Deel sewe van Nonanda se paradys

Standard

‘n Week het verloop sedert die dood van Snuffie en Nonanda ken al heelwat voëlspesies. Nie net dit wat sy saans uit die boeke uit leer nie, maar ook soos wat sy bedags saam met Kleintjie en Lange die hokke besoek. Sy geniet haar werk al hoe meer en die dae vlieg behoorlik verby. Soms wil-wil die angs haar hart pap druk wanneer sy daaraan dink dat sy hierdie veilige vesting weer een van die dae moet verlaat en haar lewe by die losieshuis moet gaan voortsit … en haar besluit aan Martin aan hom meedeel.
Gisteraand het sy haar tweede brief aan Martin geskryf. ‘n Lekker geselsbrief waarin sy hom alles vertel wat tot dusver met haar gebeur het, waarin sy niks vir hom wegsteek van haar doen en late nie. Net oor ‘n moontlike huwelik met hom het sy nie ‘n woord gerep nie.
Willem is vanoggend Lydenburg toe en het sommer die brief saamgeneem om te pos.
Nonanda het weer vanoggend van haar oudste klere aangetrek sodat sy vir Lange in die hokke kan help, want Kleintjie is al weer siek. Sy is bekommer oor hom, want dit blyk dat sy maag in die laaste tyd baie keer ongesteld is.
Dis laat die namiddag toe hulle met die laaste hok klaar is en Nonanda moeg en vuil na haar kantoor toe stap. Gys sit agter haar lessenaar toe sy by die deur instap.
“Wat op dees aarde …!” sê hy fronsend toe hy opkyk en staan dan vinnig op. “Nonnie, hoekom lyk jy so?”
“Hoe lyk ek?” vra sy en gaan moeg op haar stoel sit, vee die natgeswete krulle van haar voorkop af weg en laat ‘n bruin stofstreep agter.
“So vuil en … en gedaan!” antwoord hy onsteld
“Wel, Kleintjie is weer vandag siek en toe het ek maar sy werk gedoen, dis maar al.”
“Al! Hoekom het jy nie vir my kom sê nie? Daar is mos genoeg ander mans wat kon kom help het. Het Lange dan nie vir jou gesê een van die ander kom gewoonlik help as een van hulle siek is nie?” vra hy en sy frons raak onheidspellend.
Sy glimlag skrams, gerustellend. “Ja, hy het, maar ek het gedink dis nie nodig nie, want ek kan dit net so goed doen.”
“Hoeveel keer het jy dit al gedoen aangesien jy sê dat Kleintjie vandag wéér siek is?” vra hy agterdogtig.
“Dis die derde keer. Gys, ek dink jy moet vir Kleintjie dokter toe vat. Ek is bekommerd oor hom, want dis elke keer sy maag wat omgekrap is,” verander sy die gesprek.
“Goed, hy kan môre saam met Willem Lydenburg toe gaan, maar jy doen nie weer een van hulle se werk nie. Dis ‘n man se werk en dis nie nodig dat jy jou so verniel nie. Is dit duidelik?” vra hy, steeds ontevrede.
“Ja, baas, goed, baas,” sê sy en knik sedig.
Hy glimlag effens, krap vinnig haar krulle deurmekaar voor hy haastig omdraai en uitstap. Elke haartjie op haar kop wil orent spring, so tintel haar kopvel van die vlugtige aanraking.
“Ek sal later jou verslag in my kamer skryf en dan vir jou bring, Gys. Ek wil net eers gaan stortbad en gaan eet, hoor,” roep sy agter hom aan.
“Toe maar, ek sal dit by jou kom haal, want daar is iets waaroor ek nog met jou moet gesels,” roep hy terug en dan is hy weg.
“En as julle twee nou so op mekaar skreeu, ou doggie?” vra oom Robbie hier agter haar waar sy besig is om die kantoordeur toe te sluit. “Maak julle rusie?”
Sy lag laggies. “Nee, oom Robbie. Dit was maar sommer agternagedagtes wat ons gewissel het.”
“O! My ou gehoor is ook nie meer so lekker nie,” verduidelik Robbie verleë. “In elk geval, dit moet hulle almal weet, as hulle met jou baklei, sal hulle met my te doen kry. Ek het juis nou die dag vir Bonita daar uit jou kamer geboender. Verbeel jou, sy staan en blaai mos daar in jou boeke rond wanneer jy nie eens daar is nie.”
Nonanda frons, “Wanneer was dit, Oom?”
Oom Robbie knyp sy een oog styf toe soos hy dink, dan verhelder sy ou oë.
“Dit was daardie oggend van dieselfde dag toe die wildekat Bes se eendjies bygedam het. Ek onthou dit nou baie goed.”
“Het sy vir Oom gesê wat sy daar gesoek het?” vra Nonanda en meteens gaan daar vir haar ook ‘n ander lig op. Dan was dit toe Bonita in haar kamer was dat Snuffie by die deur uitgegelip het.
“Wou kamma sien hoe jy dan nou in jou kamer sou leef, maar ek het haar glad nie geglo nie, hoor. Sy is ‘n anderster een, vir haar moet jou oë en ore altyd op wag wees, want alles wat sy doen, doen sy met die oog op haar eie voordeel,” antwoord Robbie grinnikend. “En sy beskou Gys al klaar as haar eiendom, en sy is nog nie eens met hom getroud nie,” voeg hy by.
So, dan gaan die twee tog trou. Nonanda wonder waarom die gedagte so ‘n sinkende gevoel in haar veroorsaak.
Meteens is sy haastig om by haar kamer uit te kom en oom Robbie moet sy treë rek om by te bly. Hy wonder waarom is Nonanda skielik so stil, maar dan kyk hy na haar stofbesmeerde klere en gesig. Sy is seker maar haastig om te gaan was. Eers toe sy haar deur agter haar toemaak, wonder hy verwonderd waarom sy dan nou eintlik so vuil is. Hy stap huis toe, miskien kan Gys lig op die sakie werp.

Nondanda kyk op toe sy die stoepkamer se deur hoor oopgaan. Gys staan lank en fors in die deuropening en sy glimlag verwelkomend toe sy die pen neersit.
“Kom binne, Gys. Ek is nou net klaar met jou verslag.”
“Sluit jy nie snags jou deur nie?” vra hy fronsend. “Dit kon nou net sowel ‘n skelm gewees het wat sommer jou deur oopmaak en instap.”
Nonanda kyk verbaas na hom. Hy klink sowaar asof hy regtig omgee, asof hy bekommerd oor haar welstand is.
“Ja, ek sluit wel die deur snags, maar ek het mos geweet jy kom nog die verslag haal, en daarom is die deur nog oop.”
Hy neem die verslag by haar en gaan op die enigste stoel in die kamer sit. Nonanda maak haar op die bed se voetenent tuis.
“Twee jong kêrels en ‘n meisie het my nou die dag in Lydenburg genader. Hulle moet glo ‘n studiestuk oor voëlwaarneming doen. Hulle wou weet of ek hulle op so ‘n tog sal vergesel. Hulle weet ek onderneem gereeld sulke togte. Die meisie se moeder weier egter dat sy saamgaan tensy daar ‘n volwassene van die Evasgeslag ook saamgaan. Dis nou waar jy my tot hulp kan wees. Sal jy asseblief met ons saamgaan, Nonnie?” vra hy ernstig.
“Waarom vra jy nie vir Bonita om saam te gaan nie? Ek meen, dan is ek mos hier om na jou voëls om te sien, of hoe?”
‘n Donker frons ontsier meteens sy voorkoms en hy kyk deur vernoude ooglede na haar.
“Is dit die enigste rede waarom jy nie met my … ons, wil saamgaan nie?”
“Wel, dis die een rede en die ander is jy en Bonita is sulke goeie vriende, sy sal seker baie bly wees as jy haar saamnooi,” sê sy, en begin ongemaklik voel onder sy deurvorsende blik.
Sy stem is laag toe hy antwoord. “Willem sien altyd na die voëls se belange om wanneer ek op een van my togte vertrek, en wat Bonita betref – ek sou eintlik verkies het dat sy nie saamgaan nie, want sy sal te veel van my tyd in beslag neem sodat ek nie veel vir die studente kan beteken nie.”
Natuurlik! Sy kon dit gedink het. Hy en Bonita sal graag alleenuurtjies daar in die ongerepte natuur wil deurbring. En dit sal maar moeilik wees, want die drie studente sal Gys se verantwoordelikheid wees, mymer Nonanda, en weer is die sinkende gevoel van vroeër in haar binneste.
Sy vermy sy oë toe sy sag antwoord: “Goed, Gys, as jy dit so verkies, ek sal saamgaan.”
“Afgespreek. Ek sal ‘n lys van benodigdhede opstel, en Willem kan dit môre op Lydenburg by Santa afgee. Van ons kant af sal ek alles gereed kry. Jy kan net sorg dat jy ‘n paar goeie stapskoene en gemaklike klere vir jou inpak. Is daar nog iets wat jy wil weet?”
“Gaan ons in tente bly?”
“Ja, jy kan kies of jy saam met die meisie ‘n tent wil deel en of jy jou eie tentjie wil hê. Ek en die twee mans sal ‘n tent deel.”
“Ek gee nie om nie, Gys. As die meisie inskiklik is, sal ek graag haar tent met haar deel.”
“Santa het gesê sy sal nie omgee om ‘n tent te deel met die vrou wat saamkom nie. Jy sal van haar hou, sy is ‘n oulike meisie.”
“Dit … dit sal lekker wees, dankie, Gys.”
“Nou maar dan sê ek eers nag,” sê hy, staan op en stap deur se kant toe.
“Nag, Gys.”
Sy sluit die deur agter hom toe, trek haar nagklere aan en klim in die bed. ‘n Lang ruk lê sy met oop oë in die donkerte en staar. Dis die eerste keer dat Gys haar in soveel woorde laat verstaan dat Bonita oor die mag beskik om sy aandag so in beslag te neem dat hy van sy verpligtinge sal vergeet. En tog moes sy dit geweet het aangesien Bonita haar tog al vertel het sy en Gys gaan eendag trou.
Nonanda rol om op haar ander sy en konsentreer hard om aan ander dinge te dink, maar sy vind dit onmoontlik, want Gys se paar swart oë blokkeer al haar gedagtes. Daardie donker blik van hom wil iets uit haar trek wat al lank binne haar lê en sluimer.
Meteens vlieg sy orent in die bed, haar hande omskulp haar wange wat vurig begin gloei en sy gooi haar kop agteroor terwyl sy haar oë styf toeknyp. Stadig sak haar hande teen haar wange af, gly teen haar slanke nek af en kom bewend op haar bors tot rus waar sy die wilde tamboerslae van haar hart kan voel.
“Ek het hom lief! Hy is die man op wie my hunkerende hart al so lank wag . O, Gys!” fluister sy hartstogtelik in die donker kamer.
Sy vang haar onderlip hard met haar tande vas en weer eens fluister sy aan die donker vertrek: “Wat nou, ouma Emmie? Wat nou? Ek kan nie hierdie liefde in my hart openbaar maak nie, want dis uit die staanspoor gedoem omdat daar reeds iemand anders in sy lewe is. Ek het gevlug van die man wat my liefhet en nou sal ek weer moet vlug van die man vir wie ek lief geword het. Hoe ironies kan die lewe tog nie wees nie.”

Dit was ‘n slapelose nag vir Nonanda, en toe sy die volgende oggend die kombuis binnestap, laat die reuk van die spek en eiers haar maag op ‘n knop trek sodat sy net ‘n glas lemoensap drink.
Bes se oë gaan bekommerd oor haar.
“Jy lyk olik, Nonnie. Wat makeer?”
Nonanda ontwyk haar oë. “Ek het maar net nie goed geslaap nie, dis al, tannie Bes.”
“Ek hoor by Gys jy gaan saam met hom en die drie studente op ‘n waarnemingstog?” sêvra Bes terwyl sy ondersoekend na die meisie hier voor haar kyk. Iets is verkeerd, dis maar te duidelik, maar as Nonanda nie self daaroor wil praat nie, kan sy haar nie dwing nie.
“Ja, Tannie, hy het my gevra. Ek stap nou maar eers na die hokke toe, tannie Bes, want ek sien Kleintjie en Lange wag al vir my,” antwoord Nonanda, haastig om onder die moederlike vrou se ondersoekende blik uit te kom.
Net toe Nonanda haar kantoordeur oopsluit, sluit Gys by haar aan en terselfdertyd hoor sy perdepote naderkom. Toe sy Bonita van haar perd sien afspring en nadergestap kom, priem Gys se enkele eenvoudige woorde van gisteraand weer deur haar, en ‘n ligte bewing pak haar hande beet.
“Môresê!” groet Bonita en slaan haar arm besitlik om Gys se middel. “Julle mense is vroeg aan die gang.”
“Môre, Witkop. En wat bring jou so vroeg na Voëlparadys? Het jy nie werk daar op jou plek nie?” vra Gys, draai uit haar omarming, en staan ‘n tree nader aan die eerste voëlhok en vroetel aan die draad asof hy iets daar ondersoek.
“Môre, Bonita,” groet Nonanda en wonder waarom Gys skielik so ongemaklik lyk. Is dit omdat Bonita voor haar, Nonanda, so opsigtelik wys hy behoort aan haar?
“Ag, ek het sommer na jou verlang, Gysie-skat,” sê Bonita heserig. “Buitendien, Dieter is mos daar om dinge glad te laat verloop. Ek het so lank terug die kortpad oor die bruggie gery en toe ek sien hoe ‘n lieflike dag dis, besluit ek vanoggend is die oggend.”
“Witkop, daardie bruggie is nie meer veilig nie. Ek sal jou aanraai om liewer nie weer daarlangs te ry nie, hoor,” sê Gys vermanend, maar vir Nondanda klink dit soos besorgdheid oor sy geliefde se veiligheid.
Sy oë ontmoet dié van Nonanda en skielik voel sy desperaat om iets te doen of te sê net om hierdie oomblik te laat verbygaan – hierdie oomblik waarin sy terdeë besef sy onmoontlik alleen saam met hierdie man en drie studente die berge sal kan ingaan.
“Ek het Gys gisteraand probeer oorreed om jou ook saam te nooi wanneer ons oor twee dae op ‘n voëlwaarnemingstog moet gaan, Bonita. Jy sal tog seker graag wil saamgaan, of hoe?” borrel die woorde oor haar lippe.
Nonanda sien hoe Gys frons, maar sy kyk stip na Bonita wat verbaas en aangenaam verras lyk met hierdie mededeling.
“Dis baie gaaf van jou, Nonnie,” sê Bonita en draai met ‘n stralende gesig na Gys toe. “Ek sal werklik graag wil saamgaan, Gys. Mag ek maar … asseblief?”
Die wind is momenteel uit Gys se seile geneem. Hy het gedink Nonnie verstaan waarom hy nie vir Bonita wil saamneem nie. Wat op dees aarde het haar besiel om te doen wat sy so pas gedoen het. Die blote gedagte aan Bonita saam op ‘n waarnemingstog is genoeg om hom die herrie in te maak. Sy is nie lief om te kampeer nie; sy hou nie van stap nie, sy sal nie weet wanneer om stil te bly nie, en sy sal ontevrede wees as hy nie sy aandag net aan haar kan bestee nie. Wat natuurlik onmonntlik sal wees, besef hy misnoeg.
‘n Wrang glimlaggie plooi om sy mondhoeke terwyl hy met sy vingers sy donker hare deurmekaar kam. Hy weet hy het nie nou juis ‘n keuse nie. Hy kyk op, vas in Nonanda se ietwat verskrikte oë.
“Goed, witkop, jy kan maar saamgaan,” sê hy en skreef sy oë peinsend toe hy die openlike verligting op Nonda se gesig waarneem. Hy verstaan glad nie wat op dees aarde hier aan die gang is nie.
Bonita gryp hom om die nek en plant ‘n soen vol op sy mond voor hy weet wat aan die gebeur is. Onwillekeurig vee hy hard met sy hand oor sy lippe toe niemand na hom kyk nie.
“O, dankie, dankie, Gysie-skat. Wanneer, waarheen en wie gaan almal? “ rammel Bonita die vrae opgewonde af.
“Oormôre, Drakensberg toe. Ek, Nonanda, jy en twee jong mans en ‘n meisie. Beantwoord dit jou drie vrae?”
“En van wanneer af stel jy in ‘n kampeerdery en voëlkykery belang, Witkop? Jy was mos nog nooit een vir sulke soort dinge nie, of hoe het ek dit dan nou?” vra Willem skielik hier agter hulle.
“Ag, ek kan maar net sowel nou al begin om te leer hoe dit nou eintlik gedoen moet word,” antwoord sy skalks en rol haar oë veelseggend toe sy onderlangs na Gys loer, en Willem se hart gee ‘n woeste skop in sy borskas.
Sou sy daarmee bedoel sy em Gys gaan trou, dat jy haar reeds die groot vraag gevra het, wonder hy onsamehaggend.
Gys hoor egter skaars wat sy sê, want sy blik is steeds op Nonanda se gespanne gesig gerig, en sy donker oë is broeiend en vol onbeantwoorde vrae. Sy ontwyk sy oë en ‘n verbete trek kom om sy mond lê. As sy darem dink sy kan dit op hierdie manier bewerkstellig om nie meer saam op die tog te gaan nie, moet sy weer dink.
“Ma het vars botterbroodjies en koffie in die kombuis gereed as julle nou dadelik kom,” sê Willem stil en draai om sonder om te kyk wie kom en wie nie.
“Sê dankie aan ma Bes, maar ek vetrek nou weer, hoor. Ek het gans en al te veel dinge wat in gereedheid gebring moet word voor oormôre,” roep Bonita agter hom aan. Sy groet, klim op haar perd, waai vrolik na hulle en kap die perd in sy lieste sodat hy met donderende hoefslae van hulle af wegspring.
Nonanda is te bang om te roer. Sy wag vir die bom om te bars, want sy weet Gys is geensins tevrede met wat so pas hier gebeur het nie. Sy het hom sydelings dopgehou en sy gesig is ‘n masker van ontevredenheid wat dreig om te kraak. Sy hou haar asem op en wag vir sy eerste woorde om haar ore te bereik. Haar gedagtes woer-woer soos sy soek na allerhande verduidelikings en verskonings vir haar optrede, maar niks wil werklik koers kry nie, sy is hopeloos te senuagtig.
Eers toe Bonita en haar perd in die verte klein word, praat Gys weer.
“Nonnie, ek wil nie weet wat jou rede vir hierdie optrede is nie, maar jy hoef nie te dink omdat jy Bonita nou by hierdie tog betrek het jy nie nou meer hoef saam te gaan nie. Jy het gisteraand belowe jy gaan saam, en so bly dit.”
Sy oë pen haar vas en Nonanda krimp innerlik ineen toe sy die koue, vasberade glinstering in sy donker oë gewaar. Hy is kwaad vir haar, smoorkwaad. Sy wil probeer verduidelik sonder om haar werklike rede te verskaf, maar voordat sy van die stywe band om haar keel kan ontslae raak, draai hy om en stap met driftige hale weg na die broeihokke toe.
Sy staar stom na sy rug en opnuut besef sy hoe innig haar liefde vir hierdie man in die kort tydjie geword het.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s