Deel een van Nonanda se paradys

Standard

Nonanda Muller is moeg, want sy het al vandag baie kilometers gery. Toe sy vanoggend in haar motor geklim het, het sy geen bestemming in gedagte gehad nie, en sy weet nou nog nie waarheen sy op pad is nie.
Alles het begin to Martin Theron sy huweliksaansoek aan haar gerig het. Martin wat saam haar grootgeword het, Martin wat sy soos ‘n broer ken, vertrou en liefhet, Martin wat haar bygestaan het wanneer sy vertroosting nodig gehad het en in haar vreugdes gedeel het.
Maar sedert sy heimlik met haar jongmeisiedrome begin het, koester sy ‘n spesiale soort liefde in haar hart wat hunkerend lê en wag om deur die regte man ontdek te word. En sy is lankal daarvan bewus dat daardie man gewis nie Martin is nie.
Dié wete het haar seergemaak, want sy het aangevoel dat Martin haar met erns die hof wil begin maak. Daarom het sy geweet sy moet hom die een of ander tyd sê sy voel nie dieselfde jeens hom nie. Sy het eenvoudig nie geweet sy huweliksaansoek sal so bitter gou al kom nie.
Sy was nog nie gereed om die seer in sy oë te sien nie. Sy kon dit nie regkry om vir hom eenvoudig reguit nee te sê nie. Sy het gesê sy sal daaroor nadink en hom oor twee maande haar antwoord gee. In daardie tyd wil sy gaan rondreis, het sy verduidelik, sodat hy nie in haar nabyheid is om haar besluit te beïnvloed nie.
Haar hart het seer gebrand toe hy dit maar gelate aanvaar het. Hy het haar selfs help inpak en vroeg vanoggend was hy by die losieshuis om haar te groet. Hy het haar styf teen hom vasgedruk asof hy haar nie regtig wou laat gaan nie, maar toe het hy haar teer op haar lippe gesoen en die motor se deur vir haar oopgemaak.
‘n Verweerde naambordjie kom in sig, en omdat Nonanda besef sy moet iewers vir die komende nag slaapplek kry, ry sy stadiger. Die naam op die bordjie is halfpad onleesbaar, maar sy kan darem sien dat dit een of ander baai is.
Nonanda ry van die teerpad af en kruie dan stadig aan met ‘n hobbelrige grondpaadjie wat deur digte rooipitjiebome kronkel. Dit lyk vir haar asof die bome die enigste plantegroei in die omgewing is. ‘n Entjie verder begin sandduine kop uitsteek en sy kry die vars reuk van bamboes en sout seewater.
Sommer so skielik duik ‘n klein baaitjie voor haar op. Onwillekeurig sluit sy die motor se enjin af. Van die bultjie af staar sy na die klein nedersettinkie by die see. Alles lyk so rustig daar onder.
‘n Wrang glimlaggie speel om haar lippe, want dis juis daardie rustigheid wat haar opnuut laat besef hoe tam sy meteens voel. Sy vryf met haar vingers oor haar blou oë en trek haar vingers argeloos deur haar bruin, krullerige haredos wat soos n portretraam om haar skraal gesig hang. ‘n Afgematte sug ontsnap oor haar lippe en skielik voel sy nie die twee en twintig somers wat sy agter die rug het nie. Eerder asof dit dertig is!
‘n Sagte miaau maak haar bewus van haar groot kat, Snuffie, wat in die mandjie op die sitplek langs haar lê. Sy steek haar hand uit en streel sag oor die kat se wollerige, sagte pels. Sy kon dit net nie oor haar hart kry om Snuffie agter te laat nie.
Die gekras van seemeeue hoog bo in die lug laat die lewe na haar stram ledemate terugkeer. Sy sluit die motor weer aan en ry die laaste entjie tot by die enigste, groterig gebou waarop die woorde Elsie se Losieshuis in vrolike pienk letters skuins teen die muur aangebring is.
“Ja, Juffrou, hier is baie plek,” sê die ou dame agter die toonbank. “Dié tyd van die jaar is die besoekers maar min. Tot wanneer gaan jy hier bly?” vra sy vriendelik, belangstellend.
“Ek gaan weer môre vertrek, Mevrou. Baie dankie vir die kamer,” antwoord Nonanda sag en neem die sleutel van die kamer. Sy is reeds ‘n entjie weg toe die vrou weer praat.
“Ek sien jy het ‘n kat by jou, Juffrou, Eintlik laat ons nie troeteldiere hier toe nie, maar as jy my kan belowe jy sal sorg dat die diertjie nie in die kamer mors of iets beskadig nie, dan sal ek dié keer ‘n uitsondering maak.”
“Ek belowe, Mevrou. Snuffie is nie ‘n morsige en vernielsugtige kat nie,” sê Nonanda dankbaar en verdwyn om die hoek in die gang.
“Noem my tog asseblief sommer Tante, kind. Ons is nie so formeel hier rond nie,” kom die stem nog agter haar aangerol en ‘n fyn glimlaggie bereik Nonanda se mondhoeke.
Die bord kos wat die tante heelwat later voor haar neersit, is gewone boerekos, niks eksoties nie. Presies net soos sy daarvan hou. Tog is dit asof sy te moeg voel om die heerlike kos werklik te geniet en waardeer. Sy eet darem net genoeg sodat die ou dame nie geaffronteer moet voel nie.
Nonanda sluk egter vinnige, maar klein slukkies van die koppie warm koffie wat vir haar geskink word. Toe die koppie leeg is, skink die tante dit weer vol voordat sy stil-stil verdwyn.
Dis nog redelik lig toe Nonanda later langs die see gaan stap. Snuffie draf uitgelate met haar saam. Toe sy die eerste hoë rotse nader, soek sy ‘n beskutte plekkie uit en gaan sit. Snuffie skuur teen haar en krul hom dan in ‘n ronde hopie op haar skoot op terwyl hy gelukkig spin en met sy voorpote kniebewegings teen haar liggaam maak.
Mymerend staar sy na die branders wat wit en skuimend aangerol kom asof hulle iets jaag, en dan weer suinig deur die groot oseaan teruggetrek word. Ontstuimig, rusteloos, en tog werk dit mettertyd rustig op haar gemoed in. Sy leun terug met haar kop teen die rots agter haar en sluit haar oë.
Verskrik vlieg haar oë enkele oomblikke later weer oop toe die geknars van skoensole op die gruis agter haar opklink. Sy staan haastig op om die hasepad te kies, maar dan word sy deur die stem van ‘n man gekeer.
“Nee, nee, dametjie. Ek wil jou nie verjaag nie. Sit gerus en geniet die rustigheid van die ou strandjie. Dis toevallig maar net die plek waar ek die graagste saans my lyn kom natmaak,” sê hy en beduie gerusstellend na sy visgereedskap.
Voor haar staan ‘n skraal ou oompie met ‘n vissak wat te groot lyk vir hom om te dra. Sy weet insuïtief sy het niks van hom te vrees nie.
“Ek is oom Robbie Burger, en vanaand is my laaste aand hier. Môre gaan ek weer terug huis toe,” gesels die oom rustig asof hy dit glad nie snaaks vind dat sy nog geen word geuiter het nie.
Nonanda maak keel skoon en hou vir Snuffie styf teen haar bors vas.
“Aangename kennis, Oom. Ek is Nonanda Muller,” antwoord sy dan vriendelik.
“Nonanda is ‘n alte pragtige naam, maar darem te lank vir jou ou oom. Ek sal jou sommer Nonnie noem. Aangename kennis, Nonnie. Jy lyk nogal moeg, ou dogter. Het jy ver gery of is jy dalk siekerig?”
“Nee, ek is nie siek nie, Oom. Ek het wel ver gery en so ‘n ryery maak ‘n mens nogal pootuit.”
“Ken jy die baai, Nonnie? Of wat het jou laat besluit om juis hierheen te kom?” vra oom Robbie belangstellend en vroetel met sy visgereedskap.
“Nee, oom Robbie, ek ken nie die plek nie. Ek moes slaapplek vir die nag kry en dié was maar net die eerste plek wat opgeduik het nadat ek besef het ek is te moeg om verder te ry,” antwoord sy en gaan weer op haar plek sit.
“Daarvan lei ek af jy het nie hier kom vakansie hou nie, maar dat jy weer môre verder gaan ry. Het ek reg?” vra die oom geselserig.
“Ja, Oom,” antwoord sy stil en hoop hy gaan nie vra waarheen sy op pad is nie. Sy weet dan self nie.
Oom Robbie se ou oë dwaal na haar kat toe. “Dis ‘n bevoorregte kat wat so saam met sy ounooi kan rondry,” terg hy. “Wat is sy naam?”
“Sy naam is Snuffie. Ek het hom by my ouma gekry en ons is baie geheg aan mekaar,” glimlag Nonanda.
“Kon Snuffie nie maar by jou ouma gebly het nie, Nonnie? Ek bedoel, dis seker soms ongemaklik of lastig om so oral met ‘n kat te gaan, of hoe?”
“My ouma leef nie meer nie, Oom,” antwoord sy stil.
“Ek is jammer om dit te hoor. Was jy baie lief vir haar?”
“Ja, Oom. Ek was maar net vyf jaar oud toe albei my ouers verongeluk het, en ouma Emmie het my verder grootgemaak. Ek was haar enigste kleinkind.”
Oom Robbie hoor die hartseer in haar stem. Hy anker sy visstok en kom maak hom langs haar op die rotse tuis. Hy betrag haar skraal gesiggie en sy oumensoë sien benewens die hartseer ook ‘n ongelukkigheid daar raak.
“Vertel my van jou ouma Emmie, Nonnie. Dit wil mos vir my klink asof sy ‘n merkwaardige mens kon gewees om so op eie houtjie ‘n vyfjarige dogtertjie die lewe in te lei,” sê hy sag.
Die opregte belangstelling wat uit oom Robbie se oë straal, gryp haar aan die hart en hy laat haar aan oom Doons Swart dink. Oom Doons wat al amper vir haar ‘n tweede pa geword het. Oom Doons wat nou vir die volgende twee maande haar na die losieshuis se belange sal omsien.
“Ouma Emmie was ‘n dierbare ou mensie, en almal in haar losieshuis was vir haar lief. Ek het later soos haar eie kind gevoel en nie soos ‘n kleinkind nie. Ek het ook daar bly woon nadat ek al begin werk het. Maar toe het Ouma baie siek geword. Sy het kanker gehad en sy wou nie na ‘n hospitaal toe gaan nie. Ek het uit my werk bedank om haar te kon versorg en na die losieshuis se bestuur om te sien. Dit was vir my ‘n groot eer om dit te kon doen in ruil vir wat Ouma al die jare vir my gedoen het. En toe op ‘n dag was sy eenvoudig nie meer daar nie.”
Oom Robbie het intussen ‘n kromsteelpyp uit sy baadjie se binnesak gehaal en die tabak in die pyp se kop aan die brand gesteek. Hy trek nou diep trekke daaraan om seker te maak dat dit goed brand voordat hy weer na haar kyk.
“Was sy al familie wat jy gehad het, Nonnie?”
“Ja, oom Robbie. Daarom is die losieshuis vandag myne. Verder is daar darem goeie vriende wat ons bygestaan het. Veral Martin Theron was van onskatbare hulp. Hy was maar altyd daar wanneer ons hom nodig gehad het,” vertel sy en toe sy sy naam noem, is sy onmiddellik weer met weemoed vervul.
Nonanda laat haar kop sak, vroetel met haar vingers op Snuffie se pels rond terwyl sy voel hoe die trane agter haar ooglede brand. Waarom, o waarom kan sy dan nie vir Martin net so lief wees soos jy vir haar is nie?
“En nou, Nonnie? Jy is hartseer en ek kan sommer sien dit het iets met die Martin te doen. Wil jy jou ou oom daarvan ook vertel?” vra hy en sy ou stem is hees van aandoening toe hy haar verwese gesig kyk.
“Ai, Oom. Ek wil mos nou nie Oom se laaste aand hier met my treurmares staan en bederf nie,” protesteer sy sag, maar hy waai haar beswaar met ‘n handgebaar weg.
“Ek was nog altyd ‘n goeie luisteraar, ou dogter, en dalk bring dit verligting vir jou gemoed as jy daaroor praat,” sê hy en begin dan die ou as uit sy kromsteelpyp se kop krap om dit weer met vars tabak te stop.
Snuffie klim van Nonanda se skoot af, rek hom uit en kom ruik aan oom Robbie. Dan skuur hy lieftallig teen die ou man se been voordat hy ‘n entjie van hulle af wegstap om vir hom ‘n toilet in die sagte sand te krap.
Nonanda kyk net vlugtig na oom Robbie, dan rig sy haar blik ver oor die wye oseaan voordat sy begin vertel.
“Martin is die seun van Ouma se bure. Ons het van kleins af saam skoolgegaan en gespeel. Ons het selfs later jare by dieselfde firma gaan werk en so ons vriendskap voortgesit. Toe ek my werk bedank het om Ouma te versorg, was Martin steeds ‘n gereelde besoeker. Soms het ek baie swaar op hom geleun, maar hy was nooit onwillig om te help nie.”
Nonanda bly ‘n oomblikkie lank stil en sluk aan die groot knop wat maar nie uit haar keel wil wyk nie. Oom Robbie sit rustig en wag dat sy moet voortgaan, want hy weet dat sy nog nie klaar gepraat het nie.
“En nou wil Martin met my trou, Oom,” kom haar volgende woorde hees.
“En jy is daaroor hartseer, Nonnie? Hoekom dan?”
“Ek is baie lief vir hom, oom Robbie, maar dis nie die liefde wat ‘n vrou teenoor haar man moet hê nie. Ek weet hy sal eendag ‘n baie goeie man vir die regte vrou wees, maar daardie vrou is nie ek nie, Oom!”
‘n Teer uitdrukking vee oor die ou gelaatstrekke.
“Het jy … hom gesê jy wil nie met hom trou nie?” vra hy huiwering.
“Nee …nee, Oom! Ek het gesê ek sal hom oor twee maande my antwoord gee. Maar intussen wil ek nie naby hom wees nie, want ek is bang dat ek dalk sommer sal instem as ek nie langer weet hoe om die onderwerp te vermy wanneer ons bymekaar is nie.”
“Ek verstaan, Nonnie, maar gaan jy dan die hele twee maande lank so rigtingloos sommer net rondswerf? Of is jy op pad na ‘n spesifieke plek?”
“Ek het vanoggend nie geweet nie, Oom, en ek weet nou nog nie. Ek sal maar môre kyk waarheen die pad my lei,” antwoord sy en staan op toe hy sy visgereedskap begin bymekaarmaak.
“Maar is dit dan nie baie gevaarlik vir ‘n jong meisie om alleen so rond te ry nie? Ek meen, ‘n mens hoor deesdae van sulke allerverskriklike dinge wat alleenreisende meisies tref.”
“Ek is darem altyd versigtig, Oom. Ek het my pistool ook by my en ek sal dit kan gebruik indien dit nodig word,” antwoord sy en glimlag sag toe sy die kommer in die oubaas se stem hoor. Oom Doons het dieselfde kommer uitgespreek.
“Gaan jy en Martin geensins met mekaar in verbinding tree in dié tydperk nie?” vra hy weer.
Nonanda tel vir Snuffie op en begin saam met oom Robbie in die rigting van die losieshuis stap.
“Daarvan wou hy niks weet nie, Oom. Hy het my laat belowe dat ek gereeld aan hom sal skryf sodat hy darm altyd kan weet waar ek my bevind en dat alles nog met my goed gaan.”
“Hy klink nie vir my na ‘n slegte kêrel nie, ou dogter. Is jy seker hy is nie die man vir jou nie?”
“Hy is ‘n goeie man, Oom. Daaraan het ek nog nooit vir een oomblik lank getwyfel nie. Maar hy is soos ‘n wonderlike broer vir my, en daarom weet ek ek hou hom eintlik onnodig en onregverdig aan ‘n lyntjie. Maar ek was tot en met vanoggend nog nie gereed om dit aan hom te sê nie. Is ek dan ‘n lafaard, Oom?”
Hy glimlag sag. “Nee…nee, ou doggie. Jou hart is maar net baie sag en baie klein en vol jammerte en meegevoel vir jou medemens.” Antwoord hy. “Kom, sit so ‘n biejtie hier op die stoep. Ek gaan vir ons koffie haal,” sê hy toe hulle die losieshuis bereik.
Nonanda gaan sit en kyk die oubaas dankbaar agterna. Hy het tog reg gehad. Al is sy nog nie nader aan ‘n oplossing nie, voel sy al beter nadat sy met hom gesels het. Sy kon seker maar met oom Doons ook so openlik gesels het, maar omdat hy maar altyd deel van haar , Martin en Ouma se lewe was, was sy bevrees hy sou nie verstaan nie.
Oom Doons weet wel waarom sy vir die twee maande lank weggaan, maar hy het nie veel komentaar daaroor gelewer nie. Dalk het sy maar net nie genoeg met hom gepraat nie, nie genoeg verduidelik soos sy nou met oom Robbie gedoen het nie. Diep in haar hart glo sy sy was bang oom Doons sou haar vir ‘n lafaard ansien. Maar as die vreemde oubaas kon verstaan hoe die vurk nou eintlik in die hef steek, behoort oom Doons ook te verstaan. Die punt is net, oom Doons is vir Martin net so lief soos hy vir haar is en oom Robbie ken nog nie vir Martin nie.
Sy knik ingedagte. Ja, dis wat die verskil maak. Oom Robbie kry haar jammer omdat hy haar in die kort aand in ‘n mate leer ken het, en sy haar hele hartseer aan hom blootgelê het, maar gaan sy opinie oor die saak nog dieselfde wees wanneer hy miskien vir Martin leer ken en sien watter dierbare man hy is? Sy wonder!

Advertisements

4 responses »

  1. Dankie Rika dit is heerlik ontspannend om jou verhale te lees ek verdiep my soms so in die boeke dat hoor en sien vergaan doen so voort. 🙂

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s