Deel vyf van Nonanda se paradys

Standard

So ver as wat hulle kan teen die hokke langs stap, is dit Gys wat verduidelik en Nonanda wat aandagtig luister. Namate hulle van hok tot hok vorder, verander die norsheid in sy stem geleidelik na een vol geesdrif en Nonanda kan sien die voëls hom Lê baie na aan die hart.
Heel laaste besoek hulle die hokke waar die broeipare aangehou word. By sommige hokke is dit geheel en al ‘n aardigheid om te sien met hoeveel ywer die voëltjies nes bou. Hier en daar sit kleintjies met yl veertjies en oop bekkies en soebat by hul ma of pa vir kos.
Direk daarnaas is ‘n ruim kantoor waarheen hy haar ten laaste neem.
“Jy sal al jou skryfwerk hier doen wanneer die dagtake afgehandel is. Kleintjie en Lange sal jou by die hokke behulpsaam wees.”
“Kleintjie en Lange?” vra sy nuuskierig.
“Ja. Dis die twee werkers wat al baie lank hier by die hokke werk. Hulle sal jou baie kan help, want hulle ken die werk. En, Nonnie, jy hoef ook nie huiwerig te wees om vir hulle iets te vra nie, want hulle is fluks en behulpsaam.”
“Waar kom hulle aan die name?” vra sy steeds nuuskierig en kyk na hom met haar kop skeef gekantel.
‘n Fyn glimlaggie pluk aan sy mondhoeke toe hy haar antwoord.
“Wanneer jy hulle sien, sal jy weet, want Kleintjie is so ‘n ou kortetjie en Lange is werklik baie lank. Dis natuurlik nie hul doopname nie, maar hulle staan so onder die ander werkers bekend en nou noem ons hulle ook so.”
“En hulle gee nie om nie?”
“Inteendeel. Kleintjie spog daarmee dat hy maklik by moeilik bereikbare klein en nou plekkies kan inkruip wanneer hulle by die hokke werk, terwyl ou Lange weer oral by die hoë plekke kan bykom waar Kleintjie nie kan nie,” verduidelik hy en verander dan die trant van hul gesprek. “Dink jy jy sal jou pligte kan baasraak?”
Sy kyk hom ‘n rukkie lank peinsend aan terwyl sy wonder waarom sy gemoedlike bui van so effe nou skielik verdamp het. Sy antwoord met neergeslane ooglede toe sy oë nie ‘n aks voor hare wyk nie.
“Jy hoef nie bekommerd te wees nie, Gys. Ek sal nie laat slap lê nie. Ek is gewoond daaraan om te werk en die ou dingetjies wat vir my vreemd is, sal ek gou on die knie kry.”
Skielikg voel sy weer skuldig omdat sy en oom Robbie dit vir almal wegsteek dat sy die pos net vir twee maande lank sal vul.
“Om ons almal se onthalwe hoop ek so, Nonnie” antwoord hy stil.
“Jou onthalwe ook?” vra sy ‘n bietjie skepties.
“Ek hét gesê almal, het ek nie?” mompel hy en begin huis se kant to stap. “Kom, die ontbyt sal al gereed wees, Nonanda.”
Teleurstelling spoel deur haar toe sy hoor dat die gemoedelike “Nonnie” nou weer “Nonanda” geword het. Maar sy gelaatstrekke is onleesbaar en hulle stap in stilte aan huis toe.

Die dae wat volg, is nooit vir Nonanda dieselfde nie. Haar pligte voer sy so noukeurig moontlik uit. Kleintjie en Lange is baie behulpsaam en sy kom gou agter hulle weet presies wat word wanneer en waar gedoen. Daaroor is sy baie dankbaar, want dit beteken sy het so min moontik nodig om vir Gys oor iets te gaan raadpleeg. Sy sorg dat haar daaglikse verslag gereeld saans op sy lessenaar lê, en tot dusver was daar nog geen klagtes van sy kant af nie.
Haar dae is dus vol en bedrywig, maar tog is daar tye dat Martin haar gedagtes in beslag neem en sy kom maar weer opnuut tot die besef sy is nog niks nader aan ‘n oplossing nie. Sy verlang na hom, maar dis nie die sort verlange wat haar laat besef dat sy nie sonder hom ‘n toekoms sal kan ingaan nie. Met ander woorde, hy sal nooit die beeld van haar droomman kan laat vervaag nie.
Groot skuldgevoeens koml opnuut in haar nes skop. Sy hou Martin onnodig aan ‘n lyntjie, gee hom dalk vals hoop dat sy moontlik tog met hom sal trou. Sulke tye neem sy haar voor om sommer net die volgende dag aan hom ‘n brief te skryf en die onsekerheid uit die weg te ruim, maar dan betig sy haarself. Die minste wat sy kan doen, is om dit self vir hom te gaan sê. Daarvoor sien sy steeds nie kans nie. Nog ‘n ou rukkie lank sal seker die situasie niks erger maak nie, troos sy haar dan maar.
Vanaand voel sy nogal moeg. Nonanda tel die verslag op en stap na die kantoordeur toe. Tog speel daar ‘n gelukkige glimlaggie om haar mondhoeke terwyl sy die deur sluit. Nege van die tien eiers van die singende kwartelwyfie het vandag uitgebroei. Sy het baie lank gesit en kyk hoe die nege klein-klein grys bondeltjies agter hul moeder aan struikelval.
Net toe sy omdraai om na die huis te loop, sien sy Bonita waar sy teen die naaste hok se hoekpaal aanleun. Sy wonder wat die meisie hier soek. Gys het haar tog uitdruklik laat verstaan dat niemand behalwe Voëlparadys se mense by die broeihokke toegelaat word nie.
“Hallo, Nonanda,” groet die meisie terwyl sy Nonanda op en af bekyk.
“Hallo, Bonita. Ek wil nie ‘n ou pretbederwer wees nie, maar weet jy dan nie dat die broeihokke se area verbode terrein vir almal behalwe Voëlparadys se mense is nie?”
“O, ja, maar ek is tog so te sê een van Voëlparadys se mense,” antwoord sy en glimlag veelseggend toe sy vervolg: “Jy weet seker ek en Gys het saam grootgeword en daar is ‘n spesiale band tussen ons twee.”
“Wel, niemand het dit nog so aan my vertel nie, Bonita,” antwoord sy stil asof sy die meisie so wil laat verstaan dat dit nie juis aan haar saak maak hoe en saam met wie sy grootgeword het nie.
“Ag, ja, die ou spul hier is maar verkramp. Maar laat ek jou tog ‘n vriendelike woord van advies gee, Nonanda. Moet asseblief net nooit enige romantiese idees oor Gys in jou kop kry nie. Natdat sy verloofde hom in die steek gelaat het, het sy oupa al dikwels probeer om een of ander meisie aan hom af te smeer, maar hy stel nie in hulle belang nie. Dis maar net vir my wat hy naby aan hom duld.”
Nonanda se hart trek op ‘n pynlik knop saam. Nee, sy glo dit nie – nie van oom Robbie nie. Hy sou haar mos nie so bedrieg het nie … of sou hy haar werklik hierheen gebring het om haar aan Gys uit te veil? En skielik onthou sy Gys se woorde die dag toe sy en oom Robbie hier aangekom het: dat sy oupa aaneen kerm Gys moet ‘n vrou kry. Die geringe saadjie van twyfel is genoeg om haar kriewelrig te maak.
“En wat laat jou dink dat dit die geval met my ook was? Of dat ek enigsins moontlik in Gys sal belangstel? En jy moet onthou, dit was nie oom Robbie wat my aangestel het nie, maar wel Gys,” is sy op die verdediging en skielik is sy dankbaar die witkop verkeer onder die indruk Gys het haar self aangestel.
“So word aan my vertel, ja, maar ek is seker daarvan die ou man het ook iewers ‘n sê in die saak gehad. Hy keer dat dit klap dat ek en Gys bymekaar uitkom, want hy hou nie van my nie. Maar dit sal hom niks help nie, want wat moet wees, sal wees. Na my ouers se dood boer ek en my bestuurder alleen op my plaas, maar wanneer ek en Gys getroud is, sal ons my plaas by Voëlparadys voeg en beoog ek baie uitbreidings,” antwoord sy en Nonanda hoor die kille vasberadenheid in die meisie se koue stem.
So, dan gaan Gys tog met die witkop trou, dink Nonanda en skielik is dit vir haar ‘n baie onaangename gedagte.
“Wel, jy hoef jou nie te bekommer nie. Ek het geen begeerte hoegenaamd om by jou Gysie betrokke te raak nie,” antwoord sy en is onmiddellik vir haarself vies toe sy hoor hoe ‘n tikkie bitsigheid in haar stem deurskemer.
“Goed, dan verstaan ons mekaar. Is jou dagtake nou afgehandel?’
“Ja, Ek gaan net gou Gys se verslag vir hom gee en dan wil ek eers gaan stortbad voor ek gaan eet,” antwoord sy afgetrokke.
“O! Ek is juis nou op pad na Gys toe, so gee sommer die verslag vir my en el neem dit saam. Dan kan jy gouer by die welverdiende stortbad kom,” stel Bonita met skielike vriendelikheid voor en hou haar hand gebiedend uit na die verslag.
Opstand broei in Nonanda, maar tog oorhandig sy die drie velle papier aan die meisie. Sy wil nie nou dadelik vir Gys sien nie, want die dinge wat Bonita gesê het, veroorsaak dat sy nou sku sal voel wanneer sy in sy oë moet kyk. Dalk is hy dieselfde mening as Bonita toegedaan: dat sy hier is om hom vir haarself in te palm. En dit terwyl hy en Bonita reeds trouplanne koester. Sy sal nie weet hoe om teenoor hom te tree nie, al is sy heel onskuldig.
Terwyl Bonita se liggaam ritmies saam met die perd onder haar beweeg, speel daar ‘n selfvodane glimlaggie om haar mondhoeke. Sy voel tevrede dat sy Nonanda goed laat verstaan het sy, Bonita, en Gys is vir mekaar bedoel.
Nou, meer as ooit, weet sy sy kan nie vir Gys deur haar vingers laat glip nie. Sy het lankal besluit hy is hare, maar toe het Elize in sy lewe gekom en so byna het sy hom verloor. Gelukkig het Elize nie vir die plaaslewe kans gesien nie en was Gys weer ‘n vry man.
En sy gaan nie nou toelaat dat ‘n ou donkerkop meisietjie van wie weet waar af haar planne kom deurmekaar krap nie. Gys is hare, sy het eerste reg op hom, want hulle hoort van kleins af al saam, dink sy driftig en kap die perd geniepsig met haar hakke in sy sye.

Saterdagoggend daag Kleintjie nie by die hokke op nie. Lange vertel hy is siek. Sy maag is omgekrap.
“Wat doen julle gewoonlik in so ‘n geval, Lange?”
“Juffroutjie moet nou net vir meneer Gys gaan sê. Hy vra gewoonlik sommer een van die ander manne om vir ons te kom help,”
“Ek sal jou sommer self help, Lange,” besluit sy dadelik. As sy nou vir Gys gaan pla, sal hy weer wens hier het liewer ‘n man gewerk, want dan kon hy Kleintjie se werk gedoen het. Wel, sy kan ook.
“Maar, Juffroutjie, ons moet vandag die een groot hok van die duiwe skoonmaak nadat ons die ander klaar kos en water gegee het,” antwoord Lange ontsteld.
“Dit maak nie saak nie, Lange. Ek sal jou daarmee ook help,” sê sy vasberade en stap aan na die voerkamer.
Lange volg haar gedwee, skud sy kop ongelowig, maar in sy binneste koester hy ‘n goot bewondering jeens die klein juffroutjie. Hy hoop net nie meneer Gys gaan vir hom kwaad wees omdat die juffroutjie vandag al hierdie dinge self wil doen nie. Dis baie werk en hulle sal lank daarmee besig wees.
Terwyl Lange die hokke se waterbakke die een na die ander skrop en weer met vars water vul, gooi Nonanda die saaddoppies wat in die kosbakke agtergebly het in ‘n sak uit en vul die bakke met saad. Toe hulle eindelik daarmee klaar is, is dit nog sowat twee uur voor middagete.
“Ons sal seker maar na ete die duiwehok moet skoonmaak, juffroutjie, want ons sal nie nou daarmee klaarkry nie. Ek het gesien daar is ‘n paar broeihokke waar die nesmaakmateriaal op is en ek sal solank daar vars materiaal gaan ingooi.”
“Goed, ek gaan solank die siek voëls in hok agt en nege se medisyne gee,” antwoord sy en stap na die skuur toe om die nodige medisyne te gaan haal.
Dis dus na vieruur die namiddag toe hulle uiteindelik met die hok se skoonmaak klaar is. Vir Nonanda voel dit asof elke spier in haar liggaam gekneus is, want sy het nie ‘n enkele tree vir Lange teruggestaan nie en net so hard soos hy gewerk. En nou moet sy nog die verslag ook gaan skryf.
Vuil en vol stof stap sy onder die stortkraan in. Lank staan sy net doodstil en laat die straaltjies water oor haar liggaam spoel voor sy die seep vat en haar begin was.

Met die wakkerwordslag die volgende oggend is Nonanda dankbaar dis Sondag, want sy kreun behoorlik toe sy haar bene van die bed afswaai. Sy is stokstyf. Gelukkig hoef sy nie vandag te werk nie.
Sy luister na die erediens oor haar radio en stap toe na die kombuis waar sy vir tannie Bes aantref.
“Môre, tannie Bes.”
“Môre, Nonnie. Hoekom het jy dan nie vanoggend kom eet nie? Jy is nie dalk siek nie, is jy?” vra sy bekommerd.
“Nee, Tannie. Ek was sommer net vanoggend lui en het ‘n bietjie later as ander oggende geslaap. Daarna het ek eers na die oggendpreek geluister,” vertel Nonanda net ‘n halwe waarheid. Sy kan mos nie vir tannie Bes van haar seer lyf vertel nie. Sy sal op haar beurt vir Gys gaan vertel en dan dink hy weer sy kla.
“Nee, dan is alles reg. Ek en Paps het ook na die preek geluister. Willem en Gys is kerk toe op Lydenburg.”
“Sal Tannie omgee as ek vir my ‘n piekniekmandjie pak? Ek wil graag die dag by die rivier gaan leeglê.”
“Ag, enige tyd, my kind. Hier is ‘n mandjie, hoor. Pak vir jou in net waarvoor jy lus het en ek hoop jy geniet dit.”
Nonanda kies koers in die rigting van die rivier wat sowat ‘n halwe kilometer anderkant die laaste voëlhok verby vloei. Snuffie draf springend saam en daarom probeer Nonanda so ver moontlik van die hokke af verbyloop. Onder ‘n dig beblaarde boom op ‘n tapyt van groen gras sprei sy haar deken oop en sit die mandjie en ‘n leesboek daarop.
Sy skop haar skoene uit en stap na die blink waterstroom wat vrolik oor die rivierklippe voortkabbel. ‘n Groot, gladde klip ‘n entjie laer af trek haar aandag en sy stap daarheen. Met ‘n gesteun en kreun gaan sy daarop sit en swaai haar voete in die koel water in. Die vinnige vloei van die stroom kielie haar voetsole en ‘n vreedsame trekkie verskyn op haar skraal gesig.
Sy glimlag sag toe sy tannie Bes se eend met haar agt kleintjies ook hier naby in die rivier sien swem. Verwonderd kyk sy hoe die moeder haar kinders keer om nie in die vinnig vloeiende stroom te beland nie. Sy hou hulle naby aan haar in die half afgesonderde inham hier naby. Nonanda het nie geweet die eend sou tot hier met haar kroos stap nie. Sy kyk na Snuffie om te sien hoe sy teenoor die eend en haar kleintjies reageer toe die eendegesin hier vlak voor haar uit die water uitklouter.
Snuffie lê plat op sy maag, loer vlugtig na die eende, maar dan pen hy weer sy blik vas op ‘n grassprietjie wat deur die vloei van die water heen en weer beweeg. Naarstig probeer hy om dit te vang en skud dan vies sy poot toe hy net die water raakslaan. Hy rol om in die gras en kyk na Nonanda. Hy bly net so in die son lê met sy oë wat nou lui toegaan, en Nonanda glimlag tevrede.
Sy druk met albei haar hande agter haar op die klip, gooi haar kop agtertoe en maak ook haar oë toe, terwyl die son sy hitte mildadig oor haar uitgiet. Sy sit lank so, maar toe die son darem te hittig raak en sy die heerlikheid van die koel stroom by haar voete voel, kry sy ‘n idee.

Waar Gys teen die boomstam aanleun, hou hy haar stil dop sonder om sy teenwoordigheid bekend te maak. Peinsend betrag hy nou daardie rustige toneeltjie waarvan sy so eg deel lyk.
Die spiere in sy kaak bult soos hy op sy tande kners. Haar teenwoordigheid hier het net weer sy ou wonde kom oopkrap. Kyk net hoe onskuldig sit sy en haar kat daar. ‘n Mens sal sowaar kan glo dat sy werklik die stilte en rustigheid hier rondom haar geniet. Maar nou ja, Elize het ook daardie indruk geskep totdat sy haar voete van klei aan hom openbaar het. Waarom sal Nonanda nou juis anders wees?
Toe Nonanda meteens opstaan, beweeg hy vinnig agter die dik boomstam in. Hy trap ‘n droë takkie stukkend en die knal daarvan klink oorverdowend hard in die stilte op.
Sy gaan staan en kyk om haar rond. Ademloos wag hy sy moet kom ondersoek instel. Hoe op aarde gaan hy sy teenwoordigheid aan haar verduidelik? Die meisiemens sal dink hy het haar kom afloer, dink hy en besef skuldig dat dit tog presies is wat hy doen, al is dit nou nie doelbewus nie. Hy kom gereeld op Sondae hier na die rivier toe en hy het nie geweet sy is hier nie. Noudat hy daaraan dink, dis snaaks ma Bes het nie gesê Nonanda is ook hier nie, want sy het tog geweet dat hy hierheen gaan stap. Hy is seker daarvan sy ma weet dat Nonanda hier is, want Nonanda sou nie vir haar ‘n piekniekmandjie gepak het sonder sy ma se medewete nie.
Na ‘n paar oomblikke stap sy egter verder en hy slaak ‘n yslike sug van verligting. Hy wag nog ‘n rukkie lank en loer versigtig om die stam deur die blaregordyn of dit veilig is om pad te gee.
Sy oë rek groot toe hy sien hoe sy haar romp en bloes uittrek en op die deken neergooi. Stadig stap sy terug na die watersroom en Gys staan vasgenael en kyk na haar volmaakte postuurtjie wat nou net in haar onderklere geklee is. Deurmekaar emosies woel in hom sodat hy van niks anders rondom hom bewus is nie. Sy oë verdonker en sonder dat hy daarvan bewus is, gee hy ‘n tree vorentoe. Hy skrik hewig toe die koergeluid van ‘n duif hier bo sy kop in die boom opklink en hy tree vinnig terug agter die boomstam in. Hy laat sy ingehoue asem stadig uit, knyp sy oë ‘n oomblik lank styf toe voor hy hulle weer oopmaak.
Onwillig skeur hy sy blik van die swemmende figuurtjie af weg en stap vinnig terug huis toe. Hy gaan sit in sy studeerkamer agter sy lessenaar om tot verhaal te kom voor hy kombuis toe stap om by sy ma te gaan koffie bedel.
Hy is ongewoon stil sodat sy moeder vraend na hom kyk, maar sy vra nie vrae nie. Sy ken Gys, as hy iets op die hart het, sal hy eerste begin praat, maar hy doen dit nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s