heel moontlik ontevrede wees omdat hy nie die verlangde tydperk van haar af weggebly het nie, maar die verterende verlange in hom kon hy nie meer verduur nie. Hy moet eenvoudig kom vasstel of hy ‘n kans by haar staan al dan nie.
Hy weet hy is nou nie die soort wat ten gronde sal gaan as haar antwoord negatief is nie, al sal daar ‘n uiters hartseer en eensame tydperk op hom wag. Die gewag maak hom egter gedaan. Hy wil liewer so gou moontlik weet sodat hy met sy lewe kan voortgaan, met of sonder haar.
Hy tower haar beeld voor sy geestesoog op en die opgewonde rilling van afwagting wat deur sy lyf trek, laat onwillekeurig sy voet swaarder op die petrolpedaal sak. Die kilometers vlieg die een na die ander onder hom verby sonder dat hy een oomblik lank daaraan dink om om te draai.

“Jy het wat gedoen, Bes?” vra oom Robbie gedemp aan sy skoondogter in die kombuis sodat Willem en Martin hom nie kan hoor nie. Dié twee is in die sitkamer besig om oor die politiek te gesels.
“Ek het vir Martin gesê hy is welkom om hier te vertoef as hy vir Nonnie wil wag, Paps.”
“Tsk, tsk, tsk,” klap oom Robbie kopskuddend sy tong, en haal sy kromsteelpyp uit en begin dit skoonmaak. “Pleks jy maar eers vir my gevra het, Bes. Daar is dinge waarvan julle nie bewus is nie … dinge wat Nonnetjie net aan my vertel het. Ek glo nie sy wil hom nou al sien nie, my kind,” praat hy sag verder.
“Maar Paps was nie in daardie stadium hier toe hy gevra het of hy maar kan bly nie, en ek het nie van beter geweet nie,” verontskuldig sy haarself terwyl sy vraend na hom kyk.
“Ja, ek weet, Bes. In elk geval, nou moet sake maar hul gang gaan. Die kêrel is ten minste aangenaam. Moenie so na my kyk nie, Bes! Nonnie het my gevra om vir niemand te vertel nie en ek is ook nie van plan om dit te doen nie. Troos jou daaraan, dis niks waaroor jy slapelose nagte hoef te hê nie. Dit het maar net met Nonnie se toekoms te doen, dis al,” brom-brom die oubaas en stap by die deur uit na buite.

“Willem, is Nonanda gelukkig hier op die plaas? “ vra Martin toe hulle politieke geselsies opgedroog het.
Willem kyk met versluierde oë na Martin toe die vraag uit is. Hy wonder wat die verhouding tussen Nonanda en die aangename man nou eintlik is.
“Dit wil so voorkom, ja, Martin. Sy is in haar element daar tussen die voëls. Sy was net baie hartseer toe haar geliefde Snuffie dood is.”
“Ja, sy het vir my daarvan geskryf. Sy was baie geheg aan die kat. Jy … jy weet seker dat ek vir haar baie lief is?” kom sy volgende vraag huiwerig.
Aarde, dink Willem effens ongemaklik. Waarop sou die man nou afstuur?
“Wel, nee, Nonnie bespreek nie juis haar private lewe met ons nie. Sy het maar so stil-stil saam met Oupa hier aangekom en net so stil-stil het sy in die kort tydjie ‘n deel van ons familie geword. Ek het egter ‘n vermoede dat sy met Oupa sommige dinge bespreek het, maar Oupa sal nie praat nie, tensy Nonnie sê hy maar kan,” verduidelik Willem stil.
Martin knik ingedagte. “Dis tyd dat sy terugkom. Sy is al te lank weg en ek verlang baie,” mymer hy, maak verskoning en stap uit.
Willem kyk hom met gemengde gevoelens agterna. Martin se woorde spreek daarvan dat hy wel een of ander aanspraak op Nonanda het, en snaaks genoeg, op hierdie oomblik kan Willem nie eintlik verklaar hoe hy oor die wete voel nie.

Gys en Nonanda se rit verloop heel voorspoedig en waar hy nou op die grondpad afdraai wat na Voëlparadys toe konkel, ry hy skielik stadiger. Wat sy rede is, weet Nonanda nie, maar in haar koek die spanning dik saam. Hoe gaan sy teenoor Martin voel en optree noudat sy haar eie hart deur en deur ken?
Van ver af sien sy al Bonita se perd langs die huis vasgemaak. Sy kon natuurlik nie wag dat Gys haar moet kom groet nie.
Toe Gys om die hoek van die huis ry, sien hy die vreemde motor in die een motorhuis geparkeer staan. Natuurlik Martin s’n. Hy loer sydelings na Nonanda. Haar gesig lyk gespanne. Hoekom? Hy parkeer die motor ‘n entjie van die huis af.
Impulsief lê hy vinnig sy hand op albei hare en toe sy hare wil wegtrek, neem hy hulle in ‘n stewig greep vas.
“Nonnie, het jy hom lief?” vra hy skor, dringend.
Nonanda kyk hom verbaas aan. Waarom vra hy haar so ‘n vraag nadat hy die hele ent pad feitlik niks met haar gesels het nie?
“Gewoonlik het ‘n mens die spesiale persoon in jou lewe lief,” antwoord sy ontwykend en effens styf. “In elk geval, ek kan nie sien wat dit nou eintlik met jou te doen het nie,” vervolg sy en sy haat haarself omdat sy nou ongemanierd en onverfynd optree, maar dit is maar net ‘n skans teen verdere seerkry wat haar sulke dinge laat sê.
Hy los haar hande asof sy hom brand en ‘n emosielose masker sak oor sy gesig.
“Jy het reg, dit het niks met my uit te waai nie,” antwoord hy stug en klim haastig uit die motor uit om die deur vir haar te kom oopmaak.
“Hallo, Gysie-skat,” groet Bonita, gooi haar arms om Gys se nek en soen hom vol op sy mond. “Ek is so bly dat jy veilig terug is.”
Gys is nog omgekrap oor die afgelope kort gesprek met Nonanda en het geensins nou lus vir Bonita se “Gysie-skat” nie. Hy trek haar hardhandig tot styf teen hom en fluister dringend in haar oor: “Ek waarsku jou, Witkop, dis die laaste maal dat jy my so voor mense noem. Ek is nié jou Gysie-skat nie en ek sal dit ook nooit wees nie!” Toe laat hy haar vinnig los.
Bonita het nie dié driftige reaksie van Gys verwag nie. Haar wange word warm word onder die aanslag van sy ontevredenheid. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd is sy van alle woorde ontneem, en staan sy net stil na hom en kyk terwyl hy die bagasie afpak.
Hy moes darem nou iets baie intiems in die witkop se oor gefluister het, want kyk net hoe bloos sy, dink Nonanda en voel skielik sommer net hartseer. Sy het egter nie tyd om haar veel oor die toneeltjie te verknies nie, want die volgende oomblik voel sy hoe twee arms haar styf omhels en sy kyk in Martin se helder oë vas.
“Nonandatjie, ek het so oneindig baie na jou verlang. Ek kon net nie meer wegbly nie. Vergewe my asseblief dat ek nie tuis op jou gewag het nie?” pleitvra hy saggies.
Meteens is dit vir Nonanda asof haar hart een groot sweer is wat oopgaan en momenteel bring dit verligting vir daelange spanning wat in haar aan die opbou was. Martin is hier. Dierbare Martin wat nog altyd al haar seer kon wegdokter en al haar probleme in ‘n japtrap kon help oplos. Haar ou vriend wat van kleins af maar altyd gereed was om vuiste in te lê wanneer haar eer op die spel gekom het, hy is hier, bruis die dankbare gevoel deur haar en sy nestel haar kop styf onder sy ken in – laat toe dat hy strelend oor haar rug vryf.
“Ek is so bly jy is hier, Martin,” fluister sy sag.
Gys hoor elke woord, en sy bewegings stol momenteel.
Oom Robbie se stem dwing Nonanda tot die werklikheid terug en sy tree effens verleë uit Martin se omarming uit. Genadetjie tog, sy was so verlig en dankbaar om haar ou vriend, raadgewer en vertrooster te sien dat sy geen oomblik lank daaraan gedink het dat haar spontane optrede die verkeerde indruk by hom kon skep nie.
“Dagsê, ou doggie. Ai, ek is darm so bly jy is weer terug. Ek het so geskrik toe ek hoor van die ongeluk wat jy gehad het,” sê oom Robbie aangedaan toe hy na die verband om die kop kyk en haar sag nader aan hom trek.
“My oupatjie,” kom dit hartlik van Nonanda. “Ek is net so bly om weer terug te wees.”
Oom Robbie se hart swel van trots toe hy haar aanspreekvorm hoor. Hy sou wat wou gee om werklik die ou meisietjie se oupa te kon gewees het.
Gee my krag, dink Bonita vies. Dat hulle nou so oor mekaar kan tekere gaan asof hulle ‘n hele jaar van mekaar af weg was, gaan haar verstand te bowe.
“Hallo, Nonnie,” groet Willem sag toe sy omdraai om huis toe te stap.
“Hallo, Willem. Gaan alles darem nog goed hier by die voëls en so aan?” vra Nonanda glimlaggend.
Willem kyk met teerheid na die brose gestalte hier voor hom, en hy weet: nee, hy is nie op haar verlief nie, maar dit sal so maklik wees om vir haar lief te word. Sy is mooi, lieftallig en sommer net dierbaar en hierdie kombinase het hom betyds laat besef dat dit die soort nooi vir hom is. Daarmee saam het die heerlike wete by hom posgevat dat hy van sy verliefdheid op Bonita genees is.
“En as jy so na my staan en kyk, boet Willem?” vra Nonanda skertsend toe hy nie dadelik antwoord nie.
Hy grinnik seunsagtig. “Ek kyk sommer hoe mooi jy nou eintlik is, ou sussie. Maar dit lyk my ek sal in die pasoppens moet wees, want hierdie vriend van jou lyk na ‘n gewigtige kêrel,” korswel hy en sy bloos ongemaklik.
“Kom, mense, daar is vars botterbroodjies en koffie in die kombuis,” groet Bes vrolik en soen Nonanda innig op haar wang, haak by haar in en stap huis se kant toe.
Martin weet op hierdie oomblik nie watter een van sy deurmekaar gevoelens die oorhand oor hom het nie. Blydskap, omdat Nonanda opsigtelik bly was om hom weer te sien of verslaentheid omdat sy so gou sommer weer blykbaar van hom vergeet het. Half bedremmeld stap hy agter die groepie aan huis toe.
Net toe hy egter die eerste trap van die stoep bereik, keer Gys hom voor.
“Ons twee het nog nie ontmoet nie, Meneer. Ek is Gys Burger,” stel Gys hom aan Martin voor en kyk reguit na hom.
Martin glimlag vriendelik. “Ja, nie dat ek julle daaroor kwalik neem nie, hoor. Dit was so ‘n deurmekaar groetery daar by die motor en jy was aan die afpak. Ek is Martin Theron. Aangename kennis, Gys.”
Vandat Gys van Martin se teenwoordigheid op die plaas bewus geword het, het talle vrae ongeorden in sy kop rongespring. Is die man hier om vir Nonnie te kom haal? Sal Nonnie ook, net soos Elize destyds, maar te dankbaar wees om Voëlparadys se stof van haar voete af te skud? Wil hy wat Gys is regtig hê dat sy sommer net so weer uit sy lewe verdwyn? Sal hy juis om dié rede met Martin vriendelik kan wees?
Miskien is die kêrel onuitstaanbaar en het hy dus nie nodig om vriendelik met hom te wees nie, het hy half sinies gehoop. Maar nou dring die wete omomwonde tot hom deur: Martin is ‘n allerdaagse, vriendelike man. Die soort wat ‘n man graag as vriend wil hê.
Gys glimlag strammerig. “Nou toe kom, Martin, daardie koffie en eetgoed wag vir ons.”
“Dankie, Gys. Jou mense is so gaaf teenoor my dat ek nou besef wat die mens in die stad daarmee bedoel wanneer hulle praat van boeregasvryheid.”
Terwyl almal met koffie sit, word Nonanda, Gys en Bonita uitgevra oor die waarnemings wat hulle gedoen het. Bonita sit langs Gys en lê telkens haar hand vertroulik op sy arm of skouer wanneer sy iets beaam wat hy sê. Die gebaartjies trek telkens Nonanda se oë soos magnete.
Gys vertel van die chaos wat die eerste aand in Bonita se tent was. Toe bly hy eenklaps stil. Sy voorkop is op ‘n ernstige frons geplooi en sy oë weerspieël ‘n ongelowige trek.
“Wat is dit nou, Gys? Waaraan dink jy?” vra Bes en kyk stip na haar seun. Sy ken hom te goed, sy weet dat iets hom hinder.
Maar Gys glimlag en sit sy vertelling voort. Tog bly die ontdekking wat hy so pas gemaak het, deur hom warrel. Terwyl hy vertel het, het hy weer gesien hoe Erik met die verflenterde donkkerrooi slaapsak onder sy arms staan en skielik het hy onthou van die donkkerrooi rafels aan die skêr in die noodhulpkassie. Dit kon net een ding beteken: iemand in die kamp self was vir die vernietigingswerk verantwoordelik. Maar waarom sal een van hulle nou so iets wou doen?
Na die koffiedrinkery vra Martin vir Nonanda om ‘n entjie saam met hom te gaan stap. Nonanda willig in en hulle stap in die rigting van die voëlhokke.
“Die twee maak nogal ‘n oulike paartjie,” mymer Bes ingedagte.
Gys vra om verskoon te word en stap ook by die deur uit.
Bonita kyk hom verstom agterna. Hy los haar sowaar alleen hier asof hy nie eens van haar teenwoordigheid bewus is nie, dink sy omgekrap. Sy staan ook haastig op en draf sonder ‘n woord van verskoning aan die ander agter hom aan. Buite is egter geen teken van hom nie en vererg stap sy na haar perd toe. Sy sal maar huistoe gaan, want Gys is nie vandag die gemoedlike man van altyd nie.Sy kan nou nog nie glo hy het net na hul aankoms daar by die motor so naar met haar gewees nie. Wat sou in hom ingevaar het?

Nonanda en Martin kom kort voor die broeihokke tot stilstand en Nonanda staal haar vir wat gaan kom. In hierdie paar stil oomblikke met die voëlsang wat die skoonheid van die natuur om hulle verhoog, kom Nonanda tot besluit: ja, sy sal met Martin trou. Sy is tog vir hom lief en hulle het ‘n pragtige verhouding. Daarom behoort ‘n huwelik tussen hulle te werk.
Sy glo ‘n liefde soos wat sy vir Gys koester, net een keer in ‘n mens se lewe in jou hart nesmaak, maar dié liefde sal sy soos ‘n kosbare kleinood in haar diepste hartkamers troetel, want hy gaan met ‘n ander vrou trou en dus sal dit altyd ‘n onbeantwoorde liefde bly. Martin sal vir haar goed wees.
“Nonanda, jy is baie stil,” dring Martin se stem tot haar deur en sy hoor die baie vrae daarin deurskemer.
Sy kyk na hom en ‘n sagte uitdrukking skuif oor haar gesig. Siestog, hy lyk so ongemaklik en huiwerig Iets diep in haar binneste reik na hom uit en ouder gewoonte gaan sy met haar rug teen sy bors staan sodat hy sy ken op haar kroontjie kan laat rus. Sy wag vir die ou bekende rustigheid wat oor haar moet kom lê soos wat altyd in die verlede gebeur het.
Sy arms vou dadelik om haar lyk en hy druk haar styf teen hom aan, en Nonanda weet: niks sal ooit weer soos van ouds tussen hulle kan wees nie. Alles gaan ‘n nuwe betekenis hê. En die ergste van alles is: sy kan hom nie die liefde gee wat hy in ‘n huwelik verlang en verdien nie.
“Nonanda,” fluister hy hees. “Het jy al besluit of jy kans sien om met my te trou?”
“Martin … ek… Jy moet weet ek het jou nie op dáárdie manier lief nie, en ek voel jy verdien die algehele liefde van die wonderlikste vrou op aarde,” antwoord sy sag.
Hy swaai haar in sy arms om en kyk in haar oë.
“Maar ek wil jou hê, nie ‘n ander vrou nie. Ek gee nie om dat jy vir my minder of op ‘n ander manier lief is as ek vir jou nie. Asseblief, sê ja?” pleit hy skor.
“Goed … goed, Martin, ek sal met jou trou,” sê sy en laat toe dat hy haar teer soen, terwyl dit vir haar voel asof sy so pas van iets waardevols afstand gedoen het en net ‘n troosprys daarvoor ontvang. ‘n Troosprys wat ook nie werklik die troos bring waarop sy gehoop het nie.
Waar Gys pas uit die laaste broeihok uitgestap het, laat hierdie laaste woorde van Nonanda ‘n ysige verlatenheid oor hom toesak. ‘n Verlatenheid waaraan hy nog sukkel om ‘n naam te gee. En tog knaag daar iets aan sy onderbewussyn: hy het nog altyd gedink ‘n meisie se stem moet totaal anders klink die dag warop sy haar aanstaande die jawoord gee. Nie soos Nonanda so pas geklink het nie, amper asof sy toestemming tot ‘n yslike operasie op haarself gee.

Oupa Robbie se kromsteel hang stil in sy mond. Ook hy het die laaste deel van Nonanda en Martin se gesprek gehoor. So, dan het Nonnie besluit dat Martin wel die man vir haar is.
Die hartseer kom stil in sy hart lê. Hy het verknog aan die meisiekind geraak. Goed, hy besef dat sy in elk geval na twee maande weer sou vertrek om na haar eie belange te gaan omsien, maar diep is sy ou hart wil hy glo dit sou nie so ‘n finale, of permanente afskeid en skeiding gewees het nie. Hy gun haar ‘n gelukkige huwelik en toekoms, maar hoekom twyfel hy dan so sterk of sy die regte besluit geneem het?

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s