Deel ses van Nonanda se paradys

Standard

Maandagoggend maak Bonita eers seker dat almal op Voëlparadys reeds met hulle dagtake besig is voor sy stil die werf met haar perd binnery. So onopsigtelik moontliik maak sy die perd aan die naaste boom vas en sluip dan styf teen die muur langs tot op die stoep. Die stoepkamer se deur trek haar soos ‘n magneet. Vinnig loer sy om haar rond, draai die deurknip en glip na binne. Sy skrik haar boeglam toe Snuffie blaas en soos ‘n pyl uit ‘n boog by haar verby flits – by die deur uit.
Sy steur haar nie verder aan die kat nie en stelselmatig begin sy kaste en laaie oopmaak op soek na iets wat vir haar meer van Nonanda kan vertel. Sy vertrou glad nie die vrede met die meisiemens hier so naby aan Gys nie. Toe sy gister hierheen gebel het, het tannie Bes vir haar gesê dat hy na die rivier toe is waar Nonanda die dag gaan deurbring het. Die gedagte aan hul samesyn daar so eenkant en afgesonder in die natuur is genoeg om haar die horries te laat kry, dink sy nou weer opnuut en gooi die laaste laai driftig toe toe sy niks vind nie.
Gefrustreerd staan sy met haar hande op haar heupe om haar en rondkyk. Haar oë val op die twee boeke wat oor voëls handel en daarnaas ‘n dik boek met ‘n blou omslag. Nuuskierig tel sy dit op en sien dat dit ‘n omnibus is wat drie romans bevat. Sy blaai in die boek rond om te sien van watter soort leesstof die vroumens hou en voor haar verbaasde oë val daar ‘n foto uit die boek. Sy sit die boek haastig neer en tel die foto op.
Sy kyk vas in die blou oë van ‘n aantreklike, laggende blondekopman. Bonita draai die foto om, maar daar staan niks agterop geskryf nie. Die foto moet darem seker belangrik vir Nonanda wees, waarom anders lê dit in haar leesboek?
“Wat dink jy miskien soek jy nou eintlik in Nonnie se kamer, Witkop?”
Bonita skrik en momenteel is die verleentheid duidelik op haar gesig te lees. Heel gou maak dit egter plek vir ‘n masker van dikvelligheid wat sy goed kan hanteer. Sy kyk oom Robbie uitdagend aan.
“Wel, haar deur het oopgestaan en ek was maar net nuuskierig om te sien hoe die ou vaal muisie van die Kaap nou eintlik leef,” antwoord sy koel.
“Vaal muisie se voet!” brom die oubaas vies. “Sy hoef haar ten minste nie so met smeersels te beplak soos wat jy moet doen om darem na iets te lyk nie, Witkop. En haar deur het g’n oopgestaan nie.”
Bonita snak verontwaardig na haar asem. So ‘n onbeskofte ou man! Wie dink hy altemit is hy om so met haar te praat? Haastig druk sy die foto in die boek terug en stap dan met swaaiende heupe na die deur waar sy by die ou man verbyskuur.
“Nee, ek gee liewer pad voordat ek my gruwelik vererg. Om darem so beledig te word … Dit grens aan onopgevoedheid,” spuug sy die woorde bitsig uit.
“Jy is ‘n mooi een om van onopgevoedheid te praat,” brom oom Robbie terwyl hy drifting aan sy pyp suig. “’n Opgevoede mens loop en snuffel nie in ‘n ander mens se kamer rond nie.”
Bonita slinger hom ‘n word toe wat vir hom baie na ‘n vloekwoord klink en drafstap dan na haar perd.
Oom Robbie draai om en sy oë is gevestig op die stuk van die foto wat by die boek uitsteek. Hy stap nader en sonder om die foto uit te haal, druk hy dit net weer heeltemal tot tussen die bladsye in. Die deeltjie wat uitgesteek het – die boonste deel van ‘n blondekopman – bly voor sy geestesoog toe hy die deur weer agter hom toemaak. Hy frons liggies toe hy wonder of dit dalk ‘n foto van die Martin is van wie Nonanda hom vertel het. Indien wel, beteken die mannetjie dalk meer vir Nonanda as wat sy aan haarself wil erken, want waarom dra sy dan ‘n foto in haar leesboek rond?
“Stadig, nou, meisiekind,” sê Willem laggend toe Bonita hom amper onderstebo loop in haar haas na haar perd toe. Hy gryp haar aan die skouers om te keer dat sy struikel en gaan lustig voort met terg: “H’m, dit voel lekker om jou so naby aan my te hê. Jy sal mos maak dat ek wens jy moet elke dag so in my vasloop.”
Vererg skud Bonita sy hande van haar af. “Ag, moenie vir jou staan en simpel hou nie, Willem,” sê sy snedig.
‘n Kort oomblik lank steek haar woorde soos naalde in sy hart, maar dan oorwin sy teenwoordigheid van gees weer. Geen oomblik gaan hy haar laat agterkom haar onverskilligheid jeens hom maak hom ontsettend seer nie.
“Sjoe! Wie het jou só kwaad gemaak?” vra hy en rek sy oë kamma baie verskrik en stof sy hande met ‘n groot gebaar aan sy klere af.
“Daardie … daardie sotlike ou man wat dink hy kan vir ‘n mens sê net wat hy wil,” blaas sy venynig stoom af. Hy is die eerste een wat hier sal moet padgee wanneer ek en Gys eers getroud is, voeg sy in haar onstuimige gedagtes by.
“Hokaai, Bonita. Praat jy nou miskien van oupa?”
“Natuurlik, wie anders? By die seniele ou man is dit deesdae mos net Nonnie voor en Nonnie agter. ‘n Mens kan nie iets van haar sê nie, of die ou siel wil in jou keel afklim. Kompleet asof sy hom die een of ander soort doepa ingegee het.”
“Ag, Bonita, ek dink jy is nou sommer onnodig op jou perdjie. Oupa is nog lank nie senile nie, hoor. Kom ons gaan soek ‘n biejtie tee in die kombuis,” probeer Willem van die onderwerp ontslae raak, want dis vir hom duidelik sy gaan hom nie vertel wat gebeur het nie.
“Nee, ek gaan liewer huis toe,” kom haar kortaf antwoord en die onstuimigheid lê nog helder in haar groen oë toe sy vinnig op haar perd se rug klim en sonder om te groet, wegjaag.
Willem kyk haar peinsend agterna en kan nie help om effens mismoedig te voel nie. Hy het so pas maar weer besef dat Bonita hom nie beskou as ‘n volwasse mens wat ook gevoelens het nie; nee, sy sien hom eerder as ‘n laspos wat haar irriteer.

Willem loer om die deur na Nonanda waar sy by die lessenaar sit en skryf.
“Mag ek maar binnekom?”
“Natuurlik!” roep sy verbaas uit. “Dis tog immers julle plaas en kantoor. Ek werk maar net hier, jong.”
“Ja, maar ek wil jou nie pla wanneer jy werk nie. Is jy amper klaar met jou dagtake?”
“Ek is so op die hond se stert. Sit so ‘n rukkie, dan maak ek gou klaar. Of is jy om die een of ander rede hier wat nie kan wag nie?”
Haar gesig lyk meteens so komies verskonend dat Willem hardop uitbars van die lag.
“Nee, nee, dis niks so erg nie, Nonnie. Gaan gerus voort. Toe, moenie so bekommerd lyk nie. Daar is regtig niks verkeerd nie. Ek het sommer net hier verbygestap en wou sien hoe jy agter ‘n lessenaar lyk,” korswel hy.
Sy glimlag verleë en daar is ‘n ligte blos op haar wange toe sy weer haar kop oor die verslag laat sak en begin skryf.
Willem kyk berekenend na haar. Waarom kon hy nie maar op iemand soos Nondanda verlief geraak het nie? Sy is so ‘n maklike mensie om mee oor die weg te kom, so ongekompliseerd en nog pragtig ook. Nee, nou moet dit juis die wilde witkop wees wat sy hart op loop jaag.
“So ja, ek’s klaar. Nou kan jy maar gesels of ons kan maar stap, net soos jy wil.” sê Nonanda terwyl sy die goedjies op die lessenaar netjies regskuif.
“Eintlik het ek gewonder of jy nie dalk lus het om saam met my in die rivier te gaan swem nie. Dis so warm en die koel rivierwater lyk regtig baie aanloklik. Toe, wat sê jy?” vra hy toe hy die aarseling op haar gesig sien.
“Nee, sy kan nie!” klink Gys se stem kortaf hier agter hulle op.
“O? En waarom nogal nie, Gys?” wil Willem met opgetrekte wenkbroue weet.
Gys antwoord hom nie, maar stap met afgemete treë tot voor die lessenaar. Sy donker oë boor op Nonanda in.
“Jy moet ‘n plan gaan maak met daardie kat van jou! Nou dadelik! Hy het drie van Ma se klein eendjies doodgebyt en een is halfpad opgevreet! Ek wil hom nie naby my voëls sien nie,” sê hy ysig.
Nonanda se hart gee ‘n ruk.
“Nooit, ek sal dit nooit glo nie. Snuffie sal nie so iets doen nie. Ek het nog Sondag gesien hoedat die eendjies vlak voor sy neus verbystap en hy niks aan hulle gedoen het nie.” antwoord sy driftig.
“Wel, kan jy dit dan verklaar waarom hy voor jou kamerdeur lê met bloed en wit vere wat oral aan sy lyf vassit?” vra Gys koud.
‘n Oomblik lank hang Nonanda se mond verdwaas oop, dan hadloop sy by die deur uit sonder om hom te antwoord. Eers toe sy voor haar kamerdeur te staan kom en vir Snuffie daar sien lê, kom sy tot stilstand en staar met wydgerekte oë na haar kat.
Sy kniel by die kat. Onmiddellik herken sy die wit veertjies as dié van die klein eendjies. Snuffie kyk na haar en daar is smeking in sy oë. Sy asemhaling is vlak en vinnig en hy wend geen poging aan om op te staan en teen haar te kom skuur soos sy gewoonte is nie. Iewers is iets fout, besef sy dadelik.
“Wat het dan gebeur, ounooi se kat? Ounooi weet mos dat jy nie ‘n ou klein eendjie sa lopvreet nie, so wat het gebeur? En hoe kom jy buite? Ek het jou tog in my kamer gelos en die deur toegetrek.” Sy gaan plat op die grond sit en tel hom op haar skoot. Hy gee ‘n sagte, hees miaau en Nonanda besef onmiddellik dat hy iewers seer het. Sy onthou nog daardie keer toe die seun hom met sy fiets raak gery het, toe het jy net so geskree.
Saggies druk-druk sy met haar vingers oor sy hele lyf en toe sy teen sy regtersy druk, miaau hy weer. Sy skrik toe sy die vars bloed aan haar hand gewaar. Sy ondersoek die plek en sien dan waar sy vel lelik stukkend is. Sy frons verward.
Kan dit die groot eend se werk wees? Tog kan sy nie glo dat ‘n eend se bek ‘n kat se vel so kan verniel nie.
Nonanda sug liggies en daar is ‘n tikkie verwildering in haar mooi oë. Dis asof daar iewers in die huidige beloop van hierdie omstandighede ‘n wanklank is. Al die bewyse is daar dat Snuffie die eendjies gevang het en tog weier haar hele wese om dit te glo.
“Nonnie …?” vra Willem sag hier langs haar.
“Ek kan dit nie glo nie, Willem. Dis nie in Snuffie se aard om so iets te doen nie. En tog, kyk hoe lyk hy, die ene vere en bloed,” sê sy en voel dan hoe die warm trane in haar oë opdam.
“Toe maar, meisie,” troos Willem en vryf sag oor haar kop. “Hou maar vir Snuffie in die toekoms in jou kamer en laat hom net uitkom wanneer jy gaan stap sodat hy dan gedurig onder jou oë is.”
“Dis juis die punt, Willem! Hy was in my kamer toegemaak. Is … is jou ma nie baie kwaad oor die eendjies nie?” vra sy huiwerig en vee die trane met die rugkant van haar hand uit haar oë.
“Dis mos nie jou skuld nie, kind,” praat Bes hier agter haar. “Volgens jou het die kat nog nooit so iets gedoen nie en jy het geglo dat hy dit ook nie sal doen nie. Ek is egter bevrees as jy hom behou, moet jy hom maar van nou af toegesluit hou, Nonnie”
Nonanda staan stadig op en hou vir Snuffie beskermend teen haar vas toe hy weer klaend miaau.
“Ja, tannie Bes. Ek sal hom in my kamer hou. Hy is aan sy sandbak gewoond en sal nie daar oral mors nie. Ek het hom in elk geval nog nooit sonder my op die plaas laat rondloop nie. Ek kan glad nie verstaan hoe hy uit my kamer kon uitkom nie. Die venster is ook toe. In elk geval, ek … ek wil hom graag hou, want my ouma het hom vir my gegee,” sê sy sag en stap dan sonder ‘n verdere word by haar kamerdeur in en maak die deur agter haar toe.
Bes en Willem kyk stil na mekaar. Oupa Robbie het vir hulle van Nonanda se ouma vertel, dus verstaan hulle waarom Snuffie vir haar so kosbaar is. Dis vir haar die enigste skakel wat sy nog oor het van die dierbare mens wat die naaste aan haar was.
In haar kamer ontsmet Nonanda die stukkende plek teen Snuffie se lyf so goed soos wat sy kan, maar hy wil nie eintlik toelaat dat sy daar werk nie. Sy weet hy het baie seerder gekry as wat dit op die oog af lyk. Hy wil ook glad nie sy kos eet nie en bly lê net so op sy kussing nadat Nonanda hom daar neergesit het. Sy besluit om hom vroeg die volgende oggend na ‘n veearts op Lydenburg te neem.
Sy stortbad eers en gaan haal dan die verslag in haar kantoor wat sy vroeër in haar haas daar vergeet het. Nadat sy dit op Gys se lessenaar neergesit het, stap sy kombuis toe waar sy net vir tannie Bes aantref.
“Tannie Bes, ek is nie honger vanaand nie. Moeni evir my ‘n plek aan die tafel dek nie, hoor.”
“Maar, kind, jy kan mos nie sonder kos gaan slaap nie. Ek weet jy is ontsteld oor wat gebeur het, maar jy moet eet,” sê Bes sag.
Opnuut spring haar oë vol trane toe sy die simpatieke stem van die moederlike vrou hoor. Sy skud dus net haar kop en byt haar onderlip styf vas om die bewing daarvan te probeer beheer terwyl sy vir haar net ‘n glas melk neem en sonder ‘n verdere word na haar kamer toe wegstap.
Daar tref sy vir Snuffie nog net so roerloos in dieselfe posisie in sy mandjie aan. Sy vryf teer oor sy kop en voel magteloos toe hy hierdie keer saggies miaau sonder om eens na haar te kyk.

Toe Bes later aan die ander verduidelik dat Nonanda te ontsteld is om tee et, klink oom Robbie simpatiek met sy tong. Willem knik dat hy verstaan, maar Gys kyk nie eens van sy bord af op nie. Net op sy voorkop verskyn ‘n yslike frons.
Toe Gys egter later die aand uit sy studeerkamer na sy kamer stap, sien hy deur die venster dat Nonanda se kamerlig nog brand en ‘n oomblik lank oorweeg hy dit om na haar te gaan en om verskoning te vra omdat hy so kras met haar was. Met sy hand reeds op die voordeur se knop, skud hy sy kop heftig, draai in sy spore om en stap na sy kamer .
Toe Nonanda die volgende oggend wakker word na ‘n baie rustelose nag, onhou sy dadelik wat die vorige aand gebeur het. Sy spring vinnig van die bed af en stap na Snuffie se mandjie toe. Sy kniel by hom en nog voordat sy haar hand na hom toe uitsteek, weet sy al dat hy dood is. Toe haar hand aan sy koue, stywe lyfie raak, sak daar ‘n eensame verlatenheid oor haar toe. Trane loop haar oë vol en laat blinknat spore op haar wange agter toe sy haar hande terug op haar skoot laat val.
Sy huil nie net omdat haar diebare kat dood is nie, sy huil sommer omdat sy na haar ouma verlang en omdat haar en Martin se verhouding van gemoedelike kameraadskap aan flarde geskeur is toe hy haar gevra het om met hom te trou.
Al haar opgekropte hartseer en spanning van die afgelope tyd word nou met die dood van haar geliefde Snuffie na vore gebring. So asof haar liggaam net gewag het vir iets om te gebeur om te kan skietgee.
Dis eers toe daar ‘n sagte klp aan haar deur is dat sy na die werklikheid terugkeer. Sy dwing die snikke terug in haar keel, byt haar onderlip hard vas en droog haar trane af voordat sy opstaan om die deur oop te sluit.
Nonnie …” begin Gys, maar toe hy na haar verwese gesiggie en rooigehuilde oë kyk, laat sy stem hom in die steek en hy kyk net stom met vernoude oë na haar.
Hy sien alles raak, die verbouereerde spiertrekkie om haar jong, vol mond, die ligte bewing van haar hande en die roep na vertroosting in haar mooi oë. Maar dis nie al wat hy sien nie. Hy sien ook die aanloklike, koperbruin vel by haar hals en arms, die kloppende kuiltjie in haar nek en die vroulike kurwes wat duidelik deur die wasige nagrok sigbaar is.
Gys trek sy asem stadig in, tree vinnig vorendtoe en trek haar teen sy bors vas. Hy voel die bewing in haar polsende liggaam teen hom, die sysagtheid van haar warm liggaam onder sy hande, en dit maak dit vir hom amper onmoontlik om langer ‘n ysterhand op sy selfbeheersing te hou. Hy verberg sy gesig met ‘n kreun in haar hare waar sy lippe bewend roer.
“Snuffie is … is dood, Gys, en … en ek is seker daarvan dat dit nie hy was wat die eendjies gevang het nie …” kom haar stem fyn rukkerig hier onder sy ken uit, en hy knyp sy oë vir ‘n oomblik lank styf toe om weer beheer oor sy sinne te verkry. Amper het hy om selfsugtige redes van haar weerloosheid en hartseer toestand misbruik gemaak. Hy is seker daarvan dat sy oneindig geskok sou wees en hy … hy sou homself nooit daarvooor kon vergewe het nie.
“Ek weet, Nonnie, en ek is so jammer oor jou kat. Dis juis wat ek nou vir jou wou kom sê het: Lange het alles gesien gebeur. Hy het my so pas daarvan vertel. Dit was’n wildekat wat die eendtjies gevang het. Hy sê die wildekat was juis besig om aan die een eendjie te vreet, toe val Snuffie hom aan. Lange storm toe nader om te help, en toe die wildekat vir Lange sien, het hy die hasepad gekies en Snuffie het sleepvoet na jou kamer toe teruggestap. Ek … ek is jammer ek was gister so onredelik en het nie na jou geluister nie. Ek was egter oortuig daarvan dit was Snuffie se werk,” verduidelik Gys sag en voel hoe die bewing in haar liggaam geleidelik onder sy strelende aanraking op haar rug bedaar.
“Dankie, Gys, dat jy vir my kom sê het. Nou voel ek beter, want nou weet ek dat my dierbare ou Snuffie maar net wou help,” fluister sy en beur dan selfbewus uit sy arms uit toe die besef eindelik tot haar deurdring dat sy net in haar dun nagrok voor hom geklee staan.
Haastig pluk sy haar japon aan ek kyk verskonend na hom, maar hy glimlag gerusstellend, sy gevoelens weer onder beheer. Hy sien die dankbaarheid in haar oë, maar ook die hartseer wat veel dieper strek as oor die dood van ‘n kat wat vir haar dierbaar was. Dit laat hom van nuuts af oor haar wonder.
“Wil jy hê ek moet hom vir jou begrawe?” vra Gys versigtig toe hy sien haar blik dwal na Snuffie.
“Sal jy? Ek … ek sal dit baie waardeer, dankie, Gys. Ek wil nie by wees om te sien nie, maar jy kan later vir my wys waar sy graffie is wanneer jy hom klaar begrawe het, asseblief.”
“Ek verstaan,” sê hy begrypend en lê ‘n stonde lank sy hand op haar skouer voordat hy die kat met die mandjie en al optel en daarmee by die deur uitstap.
Nog ‘n oomblik lank staan Nonanda doodstil, asof die werklikheid van wat gebeur het haar nie wil laat los nie. Sy stortbad, trek skoon klere aan, knap haar gesig liggies met grimering op en is net gereed om kombuis toe te stap om te gaan koffie drink, toe staan Gys weer in haar deur met die leë mandjie in sy hande. Hy kyk verskonend na haar.
“Ek het nie gevra of jy mandjie wil terughê nie,” sê hy en trek sy skouers in ‘n onseker gebaar op.
Snaaks, maar op hierdie oomblik lyk hy vir haar na ‘n jong skoolseun wat nie weet hoe om ‘n delikate situasie te hanteer nie.
“Ja, dankie, Gys. Ek sal die mandjie hou. Ouma het dit saam met die klein katjie vir my gegee. Miskien, wie weet, eendag wanneer Snuffie nie meer so vars in my geheue is nie, kry ek dalk weer ‘n ou klein katjie om sy plekkie in die mandjie te vul,” antwoord sy afgetrokke met haar oë op die leë mandjie gerig.
“Kom ek gaan wys jou waar die graffie is voordat ons gaan koffie drink,” bied hy aan.
Stil stap Nonanda langs Gys en dis met dankbaarheid dat sy die gemeensaamheid kan aanvoel wat in hierdie oggend tussen hulle ontstaan het. Dis darem eiendaardig dat hartseer dinge soms eers moet plaasvind voordat sommige mense mekaar beter verstaan en behandel, dink sy ingedagte.
Hy kom tot stilstand en Nonanda sien die vars hopie grond tussen die roosbome. Rondom die hopie is wit rivierklippies in twee rytjies gepak en bo-op die hopie lê ‘n paar klein, geel rosies.
Sy kyk op in sy oë en ‘n warm gevoel omvou haar hart toe sy die verleë trek om sy mondhoeke gewaar.
“Baie dankie, Gys. Dit was dierbaar van jou, hoor,” sê sy sag en draai summier om en stap terug, maar nie gou genoeg nie, want hy het die blinkigheid reeds weer in haar oë gewaar.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s