Hartverskeurende verhaal

Standard

Marna (skuilnaam) was heeltemal bereid om vir my haar verhaal te vertel en het ingestem dat ek dit op my blog plaas, maar vir die publisiteit het sy nie kans gesien nie. Dus, “Marna” is ‘n skuilnaam.Haar verhaal het my hart laat pyn, want al weet ek die lewe is wreed, en het ek al baie soortgelyke stories gehoor, was die rouheid in haar stem vir my amper net te veel. Ek het haar vertelling op band opgeneem, en hierdie is haar verhaal:
“Ek was van vroeë ouderdom nie net deur my pa gemolesteer nie, maar ook deur my broer en sy vriend. My pa was eerste, en hy het my goed laat verstaan dat daar niks mee verkeerd is nie, maar dat Mamma nie sal verstaan nie. Dus, ek moet haar nie vertel nie. Toe my broer en sy vriend dus ook nader staan, het ek aanvaar daar is ook maar niks mee verkeerd nie. Al het my liggaam op verskeie wyses geprotesteer, het ek myself steeds kliphard oortuig dat alles oukei is. Tog, hoe ouer ek geword het, hoe meer het die onsekerhede aan my gevreet. Ek het op die internet gelees van soortgelyke stories en al was ek so onder Pa-hulle se invloed, het ek geleidelik besef wat die wrede werklikheid is. Ek wou met Ma praat, maar ek het net eenvoudig geweet sy sal stukkend voel, en sy sal Pa en my broer haat. Ek wou nie die oorsaak van ‘n opgebreekte familie wees nie, al was ek die lydende een.
Toe Pa weer kom, het ek geweier dat hy aan my raak, en ek het hom vertel dis verkeerd, dat ek weet dat dit molestasie is, dat ek hom glad nie meer glo nie. In sy oë het ek gesien dat hy woedend is, en ek het die hou amper gevoel nog voor hy geslaan het. My mond en neus het gebloei en ek het soos ‘n baba gehuil toe hy by my kamer uitstap.
Hy het nie weer gekom nie, maar my as sy dogter totaal ignoreer. Ek het dieselfd vir my broer en sy vriend gesê, en waar Pa kwaad geword het, het hulle my spottend uitgelag en gesê hulle het gewonder vir hoe lank ek nog so naïef so bly glo dis al’s okei. Ek het so vuil en verneder gevoel, maar die molestasies het opgehou. Iets anders het egter verander. Ma het stug geraak en al het sy nooit iets gesê nie, het ek teleurstelling in haar oë gesien elke keer wanneer sy na my gekyk het.
Daardie aand staan Pa toe weer in my deur, maar kom nie nader nie. Hy het gesê: “Toe, nou is jy op jou eie. Niemand in hierdie huis het jou meer lief nie. Jy is vir ons ‘n las en teleurstelling.”
En ek het geweet: Hy moes ma gemanipuleer en beïnvloed het met een of ander nare storie. En ek hét alleen en sonder liefde gevoel.
Dit het so aangegaan totdat ek hoërskool toe is. Ek het ‘n seun ontmoet van wie ek baie gehou het. Ek het hom genoeg vertrou om met hom hieroor te gesels. Hy was geskok en wou dadelik my na my ma toe neem dat ek haar kan vertel. Ek het hom gesmeek om dit nie te doen nie. Dit is oor en verby en ek wil dit net vergeet.
Dit blyk toe dat hy ook maar niks anders as hulle is nie. Hy wou seks hê. Kamma om my te wys hoe teer die daad kan wees sodat ek dit ook wil hê. Ek wat lankal nie meer toegeneëntheid tuis kry nie, het geval vir sy storie. Toe hy met my klaar was, het hy opgestaan, aangetrek en na my gekyk en smalend gesê: “Jy is ‘n slet, geen wonder jou mense het niks daarvan gedink om met jou te maak nes hulle wil nie.”
Ook hy het uit my lewe gestap, maar… my swanger agtergelaat. Dit het ek na net bietjie meer as ‘n maand uitgevind. My lewe was ‘n gemors, van kleins af en hierdie was vir my op my jong ouderdom die laaste strooi. Ek wou nie meer leef nie. Ek het Ma se slaappille gesteel en die hele houer vol gedrink voor ek in my bed gaan lê het.
Ek het in die hospitaal wakker geword. Ma het my gekry en die ambulans laat kom. Hulle kon my red, maar ek het ‘n miskraam gehad. Daar in die hospitaal het Ma langs my gesit, reguit na my gekyk en gevra: “Hoekom… vertel my net hoekom?”
Die sluise het oopgegaan. Ek het haar alles van dag een af vertel. Halfpad deur het sy begin huil, en ek het saam met haar gehuil. Ma het my geglo, want sy het maar altyd getwyfel in die stories wat Pa haar vertel het oor my “rondlopery” tussen die seuns.
Die uiteinde van die storie was: Ma het van Pa geskei en ek en Ma het na ‘n ander provinsie toe getrek waar ek van vooraf my hoërskoolloopbaan hervat het. Ek is vandag ‘n gelukkig getroude vrou met twee dogtertjies. Ma is twee jaar gelede aan kanker oorlede, en ek het Pa en my broer nog nooit weer gesien nie. Vergewe en vergeet? Te danke aan Ma en die Here wat sy in my lewe gebring het, het ek darem sover gekom om te vergewe, maar of ek ooit eendag alles sal kan vergeet… werklik vergeet… net die tyd sal leer.”

Advertisements

7 responses »

  1. Sy het die dag toe ek daar weg is vir my gesê: Ek het dit nie vir jou vertel om publisiteit te kry nie – wie wil nou publisiteit oor sulke vernederings hê? Tog hoop ek daar is meisies wat iets hieruit kan leer en as so iets met hul gebeur, hul nie sal skroom om daaroor te praat nie.
    Ek het haar belowe ek sal elke kommentaar wat ek hieroor kry, vir haar e-pos sodat sy kan sien haar braafheid beteken wel iets vir iemand.

  2. Dit bly steeds vir my ongehoord dat mens soiets aan jou eie kind kan doen (of enige ander kind) My oorlede man het altyd gesê dat hy geen onderskeid tref tussen ons kinders nie. Hy het hulle as één geslag beleef. Kon alle mans nie maar so wees nie?

  3. Ai, die wêreld is soooo verskriklik wreed! Ons lewe so dat ander nie ons eie seerkry in die binnekamers van ons huise kan sien nie. Maskers is waaragter ons skuil, omdat dit so ‘hoort’. ‘n Pa gebruik sy eie wellus om sy dogter vir die res van haar lewe geestelik gestremd te laat!
    Marna, jy is so ‘n brawe mens om dit met ons te deel. Baie dankie! Dankie ook aan ons Hemelse Vader dat jy jou moeder se liefde kon behou! Baie sterkte vir jou! Mag jy op ‘n dag die Here se volmaakte vrede beleef en die deur finaal toemaak op al die lelik en swaarkry!
    Dankie Rika, soms het ‘n mens so ‘n verhaal nodig om anders na jouself en die mense rondom jou te kyk.

  4. Marietjie, omdat ons nie sulke mans ken nie, is so iets vir ons ondenkbaar. Ronelle, ek stuur ook jou woorde aan haar – jy is so reg, so iets maak mens se oë van vooraf oop vir die wrede werklikhede rondom jou en dan kan jy nie genoeg dankie sê vir jou eie seëninge nie.

  5. Net God kan heel maak dit wat mense hande stukkend laat! My hart bloei vir haar en ander met sulke verhale, wens ek kan haar ‘n drukkie gee!!!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s