Deel vier Nonanda se paradys

Standard

Na afloop van die ete is Nonanda reeds op pad na haar kamer toe, toe Gys se stem haar tot stilstand roep.
“Juffrou Muller, sorg asseblief dat jy om sewe-uur more-oggend by die hokke is. En sorg dat jou kat in jou kamer bly. Ek wil hom nie naby die hokke sien nie.”
“Is jy nou laf, Gys?” vra Robbie fronsend. “Jy gaan nooit so vroeg hokke toe nie.”
“Wel, Oupa, ek het nie ander tyd tot my beskikking om haar te wys wat om te doen nie. As sy so graag die werk wil hê, sal sy daar wees,” antwoord hy beslis en kyk beurtelings na hulle.
“As tyd jou probleem is, Gys, sal ek haar met plesier wys wat om te doen,” sê Willem nou ernstig.
“Nee. Sy gaan vir my werk en ek sal haar self wys. As sy nie daarvoor kans sien nie, staan dit haar vry om vir haar ander werk te soek – werk wat by haar pas,” brom hy en loer onderlangs skepties na haar gestaltetjie.
Stadig het die verset en opstand in Nonanda begin roer. Hulle staan en praat sowaar van haar asof sy glad nie eens teenwoordig is nie. Genadetjie, waarin het sy haar begeef? Sy het tog nie regtig die werk nodig nie. Maar dan kyk sy direk na Gys en sien die spottende trekkie om sy mondhoeke en die uitdagende blik in sy donker kykers en sy besluit: nee, sy sal hom nie die tevredenheid verskaf deur die hasepad te kies nie. Laat hy gerus maar dink sy het die ou werkie broodnodig, maar sy sal nie kopgee nie. Sy was nog nooit een wat sommer met die opduik van die geringste ou probleempie die handdoek ingooi nie.
“Ek sal daar wees, meneer Burger,” sê sy en is self verbaas oor die vasberade toon in haar stem.
Gys kyk in haar groot oë vas en meteens is hy nie seker of hulle hom uitdaag of met hom die gek skeer nie. Haar gesig lyk egter heeltemal ernstig. Sy sê nag en hy kyk haar verdwynende figuurtjie met misnoeê agterna.
Willem verkas ook in sy slaapkamer se rigting en Gys merk sy oupa en ma se oë wat vraend op hom, Gys, gerig is. Hy maak egter asof hy dit nie sien nie, wens hulle ‘n geruste nag toe en stap met lang hale na sy kamer.
Nadat Nonanda haar kamerdeur agter haar toegemaak het, sien sy die twee boeke op haar bedkassie lê. By nadere ondersoek vind sy dat albei oor voëls handel. Sy wonder wie dit daar kom neersit het, want dit was nie vroeeër daar nie.
Haastig trek sy haar nagklere aan en gaan op haar bed sit. Sy trek die boeke nader en glimlag liefdevol toe Snuffie hom styf teen haar kom opkrul. ‘n Onverklaarbaar tintelende gloed brand deur haar hele liggaam by die gedagte dat dit moontlik Gys was wat die boeke vir haar gebring het, want dit kan dalk net beteken dat hy tog graag sou wou hê sy iets oor die voëls moet leer sodat sy nie heeltemal so onkundig is wanneer sy met hulle moet werk nie.
Maar die moontlikheid verdwyn speodig soos mis voor die son toe daar ‘n nota voor uit die een boek gly.
Nonnie, hierdie boeke bevat duidelike prente, asook besonderhede van al die soorte voëls wat ons hier op Voëlparadys het. As jy lus het, kan jy gerus so ‘n bietjie deur hulle blaai. Oom Robbie.
Dierbare oom Robbie. Sy moes mos geweet het dit kon net hy wees wat daaraan sou dink om so iets te doen. Gys wil haar nie hier hê nie, waarom sou hy dus haar werk vir haar probeer vergemaklik. Hoe kon sy so simpel gewees het om te dink dit was Gys. Wel, sy sal hierdie boeke bestudeer so goed as wat sy dit in hierdie nag kan doen sodat sy darem nie môre so totaal onnosel voorkom nie.
Sy het egter net ‘n paar bladsye gevorder toe sy besef dis ‘n absoluut onbegonne taak om in die bestek van een nag deur albei die boeke te lees en ook alles te onthou, en sy gooi die boeke eenkant toe.
Ag, en vir wat sal sy tog nou haar kop breek om die goed te leer? Sy is tog net vir die twee maande hier en dan moet sy weer na die losieshuis toe teruggaan, redeneer sy vies met haarself.
Maar skielik ontdek sy ‘n ander Nonanda binne-in haar wat hardnekkig weier om sommer so slapnek te wees. Vasbeslote gryp sy weer die boeke. Al bestudeer sy elke aand net ‘n paar van die voëls sal sy tevrede wees, besluit sy en voel dadelik beter oor haarself.
Sy vind toe die inligtingstukke so interessant dat sy eers agterkom hoe moeg sy is toe haar oë later so brand dat sy nie meer lekker kan lees en kort-kort effense waterigheid uit haar ooghoekies moet wegvee. Sy sit die boeke op die bedkassie neer en skakel die lig af.
Met ‘n skok vlieg sy weer orent en skakel die lig weer aan. Genade, sy was so geïnteresseer deur die voëls in die boeke dat sy skoon vergeet het om haar Bybel te lees.
Toe sy eindelik weer haar lig afskakel en haar oë sluit, is dit met ‘n duidelike beeld van Martin voor haar geestesoog. En verwonderd besef sy: Voëlparadys se mense het sowaar daarvoor gesorg dat sy ‘n hele paar uur lank van Martin vergeet het.

Op hierdie oomblik lê Martin Theron in sy donker kamer, sy oë starend by die venster uit na waar die sterre vrolik in die hemelruim skitter. Daardie vrolikheid vind egter nie in sy hart weerklank nie. Tussen sy vingers brand die soveelste sigaret van hierdie nag.
Hy verlang al klaar na Nonanda. Nonanda met haar lieflike donker oë wat so geleidelik deur hul grootwordjare die liefde in sy hart teenoor haar laat ontwaak het. Dit was maar altyd net hulle twee so oral saam. Hy het sommer met die verloop van die tyd vanselfsprekend aanvaar sy voel dieselfde teenoor hom.
Dis maar onlangs eers dat hy sy fout ontdek het. Hy sal nooit daardie dag vergeet toe hy hom amper aan haar vergryp het nie. Hulle het kaalvoet rondgestap in die veld nadat hulle die piekniekmandjie bygedam het. Haar voete het op die skerp klippies seergekry en sy het haar nie twee keer laat nooi toe hy buk sodat sy op sy rug kan klim nie.
Haar sagte liggaam en vroulike rondings so styf teen sy lyf het dinge aan hom gedoen wat hy nie geweet het moontlik is nie. By die rivier het hy haar stadig laat sak en terselfdertyd omgedraai sodat sy styf in sy arms kon bly staan. Toe het hy haar gesoen met al die drif wat die skielike honger vuur binne hom vereis het. Met byna bomenslike inspanning het hy sy hande daarvan weerhou om ‘n intieme paadjie oor haar liggaam te bewandel.
Ook maar goed, want dit het uiteindelik tot hom deurgedring Nonanda soen hom nie terug nie, en dat sy hom sagkens van haar af probeer wegstoot. Sy het haar kop heen en weer geskud en haar oë was verbaas en geskok op hom gerig. Hulle het nie gepraat nie. Dit was nie nodig nie. Hy het maar te deeglik besef Nonanda het hom nie lief soos hy vir haar nie, dat sy hom bloot as ‘n goeie vriend beskou. En skielik was sy ongemaklik in sy geselskap. Sy wat altyd so spontaan teenoor hom opgetree en alles met hom bespreek het, was skielik terughoudend.
Die wete het hom soos ‘n voorhamerhou tussen die oë getref en hy wou dit nie so aanvaar nie. Voor hy hom kom kry, het hy haar gevra om met hom te trou.
Hy het geweet wat haar antwoord sou wees en hy het al klaar die seer van sy krampende hart begin voel. Maar toe sê sy sy wil twee maande gaan rondreis en daarna sal sy haar antwoord gee.
En toe het hy gewonder: kry sy hom te jammer om hom seer te maak en wil sy daarom weggaan sodat sy die antwoord aan hom kan uitstel? Of kan dit wees dat sy twyfel en dat daar dalk tog vir hom hoop is om haar liefde te wen?
Hierdie vae moontlikheid het sy hart in sy ore laat klop van opgewondenheid. Hy sal vir haar wag, al wil sy ook langer rondreis, net solank daar hoop is dat sy na hom toe sal terugkom.
Omdat hulle nog nooit langer as een dag van mekaar af weg was nie, het hy egter nie geweet hoe erg die verlange aan hom knaag nie. Hy wonder waar sy nou is, wat sy doen en met wie sy dalk gesels. Sê nou een of ander gladdemondvent slaan haar voete onder haar uit en sy wil glad nie weer hierheen terugkom nie?
Dié gedagte laat hom die sigaret driftig in die asbak op die bedkassie dooddruk, net om feitlik onmiddellik weer ‘n nuwe een uit die pakkie te haal. Hy weet sommer dat hy in die nag wat voorlê nie veel slaap sal tegemoetgaan nie.
Ook Gys lê lank wakker. Hy voel ontevrede omdat hy toegelaat het dat ‘n klein skepseltjie met groot donker oë en ‘n donkerbruin krulkop hom so met haar teenwoordigheid omkrap dat hy sukkel om aan die slaap te raak.
Is dit dalk omdat sy hom in ‘n mate aan Elize herinner? Ja, Elize het ook so ‘n bruin krulkop en sy is net so fyn gebou, maar sy het blou oë. Daardie blou oë wat so vasberade geglinster het toe sy hom kort voor hul troudag meegedeel het dat sy nie kans sien vir die plaaslewe nie; die stadsliggies het vir haar ‘n groter aantrekkingskrag as hul liefde vir mekaar. En skaars drie maande nadat sy hom in die steek gelaat het, moes hoor sy is met ‘n jong doktertjie getroud. Toe het hy besef: haar liefde vir hom was maar net veldiep.
Wel, hy sien nie kans vir Bonita by sy geliefde voëls nie. Dit sal vir haar net aan die begin ‘n nuutjie wees en daarna sal sy belangstelling verloor soos sy tot dusver met al haar stokperdjies gedoen het. Sy stel nie eens belang in wat op haar eie plaas gebeur nie, sy los alles in haar bestuurder se hande.
Dus, laat juffrou Nonanda dan maar die kans gegun word om aan hom en aan haarself te bewys dat sy ook nie op ‘n plaas hoort nie. Dat sy ook maar, net soos Elize, na die stad met sy malle gejaag en talle plesierplekke sal hunker sodra die nuutjie van ‘n plaaslewe agter die rug is. Hoe gouer hoe beter, want dan kan hy ‘n man vir die werk soek.

Selfs Willem lê met sy hande op die kussing onder sy kop gevou en staar in die donker, maar in sy binneste is daar ‘n ligte roering van opgewondenheid.
Dalk was Nonanda se koms hierheen ‘n bestiering. Miskien, net miskien sal haar teenwoordigheid hier Gys se aandag so in beslag kan neem dat hy nie altyd tyd sal hê om aan Bonita af te staan nie. En dan, wie weet? Miskien sien Bonita hom, Willem, dan raak. Tot dusver het sy net oë vir Gys gehad, maar sy hou nie daarvan om afgeskeep te word nie en sy sal nou noodgedwonge maar daarmee tevrede moet wees wanneer Gys en Nonanda met die werk besig is. Miskien is dit dan sy kans om na vore te tree sodat sy kan sien hy is beskikbaar.
Nonanda is al wakker toe die eerste grys lig die koms van ‘n nuwe dag aankondig. ‘n Paar oomblikke later staan sy ten volle in haar blou jannas en ‘n geel hempie geklee.
Skuinsweg beskou sy haar spieëlbeeld. Sy besef sy het al beter vertoon, maar sy het heelwat gewig in die laaste tyd verloor en dit laat haar klere losserig aan haar sit. Sy verloor altyd vinnig gewig wanneer iets haar pla.
Sy trek haar skouers liggies op, gee vir Snuffie kos uit ‘n blikkie en maak weer sy waterbakkie vol vars water. Daarna kom die sandbak aan die beurt en eers dan stap sy by die deur uit.
Dis nou eers halfsewe, merk Nonanda, maar sy drentel tydsaam in die rigting van die hokke waar sy die voëls se geluide hoor. Sy glimlag sag toe sy die harde gekweel gevolg deur ‘n uitgerekte gesnater in die hok die naaste aan haar hoor. Dis ‘n geluid wat geen mens mos gou kan vergeet nie. By die hok gaan sy staan om die spesie se naam en besonderhede op die naambordjie by die hekkie te lees voor sy nader stap om die voëltjies te bewonder.
“Weet jy darem waste voëls dis wat jy daarvoor jou sien, juffrou Muller?” praat Gys sinies agter haar.
Sy skrik, maar ruk haar gou reg en haar sagte glimlag verander in ‘n spottende grinnik toe sy antwoord.
“Die ou hoëveldskaapwagtertjie is ‘n baie algemene voëltjie, meneer Burger. Weliswaar maar oral yl versprei, behalwe in die oostelik laaglande, maar tog algemeen.”
Toe sy die ligte verbasing in sy oë opmerk, draai sy doelbewus weer om en kyk na die voëltjies sodat hy nie die lekkerkry-uitdrukking op haar gesig moet sien nie.
Gys staar na die skaapwagtertjie met sy opvallende wit voorkoppie en wenkbrou en sy swart mussie asof hy hom vandag vir die eerste keer sien. Die stukkie meisiemens hier voor hom wat vanoggend eerder soos ‘n jong skooldogter lyk, het die wind momenteel uit sy seile geneem. Daar is dan gesê dat sy nie die voëls ken nie. Hy gun haar egter nie lank die genot daarvan nie en spreek haar grimmig aan.
“Ek sal dit waardeer indien jy die voëls se Engelse naam sal gebruik, Juffrou. Of is dit te veel gevra?” Weer eens lig hy spottend ‘n wenkbrou.
In weerwil van die gebelgdheid wat sy woorde in haar aanblaas, bly sy kalm.
“Geensins, meneer Burger. Maar mag ek vra waarom?”
A-ha! Sy ken nie hul Engelse naam nie, dink hy, en daarom wil sy nou tyd wen.
“Omdat my boeke in Engels geskryf word, Juffrou. Ek verwag ook dat jy jou daaglikse verslag in Engels moet skryf. Ek hou nie daarvan dat my boeke ‘n mengelmoes van die twee tale moet wees nie. Hoe gouer jy hul Engelse naam aanleer hoe beter,” antwoord hy streng, terwyl ‘n ligte skuldgevoel aan hom krap omdat hy nou haar ‘n opdrag gegee het wat totaal en al onnodig is.
“Chapped wheatear,” sê sy toe hy haar net stom aankyk, vervolg sy: “Dis mos die Engelse naam van die skaapwagtertjie, dan nie?” vra sy, draai terug na die hok toe en glimlag stout toe hy nie meer haar gesig kan sien nie. Laat hom gerus maar wonder, dink sy ondeund.
Dan stap Gys uitdagend op haar af. Voor sy mooi weet wat gebeur, het hy sy hand oor haar oë geplaas en stoot hy haar in die rigting van die volgende hok. Hy bring haar styf teen die draad tot stilstand voordat hy praat.
“Toe, Juffrou-weet-alles, sê vir my waste voëls is dit hierdie – sónder om op die naambordjie te lees!” sê hy vermakerig, en verleë besef sy hy het haar betrap.
Net toe Nonanda vir hom wil sê dat sy nie weet nie, want sy ken mos nie voëls nie, steek haar oë op die klein voëltjies met hulle pragtige geel-en swart gesiggies en olyfgroen vlerkies vas. Sy herken hulle onmiddellik as die vinkie wat voor in die een boek beskryf word.
‘n Borrelende laggie stoot in haar op toe sy besef hy kan haar hierdie keer sekerlik nie weer daarvan beskuldig dat sy op die naambordjie gelees het nie. Sy verluister haar aan die vinkies se getjilp wat omtrent nooit ophou nie. Dit laat haar aan die krapgeluid dink wat ‘n kriek op sy vlerke maak.
Eers toe sy geamuseerde laggie agter haar op klink en hy met sy diep stem praat, draai sy om.
“Vasgevra, né, Juffrou?”
“Nogal nie, meneer Burger. Dis die Kubaanse vinkie, of soos jy dit verkies, Cuban finch. Hulle is baie wakker voëltjies, maar kan nogal baie geniepsig teenoor hul kleintjies wees wanneer die outjies eers self begin eet. Die volwasse mannetjies val die jong mannetjies aan en so ook die volwasse wyfies die jong wyfietjies,” herhaal sy dit wat sy die vorige aand geleer het.
Hy kyk takserend na haar met sy donker oë voordat hy keelskoonmaak.
“So, juffrou Nonnie weet wel ‘n ietsie van ons geveerde vriendjies af. Ek wonder nou net waarom het Oupa vir my hieroor gejok!”
“Beteken dit jy gaan my ‘n regverdige kans gun, meneer Burger?” vra sy stil.
“Hou tog op met jou ge- ‘meneer Burger’!” brom hy. “My naam is Gys.”
“In daardie geval mag jy my maar Nonnie noem,” besluit sy sedig en haar stemtoon ontlok ‘n diep frons op sy voorkop. Sy kyk egter kalm na hom en vra: “Wel, Gys?”
“Wel wat?” mor hy en voel kriewelrig onder haar reguit blik.
“Kry ek ‘n kans of nie?’
“Goed, ek gee jou twee maande kans om aan jou en aan my te bewys jy hoort ook nie op ‘n plaas nie,” sê hy en kyk na haar met versluierde oë.
Ook nie? Wie anders het dan nie op ‘n plaas gehoort nie, wonder sy vlietend.
Haar oë blink egter onnutsig toe sy ongeërg sê: “Baie dankie vir die kans wat ek gegun word. Ek sal dit ten beste probeer benut. En nou kan ek maar vir jou sê jou oupa het nie vir jou gejok het nie, want ek ken regtig nie voëls nie. Daardie eerste hok se besonderhede hét ek op die naambordjies gelees voordat jy daar aangekom het en die tweede hok s’n het ek toevallig gisteraand in ‘n boek gelees wat jou oupa aan my gegee het. Is jy nou tevrede dat jou oupa nie vir jou gejok het nie?”
Gys gee ‘n kortaf, verbaasde laggie by die besef dat sy nie werklik nodig gehad het om dit vir hom te vertel nie. Hy wag vir die bevrediging wat haar woorde hom moet verskaf, maar al wat hy ondervind, is ‘n eienaardige krieweling in sy maag toe hy in haar oë kyk wat op hierdie oomblik so vol onskuld op hom gerig is. Die meisiekind het pragtige oë, erken hy onwillig.
Hy staan en kyk so lank en so ingedagte na haar dat Nonanda ongemaklik onder sy blik begin voel.
“Gys?” sê sy vraend, trek haar skouers liggies op en vou haar hande inmakaar. “Het ek iets verkeerd gesê?”
“Nee,” antwoord hy kortaf. “Kom laat ek jou wys wat jou pligte alles behels, want ek het nie die hele dag tyd nie,” brom hy en stap aan, bang sy sal dalk sal sien haar blik ontsenu hom.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s