Deel tien Nonnda se paradys

Standard

Gys maak Bonita se arms ferm van hom af los en stoot haar eenkant toe.
“Nee, Bonita. Jy het gevra dat ek hier moet kom slaap omdat jy bang is en dit sal ek doen, maar ek stel geensins belang in ‘n flirtasie met jou nie.”
Bonita snak verontwaardig na haar asem. “Is dit wat jy dink? Dat dit net ‘n flirtasie van my kant af is? Jy is so verkeerd, Gysie-skat. Ek het jou lief, en ek begeer al so lankal om so alleen by jou te wees. Hou my vas, Gys, ek het jou vanaand meer as ooit tevore nodig,” sê sy hees, weggevoer deur haar verbeelding, en streel weer soekend met haar hande teen sy bors en nek.
Gys vat haar hande stewig vas voordat hy praat. “Staak dit, Bonita! Ek het jou nie lief nie. Jy is ‘n jarelange vriendin, en dis al. Moenie ons vriendskap bederf deur ‘n intieme verhouding aan my te probeer opdwing nie, asseblief. Gaan slaap nou.”
“Is jy dan koudbloedig, mansmens? Of is daar iets met jou verkeerd?” vra sy hardkoppig.
Gys se laggie is spottend. “Nee, koudbloedig is ek nie, Witkop, maar my bloed word nie sommer warm vir enige meisie nie – net vir die meisie wat ek liefhet . En daar is niks met my verkeerd nie. Nou gaan ek slaap. Jy beter dieselfde doen, anders wil jy nie môre opstaan nie.”
“Ja, goed,” antwoord sy afgehaal. “Nag,Gys.” Maar moenie dink dat ek so gou al gaan moed opgee nie, o, nee, voeg sy driftig in haar gedagtes by toe sy op haar bed gaan lê.
Niks gebeur gedurend die nag nie en die groepie het so pas ontbyt genuttig, toe Gys hul aandag vra.
“Ek dink ons moet maar nog vandag hier bly en môre vroeg teruggaan. Dus moet ons hoop om vandag soveel waarneming te doen dat dit genoeg vir julle studiestuk is. Ek is vir julle almal hier verantwoordelik en wil dus geen kanse waag nie. Ek moet egter byvoeg dat ek al baie hier gekampeer het, en dis die eerste keer dat so iets hier gebeur. Gelukkig is ons almal nog ongedeerd, en niks is gesteel nie, dus glo ek nie dat ons die polisie hiervan in kennis hoef te stel nie.”
Almal is met die besluit tevrede en niemand merk dus die ontevrede trek wat vlugtig op Bonita se gesig verskyn nie.
Spoedig is die groepie weer op pad terug na die plek waar hulle die vorige dag was.
Dis ‘n lieflike sonskyndag en die water by die watergat word van vroeg af al deur die voëls geniet. Fyn sproeidruppeltjies spat in alle rigtings soos hulle in die vlak water op die klippe sit en bad. Daarna gaan hulle in die sonlig sit en skud hul vlerke vir die vale soos hulle hul vere droog maak.
Bonita kyk van die een na die ander. Die wisselende uitdrukkings wat op die gesigte verskyn terwyl die voëls deur verkykers dopgehou word, spreek van verrukking. Liewe tyd, wat ’n vervelige affêre! Sy kyk na Gys. Om sy mondhoeke speel ‘n tevrede, gelukkige glimlag wat sy sterk, vierkantige kakebeen beklemtoon. Hy kyk na Nonanda waar sy in vervoering deur ‘n verkyker staan en kyk.
‘n Onredelike jaloesie dam in Bonita se binneste op toe sy daaraan dink dat die voëls Gys se aandag so kan boei, hy vergeet skoon van haar teenwoordigheid hier by hom, maar kan darem tyd hê om die ou vaal meisietjie met skaapoë te staan en aanstaar.
Almal kyk gesteurd op toe ‘n onbedaarlike hoesbui Bonita skielik beetpak. Verwilderd kies die voëls die hasepad en almal staar hulle teleurgesteld agterna. Niemand sien dus die vermakerige tevredendheid in die eienaardige groen kykers raak nie, behalwe Nonanda wat steeds na haar kyk. Bonita kyk vas in haar oë en woordeloos daag sy Nonanda uit om ‘n opmerking te maak. Nonanda betrag haar egter met stom verbasing, want sy kan nie glo dat ‘n mens opsetlik so kleinlik kan handel nie.
“Bonita …?” kom dit fronsend, vraend van Gys.
Bonita gooi haar hande in die lug en gaan in ‘n bejammerenswaardige hopie op die grond sit. Toe sy antwoord, klink sy soos ‘n klein dogtertjie wat bang is vir die straf wat gaan kom omdat sy stout was.
“Ek … ek is so jammer. Gys, maar ek kon dit nie meer inhou nie. Die gekriewel in my keel lol al van netnou af. Jy … julle verstaan mos, nè?”
Haar stukkie toneelspel is onverbeterlik en Nonanda is glad nie verbaas toe die ander almal in antwoord op haar vraag knik nie. Almal gaan weer na hulle posisie terug en net Nonanda kyk nog ‘n oomblik lank peinsend op die witkop af totdat Bonita onverwags opkyk en uitdagend vir haar oogknip.
Nonanda skud haar kop in ongeloof, swaai weg en kyk na die voëls wat weer een vir een na die watergat toe terugkom.
Net toe Nonanda weer die verkyker na haar oë toe wil lig, kom staan Bonita stil agter haar en plaas haar hand in ‘n vriendelike gebaar op Nonanda se skouer. Haar woorde wat sag volg, is egter allesbehalwe vriendelik.
“Ek het gedink ons twee verstaan mekaar, Nonanda, maar na wat ek gesien het, lyk dit nie vir my so nie. Nou waarsku ek jou: los vir Gys uit. Hy is myne.”
“En wat van jou kêrel in Lydenburg? Wil hy hom ook nog hê? Wat dink jy sal Gys sê as hy van hom moet hoor?” fluister Nonanda terug en kan haarself skop toe die woorde uit is. Sy het haar dan voorgeneem dat sy nooit ‘n woord hieroor sal uiter nie. Maar Bonita besit eenvoudig die vermoë om die slegte in haar na vore te bring.
“Jy, is gek!” sis die witkop en haar groen oë spuug vuurvonke., “Waag dit net om by Gys te gaan stories aandra!”
“Ek stel nie genoeg belang om my met jul sake te bemoei nie. En nou sal ek dit waardeer as jy loop. Ek het beter dinge om te doen as om oor sulke twak met jou te staan en redeneer,” sê Nonanda ysig, trek haar skouer onder Bonita se hand uit en lig vasberade weer haar verkyker na haar oë.
Bonita blaas omgekrap deur haar neus toe sy wegstap.
Die res van die dag verloop heel lonend, want nog meer voëls as die vorige dag kom die watergat besoek. Hulle identifiseer soveel spesies moontlik en neem foto’s van die wat hulle nog nie afgeneem het nie.
Teen die tyd dat hulle moet teruggaan kamp toe, is die drie jong mense heeltemal tevrede. Hulle het genoeg material bymekaar gemaak om vir ‘n suksesvolle studiestuk te sorg.

Nonanda en Santa lê daardie aand nog lank in die donker tent en gesels. Die vorige aand se spanning is nie meer so vars in hul geheue nie, en niks het sedertdien gebeur nie, maar tog wonder hulle nog daaroor.
“Darem jammer dat ons twee nie ook vir ons elkeen ‘n beskermheer kon gekies het soos wat Bonita gedoen het nie, né?” spot Santa liggies geamuseerd.
Nonanda glimlag stil in die donker vir die rooikop se aanmerking. “En as jy nou vir jou so ‘n danige heer kon kies, wie van ons drie here hier sal dit wees, Santa? terg sy.
“O, nie een van hulle nie. Ek sou Gys se jonger broer, Willem daarvoor kies,” antwoords sy dramaties sugtend.
“Ken jy dan vir Willem?” vra Nonanda verbaas.
“Nie baie goed nie. Ek het hom nog net een keer gesien toe Gys hom gestuur het om die lys van benodigdhede vir die tog by my te kom afgee. Ek het hom toe tee aangebied en ek kon my ore nie glo toe hy sowaar instem en boonop sommer ‘n hele uur daar by my sit en gesels nie. Sjoe! Gys is ‘n aantreklike ou, maar Willem is die man vir my. Ek wonder of hy ‘n nooi het. Weet jy dalk?”
“Jammer, jong, maar ongelukkig kan ek jou nie daar help nie. Ai, ek lê nou net lekker, maar nou moet ek eers gou die bossies gaan opsoek. Dit het ek nou daarvan om twee koppies koffie so kort voor slaaptyd te drink,” sê sy skertsend en klim van die bed af.
“Wees versigtig, hoor.” maan Santa.
Al die tente se ligte is reeds uitgedoof, maar die dik stompe wat die mans op die vuurtjie gegooi het, brand nog lustig. Nonanda besluit om ‘n rukkie daar te gaan sit toe sy van die bossies af terugkeer.
Net toe sy om die laaste boomstam wil stap, voel sy hoe iemand haar van agter af vasgryp en ‘n hand klem oor haar mond voordat sy ‘n geluid kan uiter. Haar eerste gedagte is aan die persoon wat in Bonita se tent was en sy spartel wild.
“Moenie so spook nie, Nonnie. Dis ek … Gys,” sê Gys hier teen haar oor.
Die verligting is so groot dat sy lam teen sy bors aanleun en haar oë in dankbaarheid sluit. Sy voel hoedat hy stadig sy hand oor haar mond wegneem en sy vingers onder haar ken inskuif. Hy lig haar ken en sy kan sy warm asemhaling hier teen haar gesig voel. Haar oë vlieg oop en in die flou maanligstrale probeer sy die uitdrukking op sy gesig lees, maar dis onmoontlik.
“Het jy my agtervolg?” vra sy agterdogtig en bloos by die gedagte aan die rede vir haar nagwandeling.
“Nee, Wat soek jy hier in die donker bosse so ver van die kamp af? Is jy dan nie ook bang nie? Ek het juis nou die omgewing weer so ‘n bietjie verken om seker te maak dat alles veilig is. Ekskuus dat ek jou mond toegedruk het, maar ek wou maar net keer dat jy die ander klompie ook wakker skreeu,” verduidelik hy sonder om haar te los.
“O. Wel, jy kan my nou maar weer los en gaan slaap,” sê sy vinnig en beur weg van hom af.
“Wel, ek glo nie ek sal nou kan slaap nie, weet jy?” kom sy stem skor, steeds hier teenaan haar gesig, en sy greep op haar verstewig.
“W … waarom nie?” vra sy verbouereerd toe sy skielik van ‘n vreemde nuanse in sy stem bewus word.
Gys is intens bewus van haar fyn, vroulike liggaam hier in sy arms, en hy voel hoe die bloed deur sy are bruis.
“Nonnie, wat doen jy aan my?” fluister hy en swaai haar in sy arms om.
“Ek … Gys, asseblief, los my,” soebat sy, maar sy gesig kom nog nader.
“Nee, ek kan nie … nie meer nie,” antwoord hy hees en trek haar styf teen sy gespierde lyf vas.
Sy voel die branding van sy lippe op haar ooglede, haar wange, teen haar nek en vir ‘n lang stonde op die wildkloppende kuiltjie in haar nek voordat hy haar lippe in besit neem, en sy voel al weer te magteloos om te beweeg.
Nonanda spartel nie meer nie. Haar liefde vir hierdie man oorheers haar denke en die begeerte dat hy haar moet liefkoos, laat haar haar liggaam nog stywer teen hom aandruk. Met ‘n magtelose, sagte kreun gee sy haar oor aan sy omhelsing.
Toe hy haar eindelik laat gaan, moet sy noodgedwonge nog ‘n rukkie lank aan hom vashou om haar ewewig te herwin. In daardie oomblik flits die skadubeelde van Gys en Bonita, toe hulle die vorige aand in die tent was, voor haar oë verby en sy deins terug.
Ek het myself so pas verraai. Ek het my soos ‘n goedkoop vrou in sy arms gegooi terwyl ek tog weet dat hy met Bonita gaan trou, brand die wete deur haar en die verleenthied wat dit by haar veroorsaak, maar haar skielik woedend.
“Jy doen dit nooit weer nie, Gys Burger. Ek is nie vir sulke goedkoop flirtasies te vinde nie. As jy lus het vir sulke dinge, gaan na Bonita toe. Net soos gisteraand sal sy weer in jou arms wegsmelt.”
Nonanda weet nie waar sy so vinnig aan hierdie woorde kom nie. Sy weet net dat sy oneindig seer van binne voel en daardie seer skreeu om terug seer te maak.
“ Wat, waar kom jy aan so iets?”
“Dit help nie om dit te ontken nie, Gys, Ek hét oë in my kop. Buitendien , wie sê vir jou ek was ontvanklik vir jou attensies? Wie sê vir jou ek het nie reeds iemand anders in my lewe het nie?” vra sy gesmoord en die spanning in haar laat haar rug styf trek.
“As daar iemand is, my liewe Nonnie, kan hy nie veel van ‘n minnaar wees nie, want ek glo nie jy is al ooit so gesoen en vasgehou soos wat ek pas gedoen het nie. Jy sou nie my soene met soveel hartstog kon beantwoord het nie.”
Nonanda trek haar asem verontwaardig in. “Jy is verwaand, weet jy dit? Ek … ek is aan beter gewoond. Jou … jou soene is flou … En … en jy het my maar net verras, dis al,” stotter sy. Sy is dankbaar vir die donkerte, want sy kan voel hoe haar wange gloei van skaamte en vernedering.
O, so?” sêvra hy en tree weer dreigend nader, maar sy spring soos ‘n wildsbokkie weg en nael terug tent toe. Sy sien egter nie kans om dadelik in te gaan nie, want sy sal nie nou met Santa kan gesels indien die meisie nog wakker is nie. Sy kruip in die donker skaduwee van die tent weg totdat sy sien hoe Gys in Bonita se tent verdwyn. Dan eers sluip sy sag in die tent in en gaan klim geluidloos op haar bed.

Die volgende oggend is Nonanda se kop suf van die min slaap. Sy het die hele nag lê en rondrol en het telkens haar gedagtes betrap dat hulle na die volgende tent toe dwaal. Sy het sy haarself gekasty met beelde van hartstogtelike omhelsings tussen Gys en Bonita.
Na ontbyt besluit hulle om dadelik hul goed te begin oppak en maar die terugtog aan te pak. Nonanda kom orent waar sy styf teen die vuurtjie met net ‘n koppie koffie gesit het terwyl die ander geëet het.
“Waarom het jy nie vanoggend geëet nie, Nonnie? Verlang jy te veel na jou minnaar?” vra Gys hier vlak by haar en sy kyk vas in sy spottende oë.
“En wat daarvan as dit so is?” vra sy uitdagend en trek haar skouers nog ‘n aks agteroor voordat sy oorhaastig terug na haar en Santa se tent toe begin stap.
Sy storm om die hoek van die tent en toe sy haar kom kry, het haar voet al klaar aan een van die tentpenne vasgehaak. Sy slaan soos ‘n os op die grond neer. Sy stuur ‘n benoude gilletjie die lug in voordat haar kop hard met die volgende tentpen kennis maak. Dan sak ‘n genadige duisternis oor haar toe.
Santa, wat reeds in die tent was, hoor Nonanda se gil en kom haastig by die tentflap uit. Haar oë rek groot toe sy Nonanda sien lê. Die volgende oomblik is Gys ook daar. Hy buk by die bewustelose Nonanda en rol haar sag om sodat sy op haar rug lê. Eers dan sien Santa die bloedstraaltjie wat teen die kant van Nonanda se gesig afsypel.
Gys kyk op en sy oë wys duidelik sy skrik. “Santa, gaan haal asseblief die noodhulpkissie in die kombuistent en stuur een van die ander met ‘n bietjie water hierheen,” sê hy haastig. Toe sy vinnig wegdraf, gaan hy plat op die grond by Nonanda sit en laat haar kop so sy skoot lê.
“Nonnie, meisiekind, wat het jy tog nou aangevang, h’m?” fluister hy hees en vryf saggies oor haar voorkop met sy vingers. ‘n Onbeheerbare drang brand in hom om haar teen sy bors te koester, te troetel en te beskerm.
“Hier, Gys,” sê Santa toe sy die noodhulpkissie by hom neersit en die dekseltjie oplig. Net toe kom Tom daar aan met ‘n glas water wat hy ook na Gys uithou.
Gys ontsmet eers die wond teen Nonanda se slaap so goed as wat hy kan voordat jy die gaasverband vat en die wond verbind. Die verband is te lank en hy neem die skêr om dit korter te knip. Daar hang ‘n paar rafels aan die skêr wat hy haastig verwyder voordat hy met sy taak aangaan. Intussen begin Nonanda saggies kreun.
Haar oë gaan oop en sy kyk vas in Gys se bekommerde gesig hier bo hare. Net ‘n kort oomblik lank troetel sy haarself deur te glo dat hy opreg bekommerd oor haar as persoon is, maar dan besef sy sy is maar net nog een van sy verantwoordelikhede op die tog. Sy wil haastig orent kom, maar hy hou haar vas sodat sy so met haar kop op sy skoot moet bly lê.
“Wag, lê nog ‘n rukkie stil, Nonnie. Ek isamper klaar met die verband. Jy het jou kop teen ‘n tentpen stukkend geval,” sê hy sag en Nonanda wonder verbaas of sy dan nog nie heeltemal by haar bewussyn is nie, want dit klink dan glad vir haar asof Gys so spesiaal teer met haar praat, so asof hy werklik omgee, asof sy vir hom meer as net ‘n verantwoordelikheid is.
“As jy klaar die ou skrapie verbind het, Gysie-skat, kan ons seker maar weer voortgaan met die pakkery,” dring Bonita se stem tot Nondanda deur, en al haar wensdenkery spat in stukkies. Daar is ‘n ongeduldige klank in die witkop se stem, en sy kyk venynig na Nonanda en Gys.
Dis die laaste druppel en Nondanda druk ferm Gys se hande weg en kom orent. Sy voel dronkerig, maar probeer so normaal moontlik by die tent se opening instap.
Bonita sien die donker frons van kommer op Gys se voorkop toe hy Nonanda agternakyk, en terselfdertyd merk sy ook iets anders op sy aantreklike gesig: ‘n teerheid wat sy laas daar gesien het toe hy en Elize verloof was, en ‘n koue knelband vou om haar hart. Gys is reeds aan die ou meisietjie verknog. Opnuut neem sy haar voor om daardie verknogtheid op alle denkbare maniere in die stof te laat byt. Niemand gaan haar van Voëlparadys se vet inkomste en sy baas beroof nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s