Deel twee van Nonanda se paradys

Standard

Dit word nou vinnig donker, merk Nonanda, en kort daarna gaan die helder ligte op die stoep aan en verlig die toneel rondom haar. Dit lyk of dit oorspronklik ‘n gewone oop stoep was wat agterna met glaspanele toegebou is om as ‘n sonstoep te dien. Oral staan tafeltjies waarop tydskryfte uitgestal is. Gemakstoele en twee banke vol kleurvolle kussings laat dit sommer lekker lyk om daar te sit en lees. Daar lê ‘n koerant op die een tafeltjie die naaste aan haar en sy trek dit half ingedagte nader.
Onwillekeurig vroetel sy die Snuffelgids tussen die ander dele van die koerant uit. Wanneer ‘n mens soveel jare saam met ‘n ouma soos ouma Emmie in ‘n losieshuis gewoon het, word dit by jou tweede natuur om eerste dié deel van die koerant by te dam. Ouma het gereeld daarin na winskopies vir die losieshuis gesoek. En sy het dit dan ook heel dikwels gekry, en elke keer was sy so opgewonde daaroor soos ‘n kind oor ‘n nuwe speelding. Seker daarom dat sy so ‘n geslaagte onderneming in die losieshuis gehad het. En nou is dit alles hare, dink Nonanda, en sy poog steeds om die losieshuis met net soveel vernuf as haar ouma te bestuur.
Sy glimlag sag. Haar ouma het haar goed geleer. Die losieshuis floreer en oom Doons wat vir so lank as wat sy maar kan onthou ook daar werk, is van groot hulp.
Haar oë dwaal vlugtig oor die snuffels en net toe sy by die vakante betrekkings kom, kom oom Robbie met hul koffie daar aan. Hy plaas die twee koppies koffie op die tafeltjie en gaan sit ook in een van die gemakstoele..
“Oorweeg jy dit dalk om iewers vir jou ‘n tydelike werkie gedurende die twee maande te probeer kry, Nonnie?” vra hy.
Verbasing flits momenteel oor haar gesig, maar dan sien sy waarna hy kyk: die koerant wat by die vakante betrekkings oop lê.
En dan vat ‘n wilde besluit in haar pos: waarom nie? Dis dalk net wat sy nodig het! Iets om tydelik van die losieshuis en alles wat dit omring, weg te breek, sal haar dalk nuwe insig in haar situasie gee.
“Dink Oom dat ‘n mens vir so ‘n kort tydperk iewers ‘n betrekking sal kan kry?” vra sy en die gretigheid lê meteens helder in haar albasterblink blou oë.
Oom Robbie se gelaatstrekke versag. Siestog, die arme kind lyk asof sy nou na enige strooihalm sal gryp om aan vas te klou. Hy wonder tog….
“Wel, miskien kan ek jou help om ‘n ou joppie te kry,” antwoord hy. “Dit wil sê, as jy daarvoor te vinde sal wees.”
“Regtig, Oom? Watse …e…joppie?” vra sy nuuskierig en meteens besef sy dat sy in die kort bestek van een aand haar hele lewe met ‘n vreemde ou omie bespreek het. Behalwe dat die omie sommer nou vir haar na eie familie begin voel!
“Ons, het ‘n voëlplaas in die omgewing van Lydenburg, Nonnie. Ons soek iemand wat elke dag al die hokke kan nagaan, wat kan toesien die werkers steek nie lyf weg by die hokke se skoonmaak nie – dat hulle die water gereeld vervang, kos en ook die voëls se nodige vitamines gee. Dan moet daar ook ‘n daaglikse verslag geskryf word oor die belangrikste gebeure. Jy weet, soos byvoorbeeld kleintjies wat uitbroei, of wanneer van die voëls doodgaan, ensovoorts.”
Nonanda het stil na hom geluister en nou is die opgewondenheid flikkerend in haar hart.
“Is… is oom Robbie nou ernstig? Dit klink mos alte heerlik, asof die werk merendeels in die buitelug moet geskied?”
Hy lag vir haar opgewonde stemtoon.
“Sien jy kans vir so iets, ou doggie?”
“Vir werk was ek nog nooit bang nie, Oom. Ek ken natuurlik nie die voëlsoorte se name nie, maar ek is bereid om te leer vir die rukkie wat ek daar sal woon,” antwoord sy gretig.
“En wat van Snuffie? Katte vang mos voëls of verskrik hulle, en dit kan ons nie toelaat nie,” sê oom Robbie en kyk afwagtend na haar terwyl ‘n ligte fronsie sy voorkop rimpel.
Nonanda lag oopmond terwyl sy vir Snuffie styf teen haar bors vasdruk en met haar vingers liefderyk deur sy pels vroetel.
“Snuffie pla nie voëls nie, Oom. Ouma het kanaries in ‘n hokkie gehad en twee papegaaie wat buite op die hokkie gesit het en Snuffie is geleer om nie met hulle te lol nie. Selfs die duifies wat buite op die grasperk rondgeloop het, het hy nie probeer vang nie. Solank hy sy kos, mandjie, sandbak en vir my het, is hy tevrede. So, wat sê Oom? Is die werk myne?”
Nou maak oom Robbie heftig keelskoon.
“Kindjie, ja, as ek nou by Gys kan verbykom…”
“Gys? Wie is dit?” vra sy haastig en haar laggie droog op.
“Dis nou my kleinseun, Gys Burger. Sien, die plaas is eintlik syne. Maar moet jou nie bekommer nie, ek sal hom nou gaan bel. Dan kan ons mos sommer môre met jou karretjie plaas toe ry en hoef ek nie met die verditste ou trein terug te ry nie.”
“Enige tyd, Oom. Maar sal Gys nie dalk iemand wil aanstel wat permanent daar sal kan werk nie?” vra sy en haar opgewondenheid is nou effens gedemp.
“Ag, hy hoef mos nou nie te weet dat dit net ‘n tydelike werkie vir jou is nie,” antwoord die oubaas en ‘n prettige kekkellaggie borrel oor sy lippe. “Drink jou koffie, ek gaan hom gou bel om te sê ek bring vir hom ‘n werker en dat hy nie verder hoef te soek nie, hoor. Ek kom nou weer,” sê hy en stap haastig terug die gebou in.

Die telefoon lui in die groot opstal van Voëlparadys en oom Robbie wag gretig dat iemand moet antwoord. Dis dan ook nie lank nie, toe word die gehoorstuk aan die anderant gelig.
“Voëlparadys, Willem wat praat.”
“Willempie, dis jou oupa hier, Gaan dit goed daar?”
“Oupa! Natuurlik gaan dit goed, maar waarom bel Oupa? Is daar iets verkeerd?” rammel hy dit af.
Oupa Robbie lag sag vir die kommer in sy jongste kleinseun se stem.
“Nee … nee, niks is fout nie. Sê my is Gys daar?”
“Nee, Oupa. Hy is saam met Bonita hier weg. Hulle het by van Bonita se vriende gaan vleis braai.”
Die ou man frons en die ontevredenheid slaan in sy stem deur toe hy weer praat.
“Jy weet, ek verstaan nie daardie ouboet van jou nie. Van ander meisies wil hy niks weet sedert Elize hom in die steek gelaat het nie, maar as Bonita Olivier haar vingers klap, dan maak hy net soos sy dit wil hê!”
Nou is dit Willem se beurt om te lag. “Ja, maar Oupa moet darem onthou dat Gys en Bonita so te sê saam grootgeword het. Hy sien seker maar net nie in haar ‘n bedreiging vir hom nie.”
“Gmf!” snork Robbie verontwaardig. “Ek sê jou, sy lê agter sy trek, en sy gaan hom nog inkatrol as sy lank genoeg aanhou.”
“Dit klink alteveel vir my asof Oupa nie daarvan sal hou as dit moet gebeur nie, of hoe?” vra hy met terg in sy vrolike stem.
“Wel, sy is nie die regte vrou vir hom nie. Sy is te lief vir plesier en buitendien, sy is ook nie juis baie fluks nie, is sy?”
“Wat! Dan gaan Oupa nou baie verbaas wees om te hoor dat sy vir Gys gevra het of sy die werk by die voëls kan kom doen – daardie pligte waarvoor hy deesdae nie meer genoeg tyd het nie.”
“Daar sal niks van kom nie!” sweepklap sy oupa se stem in sy oor sodat hy die gehoorstuk eintlik ‘n entjie weg van hom af hou. “Wat het Gys haar daarop geantwoord?”
“Toe maar, Oupa, moenie so ontsteld wees nie. Gys het gesê die werk is nie vir ‘n verfynde dametjie soos sy bedoel nie en hy het in elk geval reeds iemand anders aangestel.”
Oupa Robbie se skouers sak teleurgesteld. Ai, wat nou van Nonnietjie? Wat gaan hy nou aan haar sê, die arme ou dingetjie!
“Wie … wie het hy aangestel?” vra hy eindelik verslae.
Weer skaterlag Willem in sy oor. “Dis juis die probleem, Oupa – Gys het nog nie iemand gekry nie. Dit beteken dat hy ook nie kans gesien het vir Bonita se teenwoordigheid daar by sy voëls nie, anders sou hy haar nie so ‘n leuen vertel het nie.”
“O! Nou ja, dan is dit goed, sommer baie goed,” sug die oubaas nou verlig. “Sê aan hom dat ek gebel het. Hy hoef nie verder te soek nie. Ek bring vir hom iemand saam.”
“Sjoe! Hy sal verlig wees om dit te hoor, Oupa. Hy het juis nie geweet wat hy vir Bonita moet sê as hy teen Maandag nog niemand hier in diens geneem het nie. Daar het net drie mense op sy advertensie gereageer en hy was nie met een van hulle tevrede nie. Twee omdat hulle vroue was en die man wou ‘n te groot salaris hê. Wanner kan die man begin werk? En is hy tevrede met die salaris wat ons bereid is om te betaal?”
“Moet nie vir julle oor die salaris bekommer nie. Sy sal tevrede wees. En ek kom nie met die trein terug huis toe nie, ek ry sommer môre saam met haar.”
Daar heers ‘n kort oomblik lank stilte aan die anderkant.
“Oupa het ek reg gehoor? Het Oupa gesê dis ‘n … sy?”
“Jy het reg gehoor, Willempie. “n Vrou kan daardie werkies net so goed soos ‘n man doen en buitendien, Gys se advertensie het nie gelui dat dit nie ‘n vrou mag wees nie. Eintlik was hy dus onregverdig teenoor daardie ander twee ansoeke ,” antwoord sy oupa op die verdedigingspad.
“Alles goed en wel, Oupa, maar na aanleiding van wat hy aan Bonita gesê het, glo sy dat hy ‘n man aangestel het. So, wat gaan hy nou vir haar sê?”
“Jy hoef darem ook nie nou al te laat deurskemer dat die aanstelling ‘n meisie is nie, Willempie. Sê maar net vir hom dat ek iemand saam met my bring. As sy eers daar is, sal hy maar net moet aanvaar, want hy het nie tyd om iemand anders te soek nie … nie met Bonita op sy nek nie. Hy sal wel aan iets dink om vir Bonita te sê wat haar tevrede stel. Ons sien julle môre, hoor. Sê maar groete aan jou ma en vra haar om asseblief ‘n kamer vir die … e … persoon reg te kry.”
“Goed Oupa. Ek maak net soos Oupa sê, maar onthou, ék weet glad nie dis ‘n vroumens wat Oupa hierheen gaan bring nie. Ek weet net Oupa het iemand vir die werk gevind,” antwoord hy sameswerend voordat die verbinding verbreek word, en stap dan laggend weg.

“Ons ry môre, Nonnie,” sê oom Robbie toe hy terug by haar op die stoep is.
Sy spring op. “Regtig, Oom? Is die werk myne? Is Gys tevrede?” borrel die vrae opgewonde by haar mond uit.
“Wel, die saak is nou eintik ‘n bietjie gekompliseerd. Gys was nie tuis nie, toe het maar net die boodskap aan Willempie gegee.”
“Wie is Willempie, oom Robbie?”
“Dis Gys se jonger broer, “antwoord hy en vertel dan in breë trekke die trant van die telefoongesprek.
Haar oë rek. “Maar Gys gaan mos vir Oom die josie in wees. Ek bedoel, ek is dan ook ‘n meisiemens en watse verduideliking gaan hy aan Bonita gee? Wat doen ons as hy ‘n herrie opskop wanneer ons daar aankom en hy sien hoe die wind waai?” vra sy en haar kommer blyk duidelik uit die vinnige hale waarmee sy oor Snuffie se rug vryf.
Oom Robbie lag lekker en klik dan sy tong kopskuddend.
“Jô-jô-jô! So baie vrae, ou doggie! Nee wat, met die dat hy nou vir Bonita gelieg het oor die aangeleentheid, sal hy nie juis ‘n ander keurse hê as om by ons planne in te val nie.”
Nonanda sien die pret in oom Robbie se oë blink en dis werklik aansteeklik sodat sy die kommer laat links lê. Dit gaan tog net vir twee maande wees en wie is ou Gysie altemit dat hy nie die werk aan ‘n vrou wil gun nie. Boonop het sy vir oom Robbie aan haar kant.
“Hoeveel mense woon op die plaas, Oom? En wat is die plek se naam?” vra sy belangstellend en haar oë blink opnuut.
“Die plaas se naam is Voëlparadys. Behalwe ek, is dit net Gys, Willempie en hul moeder Bes wat daar woon. En natuurlik die werkers wat by die hokkie help.
Bes is my skoondogter wat met my enigste seun getroud was.”
“Oom … praat asof hulle nie meer getroud is nie. Wat het dan gebeur? “ vra sy nou simpatiek, huiwerig asof sy kan aanvoel dat sy nou aan hartseersnare raak.
“Leendert – dit was my seun se naam – het twee jaar gelede ‘n hartaanval gehad. Hy is sommer so skielik dood.”
“Ek is werklik jammer om dit te hoor, Oom,” sê sy sag en verander dan dadelik die gesprek. “Wat doen julle almal alles op die plaas?”
“Gys het in die voëlkunde, of soos die grênd mense sal sê, ornitologie, gestudeer om sodoende darem eendag te weet wat hy doen wanneer hy die plaas by my moes oorneem. So nou en dan gaan hy vlaktes of berge in om voëls te gaan dophou in hul natuurlike habitat. Dan maak hy aantekeninge en neem talle foto’s. Op hierdie manier het hy alreeds twee baie geslaagde boeke oor voëls geskryf. Hy is met ‘n derde een besig. Daarom het hy nie meer die tyd om die werkies te doen wat jy nou gaan doen nie.”
“Dit klink darem werklik interressant, Oom. Hy geniet dit seker ontsettend baie,” sê Nonanda duidelik beïndruk.
“Ja, hy leef absoluut vir die natuur en is baie erg oor die voëls. Daarom sal hy nooit in ‘n stad aard nie. Nou ja, Willempie bestuur die plaas vir Gys. Hy sorg dat die aankope van die kos gedoen word en help met herstelwerk waar nodig. Bes behartig die huishouding en ek sit by die hek om die toegangsgeld van die toeriste te ontvang,” eindig hy sy vertelling.
“O? Ek het nie geweet dat julle toeriste ook daar toelaat nie,” sê Nonanda geïntereseerd.
“Ja, ou doggie! Dis mos maar die eintlike doel van die plaas. Jy sal jou verbaas oor hoe baie geld mense betaal om die voëls te kan besigtig. Die toegangsgeld besorg ons nogal ‘n aardige bedraggie per jaar. Dit dek al die onkostes wat met die voëls verband hou en dan maak ons nog ‘n baie goeie wins ook.”
“Het julle nooit probleme met die besoekers nie? Soos byvoorbeeld dat julle die voëls wat broei, hinder nie?”
“Nee, Nonnie. Sien, die broeipare word in aparte hokke aangehou en daar word geen besoekers toegelaat nie. Net die jong voëls en dié wat nie meer broei nie, mag besigtig word. Oor die algemeen het ons ondervind die mense wat bereid is om ons hoë toegangsgeld te betaal, almal voëlliefhebbers is en hulle mooi rustig by die hokke gedra.”
“Maar dan moet julle mos geweldig baie hokke hê. Ek bedoel, as die broeipare apart aangehou word.”
Oom Robbie gee ‘n lekker kekkellaggie. Dis vir hom duidelik dat hy nou al Nonanda se aandag by die voëls het en sy al sy vertellery soos ‘n dorstige woestynblom indrink. Dit laat hom goed voel en hy stoot sy bors uit in die wete dat hy vandag iemand se beswaarde gemoed kon laat beter voel.
“Ja, ou doggie, maar jy moet nou nie staan en skrik en dink jy gaan jou dood werk nie, hoor. As jy eers alles daar ken en jou pligte verstaan, sal jy sien dis eintlik baie lekker.”
“Vir werk het ek nog nooit teruggedeins nie, oom Robbie. Dit hou ‘n mens ten minste besig en gee jou gedagtes minder kans om aan jou siel te knaag,” sê sy nou ernstig.
“Dink jy jy sal na twee maande van skeiding werklik weet wat om aan Martin te sê om jou negatiewe antwoord aan hom meer sagkens te stel? Of kan dit dalk wees dat jy gedurende hierdie tydperk sal besef jy het hom tog in werklikheid lief en maar met hom wil trou?” vra die oubaas sag.
“Ai, Oom. Hierdie kwelling lê my baie na aan die hart. Voorlopig verkies ek om liefs nie daaraan te dink nie en maar net eers die dae te laat verbygaan. Dit kan dalk so wees dat ek nie regtig my eie hart ken nie, maar ek twyfel sterk daaraan. En hierdie tyd van skeiding sal hopelik die sekerheid daaroor bring. Oom moet maar gedurig aan my in Oom se gebede dink, sal Oom?” vra sy en nou is haar mooi oë kinderlik op hom gerig.
Wat ‘n dierbare kind, dink hy aangedaan en moet hard keelskoonmaak voordat hy sy ou stembande genoeg vetrou om weer te praat.
Natuurlik, Nonnie, Natuurlik, ou doggie. Ek weet natuurlik nou nie hoe ‘n vinnige bestuurder jy is nie, maar as ons twee môre baie vroeg in die pad val, behoort ons teen aandete se kant by Voëlparadys te wees. Dis nou te sê as ons by die spoedreëls hou. Of as jy ‘n bietjie aanstoot, miskien nog voor dit,” verander hy die trant van hul gesprek. “Daarom dink ek ons albei moet nou maar gaan inkruip,” vervolg hy en stap aan deur se kant toe.
“Ek is maar ‘n bang ou om die spoedreëls te oortree, Oom,” glimlag sy en wens hom dan ‘n geruste nag toe voordat sy ook in haar kamer se rigting wegstap.
Nonanda is egter so opgewonde soos ‘n kind oor ‘n nuwe speelding toe sy eindelik alleen in haar kamer is. Soos iemand wat besluiteloos is, draai sy doelloos in die kamer rond sonder om werklik iets te doen, haar gedagtes aan die tol soos die groot wiel by ‘n mallemeule.
Om te dink dat sy nog altyd die begeerte gehad het om op ‘n plaas te woon, en hier gaan sy nou die gulde geleentheid gegun word om twee maande lank op een te woon en te werk.
Toe sy egter eindelik onder die komberse lê, is dit Martin se gesig wat aanhoudend voor haar spook en haar opgewonde vooruitsigte in die wiele ry.
Wat moet sy doen as sy na hierdie komende twee maande nog besluiteloos oor sy huweliksaansoek is? Moet sy vir hom nee sê en steeds haar droom nastreef, of moet sy maar vergeet van haar droomman en met Martin trou? Sy skud haar kop in die donkerte. Nee, sy weet nie of sy dit sal kan doen nie, en sy byt haar onderlip onseker vas terwyl sy nikssiende deurdie venster na die sterre staar.
Soos die nag aanstap, wyk haar bekommernis oor haar toekoms egter weer voor ‘n hernieude aanslag van opgewondenheid oor die dag van môre, en dis eers teen drie-uur die nag dat die slaap haar oorval.

Advertisements

One response »

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s