Deel agt van Nonanda se paradys

Standard

Daardie aand toe Nonanda in haar kamer ‘n derde keer die besonderhede van die groenvlerkduif lees, weet sy sy sal vanaand niks geleer kry nie. Sy bêre die boek, vat haar leesboek en klim in die bed.
Sy het al vergeet waaroor die roman handel waaraan sy lees, so lanklaas het sy hierin gelees, en sy blaai vlugtig van die een bladsy na die ander om weer die belangrikste drade op te tel. Martin se foto gly uit die boek uit.
Martin! Sy het skoon van hom vergeet. Liewe, liewe, Martin. As sy by die losieshuis gebly en maar liewer met hom getrou het, sou al hierdie hartseer nie nou so dik in haar bors saamgepak gelê het nie.
Ja, maar dan sou jy ook miskien nooit die wonder van hierdie liefde wat nou in jou hart lê, ervaar het nie, fluister ‘n stemmetjie hier diep binne haar.
“Maar hierdie liefde is eensydig. Hy het my nie lief nie,” sê sy sag, en druk
die foto teen haar gloeiende voorhoof vas. Sy sak net so teen die kussings af en heelwat later verval sy in ‘n rustelose slaap, nog so met Martin se foto in haar hand vasgeklem asof sy uit hom wil vertroosting put.

Die drie jong mense, Erik de Lange, Tom Verwey en Santa van Staden wag reeds vir hulle in Lydenburg toe hulle daar aankom. Nonanda en Bonita word deur Gys aan hulle voorgestel.
Daar word besluit dat hulle sommer dadelik verder ry sodat hulle nog genoeg tyd het om ‘n lekker kampeerplek uit te soek.
Spoedig is die twee voertuie in ‘n suidoostelike rigting van Lydenburg af op pad. Die pad loop verby die ingang van die F.C. Braun-akwarium en klim dan verder deur ‘n pragtige landskap nog hoër die Transvaals Drakensberg in deur Masjiennek en ook later die Long Tom-pas.
Nonanda verkyk haar aan die verruklike natuurskoon. Die sag golwende grasveld en verspreide rotsriwwe gaan oor in heuwels, later in berge wat uitstyg tot ‘n majestieuse berghelling wat deel vorm van die Eskarp.
Dis nog betreklik vroeg toe hulle die twee voertuie onder hoë bome tot stilstand bring. Hulle het afgewyk van die hoofpad af in die rigting van die oorspronklike transportryerpad totdat Gys die redelik beskutte plek aanwys waar julle die tente kan opslaan.
Almal doen geesdriftig aan die verrrigtinge mee, behalwe Bonita wat merendeels net in die pad is. Spoedig is die tente opgeslaan en daarna dra hulle die toerusting en ander items die tente binne.
Nonanda sien uit die hoek van haar oog hoe Gys ‘n koelsak en ‘n kussing in Bonita se arms druk. Sy hoor die witkop swets en sien hoe sy die goed op die grond neergooi en haar linkerhand vasgryp.
“Kyk wat het jy nou gedoen, Gys! My wysvinger se nael is morsaf gebreek!” snou sy Gys vererg toe.
“Ou Witkoppie, hier kan jy nie net staan en mooi lyk nie, hier werk ons almal … jy ook! Ons is nie nou op jou plaas waar jy hand en mond bedien word en net op jou perd rondrits nie,” antwoord Gys sag, maar net hard genoeg vir Nonanda om elke woord te hoor.
Bonita snork neerhalend, tel die goed van die grond af op asof dit haar sal byt en stap met swaaiende heupe na die tent toe waar sy die goed onsag neersit.
‘n Geamuseerde laggie borrel onwillekeurig by Nonanda se keel uit en te laat besef sy dat Gys haar kan hoor. Sy kyk vas in sy onweersgesig met die lag wat steeds in haar oë blink. Arme Gys. Hy sal nog baie aan Bonita moet arbei as hy van haar ‘n boervrou wil maak, dink sy vlugtig en wonder of Gys haar ook nou gaan invlieg.
Santa kom red die plofbare situasie met ‘n glas koeldrank vir elkeen en Nonanda slaak ‘n sug van verligting, want sy het al gesien hoe pak Gys haar beet oor sy vir hom durf lag.
Hulle besluit om eers die volgende dag met hul werk te begin. Daar is nou genoeg daglig oor en almal besluit om sommer ‘n bietjie die omiddellike omgewing te verken.
Nonanda wat die wêreld nie ken nie, besef gou dat dit in alle opsigte ‘n paradys vir die boomliefhebber is. Dis veral die kolle geelhout- en ysterhoutbome, kiepersol, wildeperske en sybasbome wat haar aandag trek.
Bonita stap so na moontlik aan Gys sodat sy kort-kort besitlik aan hom kan raak wanneer sy met hom praat. Dit pla haar baie dat Gys telkens tekens van irritasie toon wanneer sy aan hom raak. Sy besef sy sal ‘n daadwerklike poging moet aanwend om sy aandag ten volle op haar toegespits te kry. Dit duur egter nie baie lank voordat sy agterkom sy gedagtes is elders nie. Haar oë skreef vernynig toe sy oplet sy blik dwaal elke dan en wan na Nonanda toe.
So, dan is dit hoe die wind waai. Sy klem haar kake styf opmekaar en in haar oë verskyn ‘n sluwe trek.

Daardie aand, terwyl Gys-hulle om ‘n braaivleisvuur sit, lui die telefoon in Voëlparadys se postal.
“Ag, Paps, antwoord tog asseblief daar. Ek kan nie nou ophou om in hierdie kos te roer nie en Willem krap in die motorhuis aan die bakkie se enjin,” sê Bes vir oom Robbie.
“Voëlparadys, goeienaand,” sê hy met die kromsteelpyp steeds in die hoek van sy mond vasgebyt.
“Goeienaand, Meneer. Mag ek asseblief met Nonanda Muller praat? Ek is Martin Theron.”
Oom Robbie se mond val oop van verbasing en sy pyp kom kletterend op die vloer te lande. Hy dog dan Nonnie en Martin het ooreengekom om slegs deur briefwisseling met mekaar verbinding te hê. Maar noudat hy daaraan dink, hier het nog geen brief vir Nonnie van die kêreltjie af aangekom nie. Hy weet wel Nonnie het al ‘n paar keer aan hom geskryf.
“Naand, meneer Theron. Ek is oom Robbie Burger. Ek is nou jammer, ou seun, maar Nonnie is nie hier nie. Sy en ‘n paar ander jong mense het vanoggend saam met my kleinseun op ‘n voëlwaarnemingstog vertrek,” antwoord hy.
O, weet Oom miskien wanneer hulle sal terug wees?” vra Martin en Robbie hoor duidelik die teleurstelling in sy stem.
“Oor sowat drie dae. Is daar miskien ‘n boodskap wat ek haar kan gee wanneer sy terug is?” vra hy behulpsaam, want hy weet sommer dat hy hier met ‘n ordentlike jong man te doen het en buitendien, Nonnie het ook mos darem gesê dat hy ‘n goeie knaap is.
“Baie dankie, Oom, maar ek sal maar dan weer bel. Tot siens, oom Robbie,” sê Martin en staan oomblikke lank nog beteuterd langs die telefoon.
Hy het spesiaal nie aan Nonanda teruggeskryf nie. Hy wou haar genoeg kans gee om helderheid oor haar toekomsbesluit te kry en dan wou hy haar bel om te hoor of hy haar maar kan kom haal wanneer die twee maande amper om is. Dat sy sowaar verkies het om gedurende die twee maande iewers te gaan werk in plaas van om rond te toer, kan hy nou nog nie verstaan nie.
Hy slaak ‘n klein suggie. Dit lyk glad nie vir hom asof sy sy voorstel ernstig oorweeg nie. Sy skryf so baie in haar briewe van die twee Burger-broers daar op die plaas, veral van ‘n kêrel genaamd Gys. Hy wonder of sy saam met hom daar weg is, en skielik word hy van ‘n jaloesie in hom bewus wat nooit tevore daar was nie.

Op Voëlparadys klap Robbie se stram ledemate toe hy buk om sy pyp op te tel. Peinsend kom hy orent en staar nikssiende op die kromsteel af.
“Paps!” roep Bes uit die kombuis. “Wie was dit?”
“Sommer ‘n goeie vriend van Nonnie, Bes,” antwoord hy sonder om daarop uit te brei. Nonanda het hom mooi gevra om nie die ander van Martin te vertel nie en hy gaan dit nie doen nie. “Ek gaan net gou kyk of ek die hek vanaand gesluit het, hoor, Bes. Ek is nou skielik nie seker of ek dit gedoen het nie,” jok hy om nie nou terug te gaan kombuis toe nie, en stap by die deur uit.
“En as Oupa nou hier in die donker staan en pyp rook?” vra Willem skielik hier langs hom, en amper laat hy ‘n tweede keer in ‘n kort tydjie sy pyp uit sy mond val soos hy skrik.
“Willempie! Jy moenie so skielik in die donker hier by ‘n mens praat nie. Eendag is eendag dan slaan ek jou met ‘n ding oor die kop van pure skrik en dan is dit nie my skuld nie, hoor!” Betig hy sy jongste kleinseun.
Willem lag saggies, dan word hy ernstiger. “Oupa, ek wil graag vir Oupa iets vra. Oupa ken haar die langste van ons almal en dalk het sy vir Oupa iets gesê, Het Nonnie ‘n kêrel daar waar sy vandaan kom?”
Oom Robbie is dankbaar vir die donkerte om hulle toe hy antwoord.
“’n Kêrel? Nee, seun, nie wat ek van weet nie. ‘n Vriend het sy wel, ja. Maar hoekom vra jy?”
“Wel, Ma het gister vir my gevra om ‘n nuwe gloeilamp by Nonnie se bedlamp te gaan inskroef. Ek sien toe ‘n foto van ‘n blonde kêrel teen die lamp voor haar bed staan en toe het ek maar net gewonder, dis al.”
Dit moet dieselfde foto wees wat in Nonnie se leesboek gelê het, mymer die ou man.
“O! Nee, ek sal nou nie weet nie, Willempie. Kom ons gaan in huis toe, want die luggie raak nou alte skraal hier buite vir my ou liggaam.”
“Stap, maar, Oupa. Ek kom nou-nou,” antwoord Willem terwyl sy gedagtes nog by die foto is. Hy wonder wat die verstandhouding tussen Nonnie en die blonde kêrel is. Skielik wonder hy ook wat Nonnie op hierdie oomblik maak en of sy die kampeerdery daar in die berge geniet.
Dan frons hy verwonderd. Die eerste maal sedert Gys-hulle vertrek het, ontdek hy dat hy nog nie een keer aan Bonita gedink het nie. Nee, dis dan nou Nonnie wat sy gedagtes vol lê! Ja, hy verlang na haar en nie na Bonita nie!
‘n Opgewonde gevoel borrel in sy binneste. Hy is sowaar ontslae van sy sieklike verliefdheid op die witkop. Is dit liefde wat hy in sy hart teenoor Nonnie voel, of is hy sommer net dankbaar dat haar mooi geaardheid hom so vasgevat het dat hy geleidelik besef het hy het nie regtig vir Bonita lief nie?
Onseker oor sy gevoelens, stap hy nogtans met nuwe veerkrag die kombuis binne waar hy sy moeder voor die wasbak aantref. Hy gee haar ‘n liefdevolle drukkie en glimlag net geheimsinnig toe sy vraend na hom kyk.
“En nou, my kind?” Waaraan het ek hierdie onverwagse lekker drukkie te danke?’ vra sy nogtans.
“Die ou wêreld is sommer net skielik vir my weer mooi, Ma. Wanneer eet ons?” vra hy en Bes verwonder haar aan die sagte glans in haar jongste seun se oë.

Dis met ‘n gevoel van behaaglikheid dat Nonanda die eerste oggend vroeg in die tent wakker word. Sy het heerlik geslaap en skryf dit aan die vars lug rondom haar toe.
Sy sping vinnig uit die bed en trek haastig ‘n langbroek en bloes aan sonder om vir Santa wakker te raas. In ‘n ommesientjie is haar stapskoene aan haar voete, haar gesig gewas, tande geborsel en hare gekam. Sy stap met ‘n ligte tred by die tent uit.
Die vroegoggend se flou sonstrale vertoon glimmend op die dou van die gras. Stadig stap sy tussen die tente deur en verby die eerste paar hoë bome. Nou lê daar ‘n oop stuk grasveld voor haar waarna die boswêreld weer begin.
Meteens daal daar ‘n swerm voëls op die grasveld neer en Nonanda word bewus van ‘n mengsel kras en melodieuse note wat van hulle af kom. Die meeste het ‘n swart gesiggie, rooi koppie en grys ruggie met ‘n helderrooi snaweltjie en beentjies.
“Sjoe, maar julle is pragtig,” fluister sy en die swerm se kwettergeluide veroorsaak dat sy nie die sagte, geamuseerde laggie agter haar hoor nie.
Sy word eers van Gys bewus toe hy ewe gemoedelik langs haar kom staan en sy een hand op haar skouer plaas. Onmiddellik is sy so bewus van sy aanraking dat dit vir haar voel soos ‘n stuk lood wat op haar skouer rus. Bang dat sy die voëls sal verjaar, staan sy maar doodstil.
“Ken jy hierdie voëls, Gys?” vra sy vinnig om so haar verleentheid weg te steek.
Hy kyk met ‘n tergende blik na haar en sêvra: “Ja, en jy?”
“Jy verwag darem seker nie regtig dat ek nou al al die voëlsoorte in die wêreld moet ken nie, of hoê? Onthou, ek het nie in die ornitologie gestudeer nie,” antwoord sy, ‘n ondertoon van ligte verwyt in haar stem.
“Natuurlik nie, Nonnie. Ek trek maar sommer jou been omdat jy so ernstig lyk. Die voël is die rooibekkwelea … of in Engels , die red-billed quelea,” voeg hy vinnig by toe hy sien dat sy skeefweg grinnik toe hy eerste die Afrikaanse naam noem.
Gys kyk skielik na haar. Die skitterglans in haar blou oë terg hom en hy onthou haar weer soos sy gelyk het die dag toe sy in die rivier gaan swem het – sien hy weer haar aanloklike liggaam deur haar dun nagrokkie daardie oggend toe haar kat dood is. ‘n Ligte bewing betrek sy hand en hy verstewig sy greep op haar skouer terwyl die spanning in die res van sy liggaam elke weefsel wil laat tril. Hy plaas sy ander hand op haar ander skouer en trek haar tot teen sy bors sodat haar gesig net sentimeters van syne af verwyder is.
Die lag in Nonanda se oë verdwyn. Die donker dieptes in Gys s’n is onleesbaar, maar tog hipnotiseer die gloed daarin haar. Hy gaan my soen, dink sy bedwelmd en haar lippe sak wagtend weg van mekaar sonder dat sy enige beheer daaroor het.
“Nonnie …” kom sy stem skor, verwonderd oor sy lippe en sy asem is warm teen haar gesig toe hy sy kop nader na hare laat sak. Met sy lliggaam dwing hy hare effens agteroor.
O, hier is julle,” dring Bonita se stem skerp tot hulle deur en Gys laat haar so skielik los dat sy alles in die stryd moet werp om staande te bly.
Vaagweg hoor Nonanda hoe die swerm voëls die lug invlieg.
“Gysie-skat,” pruil Bonita. “Waarom loop jy sonder my van die kamp af weg, h’m?” Sy slaan albei haar arms om sy lyf en druk haar liggaam intiem styf teen syne aan.
“Skaam, verleë en kwaad vir haarself, draai Nonanda haastig om en mompel oor haar skouer dat sy vir Santa met die ontbyt gaan help. Sy wil nie sien hoe Gys se liggaam wat oomblikke gelede polsend teen hare gestaan het, nou so intiem teen Bonita s’n aandruk nie.
Sy wil nou net wegkom en kyk nie een keer om nie. Hoe nader sy aan die kamp kom, hoe stadiger loop sy. Waarom het sy tog toegelaat dat haar emosies so met haar die loop neem? Nou sal Gys regtig dink sy en oom Robbie is kop in een mus, dat sy hier is om hom in haar strikke te probeer vang.
Nee! Sy sal hom op die een of ander manier moet laat verstaan dis nie die geval nie. Dat sy nie op daardie manier in hom belang stel nie, dat hy haar maar net oomblikke gelede verras het. Sy weet net nie hoe nie, want haar liefde vir hom laat haar optree en dink soos iemand wat ‘n hoë koors het. Sy sien en dink dinge wat nie werklik bestaan nie. Gys gee nie vir haar om nie. Hy en Bonita gaan trou en hy wil hom maar net met haar vermaak, dis al. Hoe sal sy dit kan verduur as sy spot in sy oë moet gewaar omdat sy so gewillig, so magteloos in sy arms was.”
“Juffrou Muller, jy kan maar kom eet. Die ontbyt is op die tafel,” singesê Santa skielik vrolik hier naby haar en sy skrik op uit haar kankerende gedagtes.
“Dankie, Santa. En ek wou nog kom help het. Gaan jy, Erik en Tom dan regtig elke keer die kos vir ons maak?” vra sy aan die rooikopmeisie en dwing haar brein om te konsentreer op wat sy sê.
“Ja, Juffrou. Dis ons ooreenkoms met meneer Burger en ons is in elk geval daaraan gewoond, so ons gee glad nie om nie. Ons is maar te dankbaar meneer Burger is gewillig om ons te vergesel. En as Juffrou nie bereid was om saam te kom nie, sou my moeder my baie beslis ook nie laat saamkom het nie,” antwoord die meisie dankbaar. “Sy dink mos ek is nog in die kleuterstadium, al word ek een van die dae al negentien,” voeg sy prettig by.
“Ag, juffrou Olivier kon maar net sowel alleen ook met julle en meneer Burger saamgekom het, Santa. Dit was nie werklik vir my nodig om teenwoordig te wees nie,” antwoord Nonanda en voor haar geestesoog sien sy weer vir Bonita met haar liggaam styf teen Gys aangenestel, en ‘n eindaardige rilling hardloop deur haar hele lyf.
Die rooikop maak liggies keelskoon voordat sy verskonend antwoord: “Ek ken nou nie vir juffrou Olivier nie, maar my moeder het dit baie duidelik gestel dat dit iemand anders moet wees wat saamgaan, nie sy nie. Ek het haar maar nie daarna uitgevra nie, want in daardie stadium het ek nog nie gweet dat sy ook in die groep teenwoordig sal wees nie en Mamsie het nie juis lus gelyk om daaroor te praat nie.”
H’m,” laat Nonanda ingedagte hoor.
“Maar Tom het nou die dag iets aan Erik gesê wat ek toevallig gehoor het. Hy het gesê hy kry meneer Burger jammer indien hy met juffrou Olivier gaan trou, want daar is stories in die omloop oor haar in Lydenburg. En meneer Burger verdien net die beste, en dis nie sy nie. Sy kuier glo sommige naweke by ‘n man daar en dan bly hulle sommer saam in sy woonstel,” vervolg Santa geheimsinnig.
“Dalk is sy familie van hom,” probeer Nonanda ‘n einde aan die gsprek maak.
“Nee, Juffrou. Erik het ook so gesê, maar toe hoor ek Tom sê te veel mense het hulle glo al in die openbaar aan mekaar gesien hang soos net twee verliefdes sal doen. Maar ek skinder nou, en as my ma my nou moet hoor, slag sy my lewend af. My, mamsie is nou nie een vir die skinderstories nie, Juffrou.”
Nonanda stap stil langs Santa terug kamp toe. Sy wonder waarom die meisie se moeder so ‘n vereiste gestel het. Dit kan eintlik net een ding beteken: sy het ook die stories oor Bonita gehoor en daarom vertrou sy die witkop nie om as chaperon vir Santa op te tree nie.
Sou Gys dan nog nie hiervan te hore gekom het nie? Sy is seker hy sal nie met ‘n meisie wil trou wat hom al voor hul huwelik verkul nie. Sy som hom op as die tipe man wat nie sy meisie of vrou met ‘n ander man sal deel nie. Die tipe wat getrou aan sy meisie of vrou sal wees, en ook dieselfde van haar sal verwag. Maar uit haar mond sal hy niks hoor nie, want hy sal tog net dink sy wil Bonita beswadder sodat die pad vir haar, Nonanda, oop is om hom te probeer inpalm.
As sy aan die dierbare oom Robbie dink, kan sy nou nog nie werklik glo hy het haar met daardie doel voor die oë na Voëlparadys toe gebring nie. Nee, sy wil niks met hierdie hele besigheid te doen hê nie. Laat hy maar sy eie heil uitwerk.
Doelbewus dwing sy haar gedagtes in ander rigtings. Hulle spring van oom Robbie na die voëls en dan na tannie Bes, en tot Lange en Kleintjie kom ook aan die beurt. Sy skram egter weg van Martin en dit wat met hom gepaard gaan sodat haar gedagtes uiteindelik maar weer onvergenoeg na haar huidige omgewing se mense terugkeer. En heel bo aan haar gedagtes sit Gys maar weer lewensgroot.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s