Deel drie van Nonanda se paradys

Standard

Terwyl Nonanda en oom Robbie met die plaaspad langs onder die hoë, lowerryke bome deurry, voel dit vir haar asof daar vlinders in haar mag fladder. Sê nou Gys jaag haar summier weg?
Meteens trek sy haar asem verwonderd in en oom Robbie se kekkellaggie klink op. Hy weet die opstal van Voëlparadys het op menige mens hierdie uitwerking.
Die yslike ou kliphuis met sy sierlike rietdak, lieflike, groot vensters en ‘n groot, ruim stoep steel dadelik haar hart. Sy sien glad nie die voëlhokke nie en skryf dit toe aan die feit dat ‘n verskeidenheid boomsoorte en struike so geplant is om die hokke nie van die huis af sigbaar te maak nie. Sy besef dis ‘n baie oulike manier om te verseker die huismense geniet hulle privaatheid selfs al wemel dit by die hokke van die besoekers.
“Hou sommer daar voor by die stoep stil, Nonnie. Ons kan later vir Willempie vra om jou motor te gaan bêre,” sê oom Robbie en sy maak so.
Stil sit sy haar en verkyk aan ‘n eekhorinkie wat hier teen die huis se muur aan ‘n akker sit en knibbel. So asof hy weet niemand sal hom hier pla nie, dink.
Oom Robbie kyk peinsend na haar. Dis vir hom baie duidelik die kind is lief vir die natuur. Hy kyk hoe sy stadig uit die motor klim, steeds met haar oë op die diertjie gerig, en sy ou hart klop warm in sy borskas. Sy is ‘n meisiekind so reg na sy hart.
Die diep manstem klink so skielik agter hulle op dat Nonanda vervaard omswaai en amper in die proses haar hand in die motor se deur vasslaan. Sy kyk teen ‘n tamaai mansmens vas. Sy netjies gekapte hare – waarvan nie ‘n enkele een uit sy plek lê nie – blink blouswart in die sonlig. Sy ewe swart oë kyk vlugtig na haar, soek dan in die motor rond na nog ‘n passasier en kom dan op oom Robbie tot stilstand. Stadig stap hy nader. Nonanda kan sien hoe sy spiere onder die dun somershemp speel, en ‘n eienaardige rilleng hardloop deur haar hele lyf. Sy kan nie dink dat sy al ooit opgelet het dat Martin se spiere so onder sy hemp vertoon nie, mymer sy ingedagte.
“Oupa, waar is die man wat Oupa vir ons sou saamgebring het?” vra hy en sy een wenkbrou lig fronsend.
“Groet jy nie, Gys?” kom dit koel, vermanend van Robbie.
Sonder om ‘n oog te knip, sê Gys: “Ja, dag, Oupa. Wel?” vra hy en kyk steeds afwagtend na sy oupa, terwyl Nonanda haar gedagtes hokslaan en nou gespanne na die twee staan en kyk.
“Dag, Gys. Daar is ons aanstelling,” sê Robbie en beduie ongeërg met sy kromsteelpyp na Nonanda toe.
Gys se mond sak ongelowig oop. “Maar Oupa is seker nie nou ernstig nie! Wat moet ek met ‘n vroumens hier maak?”
“Die werk wat jy gedoen wil hê, kan ‘n vrou net so maklik soos ‘n man doen,” kom dit ferm van die ou man.
“Maar, Oupa …
“Aag, Gys! Hou op met jou ge- ‘maar Oupa’. Buitendien, jou advertensie spel dit nie uit dat dit nie ‘n vrou mag wees nie en nou het jy boonop vir Bonita gelieg ook oor die aangeleentheid. So, wat was jy van plan om Maandag vir haar te sê wanneer hier nog steeds niemand in die pos is nie, h’m?” glimlag sy oupa nou veelseggend.
Gys se aantreklike gelaat vertrek ergelik toe hy met geskreefde oë agterdogtig na sy oupa kyk.
“Oupa! Oupa is nie weer besig met een van Oupa se … e … dinge nie, is Oupa?” vra hy en sy lippe trek styf oor sy tande soos hy ekstra klem op sy woorde lê.
“Watse dinge, kind?” vra sy oupa en trek sy wenkbroue woes na mekaar toe om nog meer erns aan die onskuldige toon in sy stem te verleen.
“Kom nou, Oupa! Oupa kerm nie verniet so aaneen by my dat ek ‘n vrou vir Voëlparadys moet bring nie.”
Robbie kry nie kans om hom te antwoord nie, want ‘n vrolike stem dring tot hulle deur.
“Dagsê Oupa, Hoe was die vakansie …? Oe-la-la, en wat het ons hier?” vra hy en kyk bewonderend na Nonanda.
Nonanda kyk verleë na die lang, blonde jong man wat haar met ‘n spul lagduiweltjies in sy grys oë openlik staan en aanstaar. Hy laat haar aan Martin dink, flits di tdeur haar brein. Dan draai sy hulpsoekend haar blik na oom Robbie toe.
“Ja, dag, Willempie. Dis Nonnie Muller en dis nou my jongste kleinseun, Willempie Burger, van wie ek jou vertel het, en hierdie ene is Gys Burger,” sê hy op sy rustige manier en beduie van die een na die ander met sy kromsteelpyp.
“Aangename kennis, Nonnie. En sê tog vir my Willem, hoor. Oupa sal seker nooit wil aanvaar dat ek nie meer ‘n Willempie is nie. Ek is nou eenmaal die jongste, so hy hou my naam ook maar in die verkleinwoordvorm,” verduidelik hy laggend terwyl hy Nonanda se hand neem en dit net ‘n biejite langer vashou as wat werklik nodig is.
Daar skitter onverbloemde bewondering in die jong man se oë wat op haar blosende gelaat gerig is. Dit gaan nie ongesiens by Gys verby nie en nou kyk hy vir die eerste keer opsommend na Nonanda. Maar net nog ‘n mooi stadsmeisie, besluit hy na etlike oomblikke. Wat op dees aarde sou sy oupa besiel het om so ‘n petieterige vroumens vir die werk op die plaas te huur!
Nonanda glimlag en stel ‘n ry spierwit tande bloot toe sy na Willem kyk en antwoord: “Goed, Willem. Dit lyk mos vir my of jou oupa daarvan hou om ‘n mens te noem soos dit vir hom lekker is, want sien, ek is eintlik Nonanda, maar hy het my herdoop na Nonnie. Nie dat ek omgee nie, oom Robbie,” eindig sy haastig in die oompie se rigting, bang hy dink dalk sy is daaroor ontevrede.
Oom Robbie se kekkellaggie stel haar gerus dat hy nie anstoot geneem het nie, en sy ontspan verlig.
“Nonnie is ons nuwe aanstelling hier op die plaas. Sy gaan vir Gys met die werk by die voëls help,” verduidelik oom Robbie aan Willem en knipoog stout vir hom sodat Gys dit nie kan sien nie.
Gemaak verbaas rek Willem se oë toe hy na Gys kyk.
“Ek dog dan jy het vir Bonita gesê dis eintlik ‘n man se werk, Gys!” terg hy sy broer en kan dan ‘n ondeunde proeslag nie stuit nie.
“Wel, eintlik is dit so. Maar as die meisie daarvoor kans sien … Wie is ek dan om te kla?” antwoord Gys brommend, maar sy oë glinster tog uitdagend in hare.
“Welkom terug, Paps. Stel my dan ook aan ons gas voor.” Nonanda verwonder haar aan die mollige vroutjie met die silwergrys hare waarby haar diep, bruin oë so mooi blink vertoon. Gys het sy ma se oë.
Oom Robbie staan nader, slaan sy arm om die mollige lyfie van sy skoondogter en gee haar ‘n klapsoen.
“Dag, Bes. Dis Nonnie Muller vir wie jy die slaapkamer in die gereedheid moes bring. Ons nuwe aanstelling, jy weet? Willempie het mos darem seker vir jou my ou boodskappie gegee, nè.”
Die vlugtige verbasing in Bes se oë ontgaan nie haar skoonpa se skerp oë nie, maar tevrede sien hy hoe sy dit meesterlik weg toor toe sy antwoord.
“Natuurlik, Paps. Ongelukkig het Willem nagelaat om te noem dat dit ‘n meisie is, want dan sou ek ‘n kamer in die huis vir haar gereed gemaak het. Nou het ek die stoepkamer in gereedheid gebring en dié is so ‘n onvroulike ou vertrek!”
“Aag, toe maar, Ma. Sy kom nie hier vakansie hou nie. Sy kom om te werk en sy sal dus nie tyd hê om heeldag in haar kamer rond te lê nie,” sê Gys en kyk grinnikend van die een na die ander.
Nonanda kyk vinnig na hom. Daardie grinnik op sy bakkies voorspel sowaar niks goed vir haar nie. Sy wonder darem ….
Bes maak asof sy nie die spottende stem van haar seun gehoor het nie, groet Nonanda hartlik en neem haar dan aan die arm om huis se kant toe te stap.
“Dis die beste nuus wat ek in ‘n lang tyd gekry het. Die spul mans is partykeer vir my net een te veel en dan verlang ek soms van ‘n bietjie vrouegeselskap.”
“Dankie, tannie Bes. Mag ek maar so vir u sê?” vra sy dan verskonend nadat die aanspreekvorm sommer uitgegelip het.
Bes lag saggies. “Natuurlik, kind. Ek sou dit nie anders wou gehad het nie.” Sy draai om en roep die mans wat steeds by die motor staan. “Die tafel is reeds gedek , julle kan maar kom eet. Neem, asseblief net eers Nonnie se goed na die stoepkamer toe.”
“Dis regtig nie nodig nie, tannie Bes. Ek kan dit self doen,” keer Nonanda haastig omdat sy skielik nie wil hê dat Gys nog verder die indruk moet kry dat sy ‘n pieperige meisiemens is wat niks vir haarself kan doen nie.
Maar Bes stoot haar vorentoe. “Bog, kind. Kom ek gaan wys jou jou kamer. Dis ongelukkig net ‘n stortbad by die buitekamer. Is jy nie dalk maar lus om liewer in ‘n kamer in die huis in te trek nie? Daar het ons twee badkamers.”
“Nee!” antwoord sy vinnig. “Ek … ek is lief vir stortbad, Tannie. En om die waarheid te sê, ek verkies werklik die stoepkamer. Baie dankie in alle geval vir die vriendelike aanbod.”
Sy sal nie daarvan droom om ‘n kamer in die huis te betrek nie, want dan sal sy haar sekerlik Gys se gramskap nog verder op die hals haal. Soos sy hom bekyk, sal hy sommer sê sy is ‘n tipiese ou stadsmeisietjie wat te bang is om in ‘n buitekamer te slaap of nie bereid is om ‘n bietjie ongerief te verduur nie. Sy het netnou maar te duidelik gesien hy het haar reeds geweeg en te lig bevind, en op daardie oomblik het sy vasberade besluit, sy sal alles in haar vermoë doen om hom verkeerd te bewys.
“Nou toe, wanneer jy gereed is, kan jy maar kom eet. Ons eet sommer in die groot kombuis. Ons sal vir jou wag, hoor,” sê Bes en maak die stoepkamer se deur oop.
Nonanda stap na binne toe en verkyk haar so aan die ruim vertrek dat sy skrik toe Willem haar bagasie hier langs haar neersit.
“Goed, tannie Bes, ek kom so gou as wat ek klaar het. Dankie vir die bagasie wat jy gebring het, Willem.”
“Ek is tot u dines, skone dame. Jy moet net die word spreek. Hier is jou kat ook,” kom dit stuitig vn hom, maar sy moeder neem hom ferm aan die arm en rem hom agter haar aan.
“Kom, ou verspot! Nonnie wil ‘n bietjie die stof van haar lyf afspoel voordat sy kom eet. Jy kan solank vir ons elkeen ‘n glasie op die tafel sit. Hierdie gebeurtenis regverdig seker darem ‘n bietjie sjampanje, of hoe?”
Willem lag lekker. “Nou praat Ma mos so reg na ‘n man se hart. Ek bedoel nou nie die glasie nie, maar wel die gebeurtenis.” Weer lag hy ondeund voordat hulle in die huis in verdwyn, terwyl Nonanda hulle met ‘n warm gevoel om haar hart staan en agterna kyk.
Sy sorg eers dat Snuffie se waterbakkie vol vars water is, en gooi vir hom van sy sagte katpille in ‘n ander bakkie uit. Daarna gryp sy gou sy sandbak en gaan vul dit met grond.
Sy is onbewus van Gys se paar donker oë wat met ‘n ontevrede blik haar doen en late gadeslaan.
Nonanda sit die sandbak langs Snuffie se mandjie neer en eers toe maak sy die mandjie oop. Soos ‘n pyl uit ‘n boog mik Snuffie heel eerste vir die sandbak! Daarna loop hy snuifend deur die kamer en ondersoek elke hoekie voordat hy aan sy pille begin smul.
Nonanda kom ‘n paar oomblikke later verfris onder die stortkraan uit. Sy kyk krities na die klere in haar tas en besluit haastig op ‘n vrolike, bont rokkie wat sy oor haar kop en skouers gooi. Dan trek sy die borsel deur haar donker hare, vee liggies met ‘n sagte pienk lipstif oor haar mooi, vol lippe en sonder om weer te kyk, stap sy met ‘n vaste tred na die kombuis toe.
‘n Opregte wolwefluit begroet haar en Willem se oë skitter heel prettig soos hy hom in haar verleentheid verkneukel. Veral toe sy in Gys se onweersgesig kyk en die openlike afkeer daarop sien. Terwyl sy donker blik broeiend van haar na Willem flits, voel dit vir haar asof haar gesig aan die brand is, en haar liggaam is onbeweeglik styf.
“Kom nader, ou doggie. Mapstieks, maar jy lyk sommer vanaand alteveel pragtig! Tot ‘n ou bietjie kleur ook in die wange. Ek kan sommer sien die plaas is net die regte plek vir jou,” kom dit ingenome Robbie. Nonanda ruk haar oë weg van die donker, smeulende dieptes van Gys se amper swart kykers, dankbaar vir oom Robbie se teenwoordigheid wat haar uit die verstoktheid geruk het.
“Gaan niemand my dan voorstel nie?” hoor Nonanda ‘n goed gemoduleerde stem effens sarkasties vra.
Eers dan sien sy die meisie wat in ‘n diep leunstoel langs Gys sit. Die lig van die lamp agter haar laat haar blonde hare soos geelkoper skitter, maar dis die meisie se oë wat Nonanda amper laat staar. Koue beredeneerdheid lê in die eienaardige, groen kleur daarvan en onwillekeurig gly daar ‘n koue rilling teen Nonanda se rug af.
“Dis Gys se nuwe aanstelling hier op die plaas, Bonita. En ek sal sommer sê aanwins ook.” terg Willem lustig voort. “Laat ek jou bekend stel aan Nonanda Muller, en, Nonnie, dis nou Bonita Olivier van ons buurplaas.”
Die blondine se groen oë blits na Gys toe. “Gys-skat, jy het nie vir my gesê dat jy ‘n vrou aangestel het nie. Jy het my laat verstaan die werk is nie vir ‘n vrou geskik ni, en jy daarom nie die werk vir my wou gee nie,” sê sy pruilerig.
Gys laat sy oë van die een na die ander beweeg.Almal kyk nou nuuskierig na hom. Willem en oupa Robbie se oë dans van die pret, terwyl ma Bes se blik ‘n tikkie kommer toon. Dan kyk hy vas in Nonanda se donker poele wat stip op hom gerig is terwyl daar ‘n fyn glimlaggie om haar mondhoeke speel. Die gewaarwording laat ‘n gevoel van verleentheid en ergenis gelyk deur hom vloei. En skielik kry hy die gevoel dat niks ooit weer vir hom hier op Voëlparadys dieselfde gaan wees nie, asof sy ou lewe hier tot ‘n einde gekom het en ‘n nuwe een vir hom lê en wag.
“Juffrou Muller was reeds aangestel toe jy my om die pos genader het, Bonita,” skud hy die eienaardige gevoel opsy. “Onthou jy dan nie? Ek het mos vir jou gesê die pos is reeds gevul,” verduidelik hy.
“Ja, maar as jy toe vir my gesê het jy het ‘n vrou aangestel, sou ek jou wel oortuig het om haar te laat weet sy hoef nie meer te kom nie. En dan sou jy mos die ou werkie vir my gegee het, nè, Gysie?” vra sy en haar bloedrooi gegrimeerde lippe span styf en die groen oë glinster kil sodat haar woorde glad nie intiem klink soos wat sy dit duidelik bedoel het nie.
Gys kners op sy tande. Hy weet nie waarom Bonita hom altyd Gysie of Gysie-skat voor ander mense noem nie. Hy hét al vir haar gesê hy hou nie daarvan hou nie.
“Maar jy het tog nie nodig om te werk nie, Bonita, so waarom sal jy nou jou hande hie kom staan en verniel terwyl jy liewer oor die werkers op jou eie plaas kan toesig hou?” vra Gys fronsend.
Oom Robbie se kekkellaggie klink op en Bonita kyk vinnig na hom toe hy sê: “Sê liewer die witkop het nog nooit geleer wat dis om regtig te werk nie, seun. Jou voëls sou almal onder haar toesig gevrek het!”
Met groot oë kyk Nonanda op, reguit in Willem se ondeunde gesig vas. Hy grinnik toe hy vir haar oogknip en dan lewendig van die een na die ander kyk. Dan stap hy stadig tot by haar.
“Moenie so geskok lyk nie, man. Oupa praat altyd so met Bonita. Hy sê sy het nog baie om in die ou lewe van ons te leer, want sy wil net altyd haar sin in alles hê en dis maar net sy reguit manier om haar te laat verstaan dat dinge nie altyd so werk nie. Miskien soms ‘n bietjie kras, maar dis maar onse oupa se manier daardie,” fluister hy naby haar oor.
Afsku is duidelik op Bonita se foutlose popgesig te bespeur toe sy vinnig opstaan.
“Nee, ek loop liewer! Vat my huis toe, Gys!” bevel sy skerp, en haar hele houding eis onvoorwaardelike gehoorsaamheid van hom.
Gys frons skerp. “Maar waarom? Jou perd staan mos hier buite.”
“Wel, ek het nie nou lus om te perd terug te gaan nie!” sê sy hard en kyk uitdagend na hom.
Stil staan Gys op en neem haar aan die arm. Sonder om te groet, stap sy saam met hom by die deur uit. Oom Robbie skud sy kop in ongeloof.
“Wat het van vandag se manne se murg in hulle pype geword? Kyk net hoe laat hy hom deur die witkop hiet en gebied! Ai,ai, ai! Kom mense, laat ons eet,” grom hy en Nonanda ervaar meteens ook ‘n teleurstellende gevoel. Sy het nie gedink die yslike Gys is ‘n lafaard nie. Of is hy dalk vir die witkop lief? Wie is sy in elk geval om ‘n ander van lafhartigheid te beskuldig as sy self nie eens die moed het om openlik vir Martin te sê dat sy nie met hom kan trou nie omdat sy hom nooit op dieselfde manier sal kan liefhê as wat hy vir haar is nie, berispe sy haarself en probeer dus so Gys se optrede regverdig.
Hulle het egter skaars plaasgeneem of hulle hoor donderende perdepote oor die werf klink en direk daarna kom Gys stil in, trek ‘n stoel onder die tafel uit en gaan sit.
Bes sien die tevrede trek om haar skoonpa se mond, maar voordat hy iets kan sê is sy aan die woord: “Laat ons bid …” Oom Robbie moet dus noodgedwonge sy nuuskierigheid in toom hou.
Onder Bes se waarskuwende blik na haar skoonpa en Willem, verloop die maal verder rustig. Nonanda is onverklaarbaar bly Gys het toe tog nie vir Bonita haar sin gegee nie, en meteens is sy sommer honger. Sy merk Gys en Willem is gesonde eters soos dit by werkende jong manne hoort.

Advertisements

2 responses »

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s