Deel nege van Nonanda se paradys

Standard

Tydens die ontbyt sit Nonanda so ver moontlik van Gys en Bonita af en kyk ook nie een keer in hul rigting nie. Sy hoor egter hoe Bonita opgeruimd met hom gesels asof dit net hulle twee daar is. Sy wil haar kop iewers in ‘n gat gaan druk van skaamte omdat sy vroeër amper in Gys se arms weggesmelt het. Sy sou, as dit nie vir Bonita se tussenkoms was nie, dit besef sy nou maar te goed. Hoeveel van daardie toneel het Bonita gesien?
Na ontbyt neem Gys die voortou en hy handhaaf ‘n gemaklike pas vir almal om by te hou. Hy mik in die rigting waar hy vantevoere al waarneming gedoen het.
Die drie mans dra elk ‘n rugsak waarin al hul toerusting gepak is, terwyl die meisies die rugsakke met hul kos dra.
Daar heers ‘n gemoedelike stemming tussen Santa, Gys, Erik en Tom. Bonita probeer hard om ook met hulle saam te gesels, maar aangesien haar kennis oor voëls veel te wense oorlaat, probeer sy kort-kort die gesprek in ‘n ander rigting lei. Die jongmense is egter te opgewonde oor die vooruitsigte van die dag en die geselsies kom maar telkens weer terug na wat hulle eintlike doel hier is. Bonita verval later in ‘n nors stilswye.
Nonanda is dankbaar dat daar so baie gesels word en sy probeer hard om met mening te konsentreer op die geselskap rondom haar sodat haar gedagtes nie kans kry om hulle eie rigting in te slaan nie.
Teen dié tyd het almal ingestem om die “meneer” en “juffrou” te laat links lê. Die geselsies geskied dus nou heel informeel en opgeruimd. Net Bonita se voorkop is ontevrede geplooi. Sy hou nie daarvan om so eenkant toe geskuif te word nie.
“Gys, wat sou jy sê is die beste tyd van die dag om waarneming te doen?” vra Erik belangstellend.
“Wel, ek sou sê vroegoggend en laatnamiddag. Veral as ‘n mens foto’s ook wil neem, want gedurende daardie tye is die lig op sy beste. In die middel van die dag veroorsaak die hitte dikwels ‘n wasigheid wat ‘n probleem kan wees. En natuurlik moet julle in gedagte hou dat die voëls gewoonlik tydens die warmste deel van die dag gaan rus,” deel Gys heel inskiklik sy kennis met hulle.
“En wat beskou jy as die basiese gereedskap van ‘n voëlkyker?” kom die vraag dié keer van Santa.
“Notaboek, potlood en verkyker. Die notaboek en potlood kan natuurlik deur ‘n kompakte bandopnemertjie vervang word. Diegene wat ‘n Kindle of soortgelyke klein elektroniese item het, gebruik dit dikwels vir hul aantekeninge.”
“Kan ‘n mens die voël se roep ook met die bandopnemer opneem?” vra Tom gretig aangesien hy wel ‘n bandopnemertjie saamgebring het.
“Slegs as jy ook ‘n klein rigtingmikrofoon het, want die kondensormikrofoon wat in die meeste klein bandopnemers ingebou is, is ongeskik vir die opneem van die roepe,” verduidelik Gys.
In die stadium toe hulle sowat ‘n halwe kilometer van hul kamp af teen die berg op in die rigting van die Duiwel se Kneukels beweeg het, roep Gys halt. Hulle het die waarnemingsplek bereik.
“Hoog tyd ook, sou ek sê,” brom Bonita vol irritasie, en steur haar min aan die vreemde kyke wat die jong mense onderlangs met mekaar wissel. Sy hou nie van stap nie en die onderwerp waaroor gesels word, is vir haar uiters vervelig.
Gys buk by Bonita waar sy haar teen ‘n rots tuis gemaak het en fluister: “Kyk, Witkop, niemand het jou gedwing om met ons saam te kom nie. Jy het gesoebat daarvoor. En ek gaan dit nie duld dat jy die jong mense se entoesiasme met jou negatiewe houding demp nie. Verstaan ons mekaar nou mooi?”
Bonita weet sy beweeg nou op gevaarlike terrein, want Gys se donker oë is vol storms en sy mond het ‘n verbete trek. Sy ken hom darem lank genoeg om te weet sy moet mooi broodjies bak om weer in sy goeie boekies te kom.
Soos ‘n verkleurmannetjie verander sy haar gesigsuitdrukking. Sy glimlag en frommel haar neus fyntjies vir hom toe sy nader buk en by sy oor fluister: “Dit was nie so ernstig bedoel nie, Gysie-skat. Vergewe my asseblief, toe?” Sy tuit haar lippe en soen hom op sy oor terwyl sy met ‘n vermakerige glans in haar groen oë oor Gys se skouer na Nonanda kyk wat hulle stil staan en dophou.
Vir Nonanda lyk dit asof Gys nou eers gaan witvoetjie soek het by Bonita, amper asof hy gaan ekskuus sê het omdat hy haar so ver moes laat stap. Bonita se optrede getuig van selfingenomendheid en Nonanda ervaar ‘n skielike opwelling van jaloesie.
Sy draai haastig van hulle af weg en kyk na die omgewing wat hulle vir hul doel gaan gebruik.
Net bokant ‘n hol krans groei daar ‘n boom skeef uit ‘n rotsskeur. Dit het lang, slap takke wat byna tot teenaan die grond voor die kranse hang. Dit vorm ‘n lekker beskutte skuiling waaragter hulle kan inbeweeg. Daarvandaan kan hulle die voëls dophou sonder om self gesien te word. Net ‘n paar meter van die boom af is daar ‘n natuurlike watergat wat deur ‘n verskeidenheid grasse omring is. Die lang ritse sade behoort ‘n groot aantrekkingskrag vir sommige voëls te wees.
“Ek sal my bandopnemertjie tussen die gras naby die watergat gaan versteek. Ek het ‘n paar uitgesoekte bande met voëlsang en roepe wat ek kan speel. In die verlede het ek hier ondervind baie soorte het nogal geredelik daarop reageer en het nader gekom om die bron te ondersoek,” verduidelik Gys voor hy wegstap.
Santa se oë is bewonderend op Gys se breë skouers gerig en dit gaan nie ongesiens by Bonita verby nie. Dit kook binne haar by die besef dat sy altyd met hierdie klas ding opgeskeep sal sit, aangesien Gys by menige meisie dié soort bewondering opwek. Dis so frustrerend vir haar dat sy daarvan kan skreeu. As Gys maar net meer aandag aan haar, Bonita, wou skenk sodat die ander meisies kan dink hy behoort aan haar, sou dit nie so erg gewees het nie. Waar sy daaraan gewoond is om net ‘n wimper te fladder en enige man aan haar voete hê, blyk haar skoonheid geensins Gys se hartsnare toe roer nie. Inteendeel, hy behandel haar heel dikwels soos ‘n broer sy lastige tienersussie sal behandel.
Die blote gedagte van vanoggend se voorval laat die hoendervleis van voor af oor haar vel uitslaan. Sy weet sy het net betyds daar aangekom, anders het hy Nonanda gesoen. Sy moet die twee tot elke prys uitmekaar hou.
Grimmig draai Bonita haar blik na Nonanda wat ook na Gys staan en kyk en die nors frons maak weer sy verskyning op haar voorkop. Sy kan sommer sien die ou meisietjie is totaal beenaf op Gys.
Dis nie lank nie, of die eerste twee bergpietjiekanaries kom ondersoek die helder “pietjee” wat die masjientjie die lug instuur.
Die res van die dag maak nog heelwat spesies koesters, spekvreters en lysters hul verskyning. Toe dit vyfuur is, besluit hulle om die terugtog aan te pak om te gaan kos maak.

Heelwat later die aand help Nonanda vir Santa om brood te smeer wat op die kole gerooster moet word, toe Gys daar aangestap kom.
“Die kole is reg. Ek kom net die wors haal, Santa,” spreek hy die meisie aan, maar sy oë soek na Nonanda s’n.
Daar is iets waarnemend, smeulend in daardie donker kyk. Sy laat haar oë voor syne laat sak en gaan voort om die snye brood te smeer. Haar hande bewe rukkerig en sy span al haar selfbeheersing in om die bewing met mening hok te slaan voordat daardie ondersoekende oë van hom dit kan opmerk. Nogtans kan sy nie help om te wonder waarom hy so snaaks na haar kyk nie. Sy het verwag om spot in sy donker oë te lees, maar dis nie daar nie.
“Ag, nee. Moenie vir my sê Erik-hulle het nou al vir jou ook in die werk gesteek nie. Hier help Nonnie al klaar vir my ook. Ons het mos gesê ons sal alleen kos maak, Gys,” lag die rooikop en verbreek so die onsigbare, woordelose verbinding tussen Nonanda en Gys.
“Ek het maar net ‘n grap met julle gemaak, jong. Ons gee glad nie om om te help kos maak nie,” antwoord Gys en glimlag vir haar. Dan kyk hy in die tent rond, frons en vra: “Maar waar is Bonita dan? Help sy nie ook nie?”
“Nee, sy is nie by ons nie, Gys. Ek het gedink sy is by julle by die vuur?” sêvra Santa.
Op daardie oomblik bereik Bonita se murgdeurdringende gille hulle ore en Gys hardloop by die tent uit met Nonanda en Santa kort op sy hakke. Daar brand lig in Bonita se tent en almal hardloop soontoe.
Hulle vind Bonita nog met haar hand op die gaslamp wat sy blykbaar so pas aangesteek het. Almal se oë rek toe hulle die verwoesting sien wat binne die tent gesaai is. Bonita se tas lê oopgevlek en haar klere en besittings lê oral op die vloer rondgestrooi. Tot haar kampbed lê omgekeer en haar slaapsak is baie duidelik met ‘n skerp voorwerp aan flarde gesny.
“Wat in die wye wêreld gaan hier aan?” laat Tom hoor en gee ‘n uitgerekte fluit van verbasing.
Bonita storm op Gys af en kry hom stewig aan die arm beet.
“Hierdie …p… plek is … is nie veilig nie, Gys,” kry die witkop die woorde stotterend uit. “Ek slaap nie … nie vannag alleen in … in hierdie tent nie, sowaar, ek gaan nie!”
“Bedaar, Witkop,” sê Gys en probeer om sagkens haar klouende hande van sy arm af los te kry.
Sy kalm woorde is soos petrol op gloeiende kole vir Bonita.
“Bedaar! Jy sê ek moet bedaar …! Kan jy dan nie sien wat gaan hier aan nie? Iemand was in my tent terwyl ons weg was. Dalk is die persoon steeds in die omtrek en lê en wag hy tot almal slaap en dan kom hy weer … Dié keer dalk om te kom moor! En jy sê ek moet bedaar?” spuug sy die woorde na hom toe uit en haar oë skiet groen vonke. “Ek weier om vannag alleen in heirdie tent te slaap!”
“Ons sal wel ‘n plan maak, Bonita,” antwoord Gys en druk haar opsy om die bed weer staan te maak. Die ander het intussen alles weer opgetel en netjies in die tas teruggepak.
“Ek het ‘n ekstra slaapsak daar in ons tent wat sy kan gebruik, Gys,” kom dit behulpsaam van Erik waar hy met die verflenterde donkerrooi slaapsak onder sy arm staan.
“Dankie, Erik. Was julle al in julle tent vandat ons hier aangekom het, Santa?” vra Gys fronsend.
“Ek het netnou vir my ‘n hoofpynpil in my tas gaan haal,” antwoord Nonanda. “Daar is niks in ons tent verkeerd nie.”
“Ook nie in ons s’n nie, en ook nie in die kombuistent nie,” antwoord Gys en die frons op sy voorkop verdiep.
“Het dit miskien tot julle deurgedring dat hierdie tent die naaste aan die bosse staan en dat die indringer dalk nog nie kans gehad het om die ander tente te besoek nie? Dat hy nog besig was toe ons hier aangekom het en nou vir ons van iewers af staan en loer?” vra Bonita en kyk uit die hoogte na hulle met ‘n beterweterige uitdrukking op haar gelaat.
Gys moet toegee dis ‘n heel logiese afleiding en daar is kommer in sy gemoed. En tog is dit asof daar iewers ‘n steurende element in die hele aangeleentheid is wat aan sy gemoed bly krap.
“Julle twee se tent is te klein vir Bonita se bed ook, né? vra Gys en kyk na Santa en Nonanda.
Santa trek haar skouers jammerhartig op. “Ongelukkig ja, Gys.”
“Dan moet jy maar eenvoudig jou bed na my tent toe bring, Gys. Die twee kêrels is mos bymekaar en Nonanda en Santa is bymekaar, dus kan jy in my tent kom slaap, dan sal ek nie bang wees nie,” sê Bonita beslis.
“Kom laat ons eers die wors en brood gaan rooster voordat die kole tot niet is,” probeer Gys uit die benarde situasie kom.
“Nee, Belowe eers dat jy in my tent sal kom slaap, Gys,” dring Bonita op ‘n onmiddellike antwoord aan.
“Ek sal in jou tent kom slaap, Bonita, dan kan jy by Santa gaan slaap,” sê Nonanda skielik en eers toe sy die woorde klaar geuiter het, besef sy watse indruk Bonita en Gys van haar aangebode hulp kan kry. Bonita sal dink dat sy maar net nie wil hê dat Gys by haar in die tent moet gaan slaap nie en Gys … Gys sal dalk dieselfde gedagtes koester. Of … dit dalk as ‘n ope uitnodiging beskou om sy flirtasie met haar van vroeër die dag in die nagure in die alleentent te kom voortsit.
Bonita se skel, kortaf lag klink skerp op. “Gmf! Wat kan Santa vir my beteken as die inbreker terugkom? Nee, ek dring daarop aan dat Gys in my tent kom slaap, sê sy en haar stem styg nog ‘n paar kerwe.
Gys sug en hou sy hande moedeloos in die lug. “Goed, goed, Bonita. Kom nou net eers vuur toe, asseblief.” Met die woorde stap hy met lang hale na die braaiplek. Dis nou tipies soos Bonita is, dink hy vererg. Sy gee nie ‘n snars vir die ander se welsyn om nie, net solank sy veilig en tevrede kan voel.
Die voorval plaas ‘n demper op die geselskap. Die geselsies droog kort-kort op en by die geringste geluidjie loer almal maar fyntjies oor hulle skouers na die donker bosse.

“Kan ek maar die lamp doodmaak, Santa, of wil jy dalk nog ‘n bietjie lees?” vra Nonanda nadat sy haar verklee het.
“Nee, ek gaan ook maar nou inkruip. Nonnie. Ek voel nogal taamlik moeg, en nou met hierdie ding van vanaand …”
Nondanda doof die lamplig uit en loop voel-voel in die donker na haar bed toe. Toe sy by hul tent se opgerolde plastiekventer verbystap, sien sy dat die lig nog in Bonita se tent brand. ‘n Oomblik lank steek sy vas en kyk stip deur die gaas na die beweging daarbinne.
Op daardie oomblik sien sy hoe Bonita haar arms om Gys se nek slaan en haar kop agteroor gooi sodat die boog van haar nek duidelik sigbaar is. Nonanda skeur haar oë weg van die intieme toneel, want sy weier om haar so te martel deur te staan en kyk hoe Gys se lippe oor daardie slanke nek gly, haar lippe in besit neem, haar liggaam met sy groot hande streel en elke vroulike kurwe ontdek om haar dan in sy arms op te tel en op die kampbed te gaan neerlê vir ‘n nag van vurige passie.
Genade! Ek fantaseer oor hoe hy miskien vir Bonita gaan liefkoos, maar eintlik is dit presies wat ek begeer dat hy met my moet doen! Haar asem jaag deur haar oop lippe, en sy voel lighoofdig terwyl haar hande strelend oor haar nek gly.Sy kreun saggies haar onmag uit.
“Nonnie, is iets verkeerd?” vra Santa bekommerd.
“Nee … nee, niks is verkeerd nie.” Is al wat sy uitkry toe sy haastig op haar bed gaan lê en sukkel om haar asemhaling onder beheer te kry.
“Vergewe my as ek nou voorbarig klink, maar … is jy lief vir hom .. vir Gys?” vra Santa sag.
Nonanda snak liggies na haar asem. “Wat … waarom vra jy so iets?” fluister sy en wonder geskok of haar liefde vir Gys dan so opsigtelik is. “Hy en Bonita is al baie lank hegte vriende. Hulle gaan trou.”
“Hoe kan jy dit sê? Hulle is dan nie eens verloof of iets nie!” antwoord die meisie vinnig.
“Ek kan dit sê, want sy het my self laat verstaan dat hulle gaan trou. Buitendien, ek het nou net na hulle skaduwees in haar tent gestaan en kyk . Dit het boekdele gespreek. Nag, Santa.”
“Nag, Nonnie,” antwoord die meisie sag, begrypend.
Nonanda lê nog lank wakker met die seer in haar binneste wat maar nie die wyk wil neem nie. Dit het sy nou daarvan om ander mense af te loer. Daardeur het sy ‘n lat vir haar eie agterstewe gesny, dus moet sy nou maar die geseling daarvan verdra. As sy maar net geweet het hoe erg dit sal wees, maar hoe kon sy. Sy het nog nooit iemand so lief gehad soos nou nie en daarom ken sy nie die jaloesie en seer wat nie uit haar hart wil wyk by die aanskoue van Gys en Bonita se samesyn nie.
Sy weet dis verkeerd. Sy het geen reg op Gys nie, maar sy sit stom voor haar gedagtevloed vol hallusinasies oor hoe dit sal voel om in sy sterk arms geliefkoos te word totdat die wêreld rondom haar nie meer vir haar bestaan nie!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s