Proestukkie uit Vure van Onheil

Standard

“Nardus! Ek… ek bad net gou klaar. Is… is Bridget weg?” vra sy en sak diep onder die skuimwater weg, kry dan effens lag vir haarself, want Nardus kan haar tog nie sien nie.
“Ekskuus, ek het nie geweet jy bad nie. Ja, sy is weg.”
“Ek sal gou maak en dan sal ek jou help om te was,” sê sy en wag dat hy moet loop, maar hy bly staan.
“As jy my gaan bad, is dit niks minder as reg dat ek jou help bad nie,” sê hy en sy verkyk haar aan die plaerige glimlaggie wat aan sy lippe pluk.
“Jy… jy is laf… hoe kan jy my help?” vra sy verleë en sit nou orent in die bad.
“Moet ek jou wys?” vra hy en kom nader geskuifel totdat sy voete teen die bad vassteek. Hy sak op sy hurke af en voel-voel beweeg sy regterhand oor die bad se rand totdat hy ‘n waslappie raakvat. Dan beweeg sy hand en die lappie deur die skuimwater tot by haar skouers waar hy sag daarmee oor haar skouers en nek was.
Maryna sit soos ‘n versteende stok. Sy voel hoe die waslappie uit sy hande gly en teen haar lyf af in die water beland. Tog hou die streling van sy hand oor haar naakte skouers nie op nie. Sy hand beweeg onder haar ken in, gly sag na bo waar hy oor haar lippe streel en dan weer teen haar nek af. By die gleufie tussen haar borste huiwer sy vingers en Maryna hou haar asem op. Kan die man dan regtig nie besef wat sy aanraking aan haar doen nie! Waarom doen hy dit in elk geval as hy dan planne met Bridget het, wonder sy beneweld en sluit haar oë in afwagting, maar skielik is sy hand nie meer teen haar nie en sy maak haar oë oop. Hy is besig om op te staan.
“Jou water word koud. Jy moet seker uitklim,” sê hy hees en skuifel sy weg uit die badkamer uit.
Etlike sekondes lank sit sy nog so doodstil terwyl onvervulde hunkerings steeds deur haar stroom. Dan klim sy haastig uit en droog haar af. Sy trek haar nagklere en japon aan en stap uit. Sy kry hom in die sitkamer.
“Ek is klaar. Hoe wil jy was? in die bad of in die stort?” vra sy.
“Die bad sal seker die maklikste wees so met die gipsarm en al. Moet net nie te veel water intap nie. En ek sal myself was. Jy kan net die water intap en my wys waar jy die handdoek sit.”
“Jy sal te veel sukkel met die een hand. Ek sal jou help. Ek gaan die water intap,” sê sy en stap weg. Sy wonder self hoe sy sy naaktheid gaan hanteer aangesien hulle nog nooit so intiem by mekaar was nie.
Met die water ingetap en Nardus tot in die badkamer gebring, begin sy om sy hempsknope los te maak en trek sy hemp uit. Sy maak ook sy denimbroek se knoop en rits los en trek dit ook uit.
“Jy… kan maar net so met… met jou onderbroek in die water klim as… as jy wil,” stamel sy.
“Waarom? Is jy skaam vir my, Maryntjies? Ons is nog getroud, jy weet, nè?” sê hy sag met steeds ‘n terglaggie om sy lippe.
“Ek… weet, maar jy weet ook… aag toemaar,” sê sy en met een haal trek sy die onderbroek af na sy voete toe waar hy dit uitskop. “Klim in die bad in,” beveel sy terwyl haar oë oor sy gespierde lyf feesvier. Sy sal hom bad… oral en dan sien hoe hy dit hanteer aangesien hy duidelik nou besig is om haar siel te versondig. Hy is nie meer lief vir haar nie, maar hy sien nog kans om haar te terg!
Die moedswillige glimlaggie om sy mondhoeke ontgaan haar nie toe hy eers etlike sekondes lank doodstil staan en dan voel-voel in die bad klim. Op hierdie oomblik is Maryna bly dat hy haar nie kon sien nie, want sy weet dat sy nou bloedrooi in die gesig moet wees. Sy kniel langs die bad, neem ‘n waslap en smeer hom goed seep. Sy begin oor sy skouers en rug was waarna sy omskuif na sy bors en nek.
Maryna spoel die waslap uit, smeer van vooraf seep, wil dan sy bene oplig om te was, maar hy gryp haar hand vas, en dan sien sy hoe hy skud van die lag.
“Vir wat lag jy?” vra sy sommer half vies, want sy weet hy lag vir haar.
“Jou hand bewe soos ‘n diertjie wat koud kry, Maryntjies. Gee die waslap dat ek myself was. Genugtig, ek kan nie sien nie, maar my een hand makeer niks. Dan gaan roep jy vir Wessel en stuur hom hierheen… hy kan my uit die bad uithelp, aantrek en kamer toe help.”
“H’m… ek wonder wie trek nou kleinkoppie,” sê sy tergend, maar vlug dankbaar by die badkamer uit asof ‘n leeu haar jaag, maar hoor sy tergende lag agter haar aangeswewe kom.

Advertisements

2 responses »

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s